EKSODUS 13:3-5
EKSODUS 13:3-5 Bybel vir almal (ABA)
Moses het vir die volk gesê: “Julle moet altyd hierdie dag onthou, die dag toe julle weggegaan het uit Egipte. Julle was hier slawe, maar die Here het julle met sy groot krag gehelp om weg te gaan van hier. Daarom mag julle in hierdie tyd nie brood eet waarin daar suurdeeg is nie. Julle gaan vandag weg, in die maand Abib. Die Here sal julle bring na die land van die Kanaäniete en die Hetiete en die Amoriete en die Hewiete en die Jebusiete. Hy het vir julle voorvaders belowe dat Hy daardie land vir julle sal gee. Dit is 'n land waar daar baie melk en heuning is. As julle daar kom, dan moet julle elke jaar in hierdie maand die fees vier.
EKSODUS 13:3-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Verder het Moses aan die volk gesê: Dink aan hierdie dag waarop julle uit Egipte, uit die slawehuis, uitgegaan het; want die HERE het julle deur 'n sterke hand hiervandaan uitgelei; daarom mag geen gesuurde brood geëet word nie. Vandag trek julle uit, in die maand Abib. En as die HERE jou bring in die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Hewiete en Jebusiete, wat Hy aan jou vaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning, dan moet jy hierdie diens in hierdie maand onderhou.
EKSODUS 13:3-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moses het vir die volk gesê: “Onthou die dag waarop julle uit Egipte, uit die plek van slawerny, weggetrek het, want dit is deur sy groot mag dat die Here julle daaruit bevry het. Julle mag op dié dag niks met suurdeeg in eet nie. “Julle vertrek vandag, op hierdie besondere dag in die maand Abib. Die Here het met 'n eed aan julle voorvaders belowe om vir julle die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Hewiete en Jebusiete te gee. Wanneer Hy julle bring in die land wat oorloop van melk en heuning, moet julle die volgende verpligting in hierdie maand nakom
EKSODUS 13:3-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Moses het vir die volk gesê: “Herdenk hierdie dag waarop julle uit Egipte, uit die plek van slawerny, weggetrek het; want deur 'n sterk hand het die HERE julle hier uitgelei. Iets wat suurdeeg bevat, mag nie geëet word nie. Vandag, in die maand Abib, trek julle weg. Wanneer die HERE jou bring in die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die •Amoriete, die Hewiete en die Jebusiete, die land wat Hy jou voorvaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning, moet jy in hierdie maand die volgende gebruik handhaaf
EKSODUS 13:3-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê Moses aan die volk: Dink aan hierdie dag waarop julle uit Egipte, uit die slawehuis, uitgetrek het; want deur sterkte van hand het die HERE julle uit hierdie plek uitgelei; geen gesuurde brood mag geëet word nie. Vandag het julle uitgekom in die maand Abib. En dit sal wees wanneer die HERE jou sal bring in die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Hewiete en Jebusiete wat Hy aan jou vaders met 'n eed beloof het om jou te gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning, dat jy hierdie diens in hierdie maand moet onderhou.
EKSODUS 13:3-5 Die Boodskap (DB)
Moses het op sy beurt vir die volk gesê: “Julle moet altyd hierdie dag onthou waarop julle weg is uit Egipte. Julle was slawe in Egipte. Die Here het julle egter met sy groot krag uit hierdie land losgekry. Dit is die dag waarop julle nie brood mag eet wat met suurdeeg gemaak is nie. Hierdie dag val in die maand Abib. Wanneer julle in die land aankom waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Hewiete en Jebusiete op die oomblik bly, moet julle elke jaar op hierdie dag die paasfees vier. Die Here het julle voorouers belowe dat Hy daardie land aan julle sal gee. Dit is ’n baie vrugbare land.
EKSODUS 13:3-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moses het toe vir die volk gesê: “Ons moet altyd hierdie dag onthou waarop ons weg is uit Egipte waar ons slawe was. God het ons met sy groot krag daar uitgelei. (Onthou om nie op hierdie dag iets met suurdeeg te eet nie.) Ons trek weg op ’n dag in die maand Abib. Julle moet altyd gedurende hierdie maand die fees vier wanneer die HERE julle eendag in die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Hewiete en Jebusiete gebring het. Dit is ’n vrugbare land wat die HERE aan ons voorgeslagte belowe het.