EFESIËRS 6:5-9
EFESIËRS 6:5-9 Bybel vir almal (ABA)
Slawe, julle moet gehoorsaam wees aan julle eienaars hier op die aarde. Julle moet waarlik altyd gehoorsaam wees aan hulle, soos julle gehoorsaam is aan Christus. Julle moenie net werk wanneer julle eienaars vir julle kyk nie, julle moenie werk sodat mense van julle kan hou nie. Nee, julle moet werk soos slawe van Christus omdat dit vir julle lekker is om te doen wat God wil hê. Julle moet julle werk graag doen. Dit moet vir julle wees soos wanneer julle vir die Here self werk, nie soos wanneer julle vir mense werk nie. Julle moet weet dat die Here goeie dinge sal teruggee vir almal wat goeie dinge doen, dit maak nie saak of hulle slawe of eienaars is nie. En eienaars, julle moet goed wees vir julle slawe. Julle moenie aanhou sê julle sal hulle straf nie. Julle moet weet dat julle en die slawe dieselfde Eienaar in die hemel het, en Hy dink nie een mens is belangriker as 'n ander mens nie.
EFESIËRS 6:5-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus; nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie, omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy 'n slaaf is of 'n vryman. En, here, doen dieselfde teenoor hulle en laat staan die dreigemente, omdat julle weet dat ook julle eie Here in die hemele is en by Hom geen aanneming van die persoon is nie.
EFESIËRS 6:5-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag maar terselfdertyd met 'n opregte hart, asof dit vir Christus is. Moenie net werk om deur julle eienaars raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie; werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen. Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie. Julle weet tog dat die Here elkeen sal beloon as hy iets goeds gedoen het, of hy nou slaaf is of vry. En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid. Hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hulle Here en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie.
EFESIËRS 6:5-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Slawe, wees met vrees en bewing aan julle aardse eienaars gehoorsaam, met opregte harte, soos aan •Christus – nie met lippediens om mense se guns te wen nie, maar as slawe van Christus wat die wil van God van harte doen, terwyl julle met blymoedigheid julle diens verrig, soos vir die Here, en nie vir mense nie. Want julle weet dat elkeen, indien hy iets goeds doen, dit van die Here as loon sal terug ontvang, of hy 'n slaaf is of 'n vryman. En julle, eienaars, tree net so op teenoor die slawe, en staak julle dreigemente, omdat julle weet dat julle en hulle Here in die hemel is, en dat Hy niemand volgens die uiterlike beoordeel nie.
EFESIËRS 6:5-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Diensknegte, wees gehoorsaam aan die wat julle here na die vlees is, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus; Nie met oogdiens, soos mensebehaers nie; maar as dienaars van Christus, wat die wil van God uit die hart doen; Met goeie wil dien soos aan die Here en nie aan mense nie; Omdat hy weet dat enige goeie ding wat iemand doen, dit van die Here sal ontvang, of hy slaaf of vry is. En, here, doen dieselfde dinge aan hulle, sonder om te dreig, omdat julle weet dat julle Meester ook in die hemel is; daar is ook geen respek vir persone by hom nie.
EFESIËRS 6:5-9 Die Boodskap (DB)
As julle slawe is sonder vryheid en aan iemand anders behoort, moet julle na hierdie base van julle luister. Respekteer hulle en behandel hulle met ontsag. Wat julle vir hulle doen, moet julle eerlik en opreg doen, asof julle dit vir Christus doen. Moenie net hard werk as jou baas vir jou kyk om in sy goeie boekies te kom nie. Werk liewer hard omdat julle aan Christus behoort en doen wat God van julle vra so goed julle kan. Julle werk mos nie eintlik vir mense nie, maar vir die Here. Laat dit straal uit alles wat julle doen. Julle weet mos dat God elkeen sal beloon vir die goeie dinge wat hy gedoen het; dit maak nie saak of daardie persoon belangrik is of nie. Vir die base wil ek vra om die mense wat onder hulle werk net so te behandel. Moenie hulle die hele tyd met slegte dinge dreig nie. Onthou dat julle en die mense wat onder julle werk dieselfde Here in die hemel het. Hy trek niemand voor nie, maar behandel almal eenders.
EFESIËRS 6:5-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Slawe, wees gehoorsaam aan julle aardse eienaars. Respekteer en eerbiedig hulle sonder om skynheilig te wees. Gehoorsaam hulle soos julle Christus sou gehoorsaam. Moenie mense probeer tevrede stel deur net gehoorsaam te wees wanneer hulle julle kan sien nie. Nee, werk as slawe van Christus wat met volle oorgawe God se wil doen. Doen julle werk entoesiasties, asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie. Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon, of dit nou slawe is of vry mense. En eienaars, julle moet met dieselfde verantwoordelikheid teenoor julle slawe optree. Hou op om julle slawe te dreig. Julle weet mos dat julle een en dieselfde Eienaar in die hemel het, en dat Hý niemand voortrek nie.