EKSODUS 12:29-51

EKSODUS 12:29-51 Bybel vir almal (ABA)

In die middel van die nag het die Here al die oudste seuns in Egipte laat sterf, almal, die oudste seun van die farao en ook die oudste seuns van die mans in die tronk. Die eerste manlike kleintjies van al die diere het ook gesterf. Die farao en al sy amptenare en al die Egiptenaars het daardie nag wakker geword en almal het baie gehuil, want in elke huis van die Egiptenaars het iemand gesterf. Die farao het daardie nag vir Moses en Aäron geroep en vir hulle gesê: “Julle moet van my mense weggaan, julle en die ander Israeliete. Gaan dien die Here, soos julle gevra het. Neem ook julle skape en bokke en julle beeste, soos julle gevra het. Gaan weg. Dan sal dit met my ook goed gaan.” Die Egiptenaars het vir die Israeliete gesê hulle moet gou weggaan uit die land. Hulle het gesê: “Ons sal almal sterf as julle nie weggaan nie.” Die Israeliete het hulle brood-deeg saamgeneem. Daar was nog nie suurdeeg in die deeg nie. Hulle het hulle skottels toegedraai met hulle klere en hulle het dit op hulle skouers gedra. Die Israeliete het gedoen wat Moses gesê het. Hulle het silwergoed en goue goed en klere vir die Egiptenaars gevra. Die Here het die Egiptenaars vriendelik gemaak met die Israeliete. Die Egiptenaars het alles gegee wat die Israeliete gevra het. So het die Israeliete die Egiptenaars se goed weggedra. Die Israeliete het van die stad Rameses na die stad Sukkot gegaan. Daar was 600 000 mans. Hulle het nie die vroue en kinders ook getel nie. Baie ander mense wat nie Israeliete was nie, het ook saam met hulle getrek. Die Israeliete het baie skape en bokke en beeste saamgeneem. Hulle het ongesuurde brood gebak van die deeg wat hulle saamgebring het uit Egipte. Daar was nie suurdeeg in die brood nie, want die Egiptenaars het hulle uit Egipte weggejaag en daar was nie tyd om padkos te maak nie. Die Israeliete het 430 jaar lank in Egipte gewoon. Presies op daardie dag, toe die 430 jaar verby was, het die Here se hele volk weggegaan. Daardie nag het die Here die Israeliete uit Egipte gebring. Dit is 'n nag wat nou aan die Here behoort. Al die Israeliete en hulle nageslag moet hierdie nag wakker bly en hulle moet die Here eer. Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Julle moet die Paasfees só vier: Net Israeliete mag die Paasfees-kos eet. As iemand 'n slaaf gekoop het en die slaaf is besny, dan mag die slaaf ook die Paasfees-kos eet. Mense wat nie Israeliete is nie en wat vir julle werk of by julle woon, mag nie die Paasfees-kos eet nie. Julle moet die Paasfees-kos eet in die huis waar julle die kos maak. Julle mag nie die vleis uit die huis neem nie. Julle mag nie die dier se bene breek nie. Al die Israeliete moet die Paasfees vier. As 'n vreemdeling by jou woon, en hy wil die Paasfees vir die Here vier, dan moet jy hom eers besny. Jy moet hom en al die mans en seuns in sy huisgesin besny. Dan mag hy ook die fees kom vier. Hy is dan soos 'n Israeliet wat in die land gebore is. Iemand wat nie besny is nie, mag nie die Paasfees-kos eet nie. Julle moet dieselfde wet vir almal gebruik, vir die Israeliete en ook vir die vreemdelinge.” Al die Israeliete het gedoen presies soos die Here vir Moses en Aäron gesê het. Hulle vier die Paasfees nou nog op dieselfde dag wat die Here die Israeliete uit Egipte gebring het toe Hy hulle vrygemaak het.

EKSODUS 12:29-51 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En middernag het die HERE al die eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het, tot die eersgeborene van die gevangene toe wat in die gevangenis was, en al die eersgeborenes van die diere. Toe staan Farao in die nag op, hy en al sy dienaars en al die Egiptenaars, en daar was 'n groot gejammer in Egipte, want daar was geen huis waar geen dooie in was nie. Daarop het hy Moses en Aäron in die nag laat roep en gesê: Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit, julle sowel as die kinders van Israel, en gaan dien die HERE soos julle gespreek het. Neem ook julle kleinvee en julle beeste saam soos julle gespreek het, en gaan weg en seën my ook. En die Egiptenaars het by die volk sterk aangehou — om hulle gou uit die land uit te stuur. Want hulle het gesê: Ons is almal dood! Toe neem die volk hulle deeg voordat dit ingesuur was, met hulle bakskottels, in hulle mantels toegebind, op die skouers. En die kinders van Israel het gehandel volgens die woord van Moses: hulle het van die Egiptenaars silwergoed en goue goed en klere geëis; en die HERE het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars, en dié het hulle versoek ingewillig. So het hulle dan die Egiptenaars berowe. En die kinders van Israel het van Raämses na Sukkot weggetrek, omtrent seshonderdduisend te voet, die manne buiten die kinders. En 'n menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek, en kleinvee en beeste — 'n groot hoeveelheid vee. En hulle het van die deeg wat hulle uit Egipte gebring het, ongesuurde koeke gebak; want dit was nie ingesuur nie, omdat hulle uit Egipte uitgedryf is, sodat hulle nie kon vertoef nie en ook geen padkos vir hulle klaargemaak het nie. En die tyd wat die kinders van Israel in Egipte gewoon het, was vierhonderd-en-dertig jaar. En ná verloop van vierhonderd-en-dertig jaar, op daardie selfde dag, het al die leërskare van die HERE uit Egipteland uitgetrek. Dit is 'n nag om plegtig onderhou te word tot eer van die HERE, omdat Hy hulle uit Egipteland uitgelei het. Dit is dié nag van die HERE om plegtig onderhou te word by al die kinders van Israel in hulle geslagte. VERDER het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Dit is die insetting van die pasga: Géén uitlander mag daarvan eet nie. Maar elke slaaf wat 'n man met geld gekoop het, dié moet hy besny; dan kan hy daarvan eet. Geen vreemde inwoner of huurling mag daarvan eet nie. In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie; en julle mag geen been daarvan breek nie. Die hele vergadering van Israel moet dit hou. En as 'n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos 'n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie. Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef. En al die kinders van Israel het dit gedoen. Soos die HERE Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen. En op daardie selfde dag het die HERE die kinders van Israel, volgens hulle leërafdelings, uit Egipteland uitgelei.

EKSODUS 12:29-51 Afrikaans 1983 (AFR83)

Om middernag het die Here elke eersgeborene van Egipte laat sterf, van die kroonprins af, die eersgeborene van die farao, tot by die eersgeborene van die krygsgevangene in die tronk, selfs die eerstelinge van die diere. Toe die farao, al sy amptenare en al die Egiptenaars dié nag wakker word, het hulle almal bitterlik aan die huil gegaan, want daar was nie 'n enkele Egiptiese huis sonder 'n sterfgeval nie. Dieselfde nag nog het die farao vir Moses en Aäron laat roep en gesê: “Gee pad onder my mense uit, julle twee en al die ander Israeliete! Gaan dien die Here soos julle gevra het! Vat julle kleinvee en julle grootvee soos julle gevra het, en trek! En bid dan dat dit met my ook goed mag gaan.” Die Egiptenaars het sterk by die volk daarop aangedring om gou uit die land pad te gee, “want,” het hulle gesê, “anders is ons almal dood!” Die volk het toe hulle brooddeeg, sonder suurdeeg, in skottels gesit, dit in hulle klere toegedraai en dit so op hulle skouers gedra. Verder het die Israeliete die opdrag van Moses uitgevoer, naamlik om van die Egiptenaars silwer- en goue goed sowel as klere te eis. Die Here het gesorg dat die Egiptenaars aan sy volk goed doen, sodat hulle uit Egipte as buit kon wegdra wát hulle ook al geëis het. Die Israeliete het van Rameses af na Sukkot toe getrek. Behalwe die afhanklikes was daar sowat ses honderd duisend weerbare manne te voet. Daar het ook 'n menigte mense van ander afkoms saamgegaan en ook groot troppe kleinvee en baie beeste. Met die deeg wat hulle uit Egipte saamgebring het, het hulle ongesuurde roosterkoeke gebak: dit was sonder suurdeeg omdat hulle uit Egipte gejaag is en nie kans gehad het om eers vir hulle padkos klaar te maak nie. Die Israeliete was vier honderd en dertig jaar in Egipte. Na vier honderd en dertig jaar, presies op die dag waarop die fees nou gevier word, het die hele volk van die Here uit Egipte weggetrek. Dit was die nag waarin die Here oor hulle gewaak het en hulle uit Egipte bevry het. Daarom behoort dié nag aan die Here en moet alle Israeliete en hulle nageslagte dié nag wakker bly. Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Dit is die voorskrifte in verband met die paasfees: geen nie-Israeliet mag daarvan eet nie; 'n slaaf wat deur iemand gekoop is, mag eers daarvan eet nadat hy besny is; geen bywoner of huurling mag daarvan eet nie. Dit moet geëet word in die huis waarvoor dit bedoel is. Van die vleis mag niks buitentoe geneem word nie. Geen been van die paaslam mag gebreek word nie. Die hele gemeente van Israel is verplig om die fees te vier. Die vreemdeling wat jou beskerming geniet en die paasfees van die Here wil vier, moet besny word, hy en al die mans en seuns by hom. Dan eers is hy soos 'n gebore Israeliet en kan hy daaraan deelneem. Iemand wat nie besny is nie, mag nie daarvan eet nie. Een en dieselfde bepaling moet geld vir die gebore Israeliet en vir die vreemdeling wat julle beskerming geniet.” Al die Israeliete het gedoen presies wat die Here vir Moses en Aäron beveel het. Presies op die dag waarop die fees nou gevier word, het die Here die stamme van Israel uit Egipte bevry.

EKSODUS 12:29-51 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Dit het teen middernag gebeur. Die HERE het alle eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van die farao wat op die troon gesit het tot die eersgeborene van die krygsgevangene in die kerker, ook al die eersgeborenes van die vee. Die farao het in die nag opgestaan, hy, al sy amptenare en al die Egiptenare. Daar was 'n harde geskreeu in Egipte, want daar was nie 'n enkele huis waar daar nie 'n dooie was nie. Hy het Moses en Aäron in die nag ontbied en gesê: “Maak gereed, trek weg onder my volk uit, julle en ook die Israeliete. Gaan dien die HERE soos julle gesê het. Neem julle kleinvee en ook julle grootvee, soos julle gesê het, en gaan! Maar seën my ook!” Die Egiptenare het by die volk daarop aangedring om gou te maak, sodat hulle hulle uit die land kon wegstuur; “want”, het hulle gesê, “almal van ons gaan sterf.” Toe sit die volk die deeg, voor dit nog ingesuur is, op hulle skouers – hulle knieskottels was in hulle kledingstukke toegedraai. Die Israeliete het gemaak soos Moses gesê het, en hulle het van die Egiptenare silwer- en goue voorwerpe en klere geëis. Dit was die HERE wat gesorg het dat die Egiptenare die volk goedgesind is, en die Egiptenare het aan hulle eise toegegee. So het hulle buit geneem van die Egiptenare. Die Israeliete het van Ramses af weggetrek op pad na Sukkot, ongeveer seshonderdduisend man te voet, afgesien van die afhanklikes. Ook 'n groot groep mense van ander afkoms het saam met hulle opgetrek; en ook nog kleinvee en beeste, baie groot troppe vee. Die Israeliete het van die deeg wat hulle uit Egipte saamgeneem het, ongesuurde roosterkoeke gebak, want die deeg was nie ingesuur nie. Omdat hulle uit Egipte weggejaag is, kon hulle nie talm nie, en selfs nie vir hulle padkos voorberei nie. Die tyd wat die Israeliete in Egipte gebly het, was vierhonderd-en-dertig jaar. Aan die einde van vierhonderd-en-dertig jaar, op presies dieselfde dag, het al die leërafdelings van die HERE uit Egipteland weggetrek. Dit was 'n nag waarin die HERE gewaak het om hulle uit Egipteland uit te lei. Daardie nag is 'n nag van waak tot eer van die HERE vir al die Israeliete deur hulle geslagte heen. Die HERE het vir Moses en Aäron gesê: “Dit is die vaste voorskrif vir die Pasga: Geen buitelander mag daarvan eet nie. Maar enige slaaf wat deur iemand met silwer gekoop is, mag, nadat jy hom besny het, daarvan eet. Geen bywoner of huurarbeider mag daarvan eet nie. Dit moet in een huis geëet word. Jy mag nie van die vleis uit die huis na buite neem nie. 'n Been daarin mag julle nie breek nie. Die hele volksvergadering van Israel moet dit vier. “ Wanneer 'n vreemdeling tydelik by jou is, en hy wil die Pasga vier tot eer van die HERE, moet al die manlike persone by hom besny word. Dan mag hy nader kom om dit te vier, en sal hy soos 'n gebore Israeliet wees. Enigiemand wat nie besny is nie, mag daarvan nie eet nie. Dieselfde wet geld vir gebore Israeliete en vir vreemdelinge wat tydelik tussen julle is.” Al die Israeliete het dit gedoen. Soos die HERE aan Moses en Aäron opdrag gegee het, het hulle dit gedoen. Op daardie selfde dag nog het die HERE die Israeliete uit Egipteland uitgelei, leërafdeling vir leërafdeling.

EKSODUS 12:29-51 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit het gebeur dat die HERE middernag al die eersgeborenes in Egipteland getref het, van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het, tot die eersgeborene van die gevangene wat in die kerker was; en al die eersgeborenes van vee. En Farao het in die nag opgestaan, hy en al sy dienaars en al die Egiptenaars; en daar was 'n groot geskreeu in Egipte; want daar was nie 'n huis waar daar nie een dood was nie. En hy het Moses en Aäron in die nag geroep en gesê: Staan op en trek uit onder my volk uit, julle sowel as die kinders van Israel; en gaan dien die HERE soos julle gesê het. Neem ook julle kleinvee en julle beeste, soos julle gesê het, en gaan weg; en seën my ook. En die Egiptenaars het die volk dringend aangedring om hulle haastig uit die land uit te stuur; want hulle het gesê: Ons is almal dooies. En die volk het hulle deeg geneem voordat dit ingesuur is, terwyl hulle deegbakke in hulle klere op hulle skouers vasgebind was. En die kinders van Israel het gedoen volgens die woord van Moses; en hulle het van die Egiptenaars silwergoed en goue juwele en klere geleen. En die HERE het die volk guns gegee in die oë van die Egiptenaars, sodat hulle aan hulle geleen het wat hulle gevra het. En hulle het die Egiptenaars geplunder. En die kinders van Israel het van Raämses af na Sukkot getrek, omtrent seshonderd duisend te voet, manne, buiten die kinders. En 'n gemengde menigte het ook saam met hulle opgetrek; en kleinvee en beeste, ja, baie beeste. En hulle het ongesuurde koeke gebak van die deeg wat hulle uit Egipte gebring het, want dit was nie gesuur nie; omdat hulle uit Egipte gedryf is en nie kon vertoef nie, en hulle het vir hulle geen voedsel voorberei nie. En die verblyf van die kinders van Israel wat in Egipte gewoon het, was vier honderd en dertig jaar. En aan die einde van die vier honderd en dertig jaar, op dieselfde dag, het al die leërskare van die HERE uit Egipteland uitgetrek. Dit is 'n nag wat tot eer van die HERE onderhou moet word omdat Hy hulle uit Egipteland uitgelei het; dit is die nag van die HERE om onderhou te word deur al die kinders van Israel in hulle geslagte. Toe sê die HERE vir Moses en Aäron: Dit is die insetting van die pasga: Geen vreemdeling mag daarvan eet nie. Maar elkeen se dienaar wat vir geld gekoop word, as jy hom besny, dan moet hy daarvan eet. 'n Vreemdeling en 'n dagloner mag nie daarvan eet nie. In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vlees uit die huis uitbring nie; en julle mag daarvan geen been breek nie. Die hele vergadering van Israel moet dit bewaar. En as 'n vreemdeling by jou vertoef en die pasga vir die HERE hou, laat al sy manlike besny word, en laat hom dan nader kom en dit hou; en hy sal wees soos een wat in die land gebore is, want geen onbesnedene mag daarvan eet nie. Een wet moet geld vir die inheemse en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef. So het al die kinders van Israel gedoen; soos die HERE Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen. En dit het gebeur op dieselfde dag dat die HERE die kinders van Israel volgens hulle leërs uit Egipteland uitgelei het.

EKSODUS 12:29-51 Die Boodskap (DB)

Teen middernag het die Here deur Egipte begin trek. Hy het in elke huis die seun wat eerste gebore is, laat doodgaan. Van die oudste seun van die farao wat na hom sou koning word, tot by die oudste seun van die man wat in die tronk sit, is almal dood. Selfs onder die vee het dié wat eerste gebore is, gevrek. Die farao en al sy belangrikste mense en al die mense wat in Egipte bly, het daardie nag uit die bed uit opgestaan. ’n Hartverskeurende gehuil kon deur die hele Egipte gehoor word. Daar was nie een enkele huis waarin daar nie daardie nag iemand dood is nie. Terwyl dit nog nag was, het die farao Moses en Aäron laat kom. Hy het by hulle gepleit: “Loop asseblief weg uit my land uit! Gee tog pad van my volk af, julle en al wat ’n Israeliet is! Loop aanbid die Here soos julle aangehou het om te vra. Vat al julle kleinvee en al julle beeste saam waarop julle so aangedring het om saam met julle te vat. Gaan tog net weg. Moenie my verder iets toewens wat sleg is nie.” Ook al die Egiptenaars het by die volk gepleit dat hulle tog so gou moontlik moet weggaan. “Anders,” het hulle gesê, “sal ons nog almal doodgaan.” Die volk het die deeg wat hulle vir die brood geknie het, net so sonder suurdeeg in broodpanne gesit. Hulle het dit in klere toegedraai en op hulle skouers gesit om dit weg te vat. Die Israeliete het gemaak soos Moses vir hulle gesê het. Hulle het die Egiptenaars gedwing om vir hulle silwer en goue juweliersware en klere te gee. Die Here het gemaak dat die Egiptenaars gewillig was om dit vir hulle te gee. Hulle het nie omgegee om vir die Israeliete alles te gee wat die volk van hulle gevra het nie. Die Israeliete het die Egiptenaars behoorlik kaal uitgetrek. Die Israeliete het te voet van Rameses af begin loop in die rigting van Sukkot. As hulle afhanklikes nie bygereken word nie, was daar altesaam 600 000 mans. Daar het ook ’n hele klomp mense saam met hulle getrek wat nie Israeliete was nie. Daar was ook ’n groot klomp kleinvee en beeste. Hulle het brood gebak met die deeg wat hulle uit Egipte saamgebring het. Daar was nie suurdeeg in nie. Hulle moes so vinnig uit Egipte padgee dat daar nie nog tyd was om eers padkos te maak nie. Die tyd wat Israel in Egipte gebly het, was altesaam 430 jaar. Presies op die dag dat dit 430 jaar was, het die mense van die Here uit Egipte padgegee. Dit was ’n nag om baie lank nog te onthou toe die Here dit laat gebeur het dat hulle uit Egipte kon wegtrek. Dit is ’n nag wat die Israeliete en hulle nageslag vir die Here moet onthou. Die Here het vir Moses en Aäron nog meer reëls vir die paasviering gegee: “As iemand nie ’n Israeliet is nie, mag hy nie saam die paaslam eet nie. ’n Slaaf wat met geld gekoop is, mag daarvan eet, maar hy moet reeds besny wees. Iemand wat net vir ’n tyd in die land bly, of gehuur is om ’n bepaalde stuk werk te doen mag nie saam eet nie. Die paaslam moet in die huis geëet word waar dit geslag is. Daar mag niks van die vleis uit daardie huis weggevat word nie. Die bene van die paaslam moet nie gebreek word nie. Almal in die gemeenskap moet aan die fees deelneem. Wanneer daar buitelanders is wat onder julle woon en hulle wil saam met julle die paasfees van die Here vier, moet al hulle mans eers besny word. Hulle sal dan as Israeliete beskou word wat saam met julle paasfees mag vier. Iemand wat nog glad nie besny is nie, mag ook nie die paasfees eet nie. Presies dieselfde reël moet gebruik word vir die Israeliete as vir die buitelanders wat tussen julle woon.” Die Israeliete het presies net so gemaak soos die Here vir Moses en Aäron gesê het. Die paasfees is die eerste keer gevier op presies dieselfde dag as waarop die Here die families van Israel uit Egipte laat wegtrek het.

EKSODUS 12:29-51 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Teen middernag het die HERE al die Egiptiese seuns wat eerste gebore is, laat sterf, vanaf die farao wat oor die land regeer se oudste seun tot by die oudste seun van die gevangene wat in die tronk sit. Selfs die vee wat eerste gebore is, het gevrek. Die farao, sy amptenare en al die mense van Egipte het in die nag wakker geword en opgestaan. Deur die hele Egipte kon gehoor word hoe mense droewig huil. Daar was nie ’n enkele huis waarin daar nie iemand dood is nie. Gedurende dieselfde nag nog het die farao Moses en Aäron laat roep. “Maak dat julle wegkom!” het hy geskreeu. “Julle en al die Israeliete moet padgee van my volk af. Gaan en dien die HERE soos julle gevra het. Vat julle skape en beeste saam met julle soos julle gevra het en maak dat julle wegkom! Onthou net om my te seën wanneer julle gaan!” Die Egiptenaars het by die volk gesoebat om so gou moontlik uit die land pad te gee, want hulle het gedink: “Ons sal nog almal doodgaan!” Die Israeliete het die brooddeeg waarin daar nie suurdeeg is nie, in broodpanne gesit, in klere toegedraai en dit op hulle skouers saamgevat. Die Israeliete het gemaak soos Moses vir hulle gesê het. Hulle het die Egiptenaars gedwing om vir hulle goue en silwerjuweliersware en klere te gee. Die HERE het die Egiptenaars gewillig gemaak om vir die Israeliete alles te gee wat hulle van hulle geëis het. Israel het Egipte behoorlik geplunder. Die Israeliete het begin loop van Rameses af na Sukkot toe. Buiten die vroue en kinders was daar sowat 600 000 mans. Daar het ook baie mense saamgegaan wat nie Israeliete was nie. Hulle het ook troppe skape en bokke saam met hulle gehad. Hulle het brood gebak met die deeg wat hulle saamgebring het uit Egipte. Daar was nie suurdeeg in nie. Hulle moes so haastig padgee uit Egipte dat daar nie nog tyd was om padkos te maak nie. Die Israeliete het 430 jaar lank in Egipte gebly. Presies aan die einde van die 430 jaar is die HERE se mense uit Egipte weg. Die HERE het hierdie nag gekies om hulle uit Egipte te laat trek. Hierdie nag het aan die HERE behoort. Dit sal vir altyd in Israel onthou word. Die HERE het toe vir Moses en Aäron gesê: “Die reëlings vir die Paasfees is soos volg: Iemand wat nie aan Israel behoort nie, mag nie saam eet nie. ’n Slaaf wat gekoop is, mag wel saam eet, mits hy besny is. Mense wat gehuur word of trekarbeiders mag nie saam eet nie. Dié wat die rammetjie deel, moet dit saam eet in een huis. Julle mag nie van die vleis buitentoe vat nie. Julle moet ook nie sy bene breek nie. Al die Israeliete moet deelneem aan die fees. “As daar ’n buitelander tussen julle is wat aan die fees wil deelneem, moet hy en almal in sy huis wat manlik is, eers besny word. Hulle mag dan saam met julle aan die fees deelneem. Dit sal wees asof hulle tussen julle gebore is. Iemand wat nie besny is nie, mag egter glad nie aan die fees deelneem nie. Dieselfde reël geld vir almal, of hulle nou in Israel gebore is en of dit iemand is wat uit die buiteland by julle kom woon het.” Die Israeliete het toe presies net so gemaak soos die HERE vir Moses en Aäron gesê het. Op dieselfde dag waarop die fees nog tans gevier word, het die HERE die stamme van Israel uit Egipte gelei.