EKSODUS 32:5-6
EKSODUS 32:5-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe Aäron dit sien, het hy daarvoor 'n altaar gebou. En Aäron het uitgeroep en gesê: Môre is daar fees tot eer van die HERE. En hulle het die ander dag vroeg klaargemaak en brandoffers geoffer en dankoffers aangebring; daarop het die volk gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel.
EKSODUS 32:5-6 Bybel vir almal (ABA)
Toe Aäron dit sien, het hy 'n altaar voor die beeld gebou en gesê: “Môre vier ons 'n fees vir die Here.” Hulle het vroeg die volgende oggend opgestaan en hulle het brand-offers en ete-offers na die altaar gebring. Die Israeliete het gaan sit om te eet en hulle het wyn gedrink. Daarna het hulle opgestaan en wild feesgevier.
EKSODUS 32:5-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Aäron dit hoor, het hy 'n altaar voor die beeld gebou en uitgeroep: “Môre is daar fees vir die Here!” Vroeg die volgende môre het die volk brandoffers en maaltydoffers geoffer. Daarna het die volk begin feesvier en losbandig te kere gegaan.
EKSODUS 32:5-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Aäron sien wat gebeur, het hy 'n altaar voor die beeld gebou. Aäron roep toe uit en sê: “Môre is daar 'n fees vir die HERE!” Hulle het vroeg die volgende dag opgestaan, •brandoffers geoffer en •maaltydoffers nadergebring. Die volk het gaan sit om te eet en te drink. Toe het hulle opgestaan om hulleself te vermaak.
EKSODUS 32:5-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe Aäron dit sien, het hy 'n altaar daarvoor gebou; en Aäron het uitgeroep en gesê: Môre is dit 'n fees vir die HERE. En hulle het die volgende dag vroeg opgestaan en brandoffers gebring en dankoffers gebring; en die skare het gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel.
EKSODUS 32:5-6 Die Boodskap (DB)
Toe Aäron sien wat hulle doen, het hy ook nog ’n altaar vir offers daar by die beeld gebou. Hy het gesê: “Môre gaan ons fees hou vir die Here!” Vroeg die volgende oggend het hulle toe offers op die altaar begin verbrand en offers begin slag wat vrede moet bring. Later het hulle begin eet en drink. Dit het naderhand in ’n uitspattigheid ontaard.
EKSODUS 32:5-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Aäron dit sien, het hy ook ’n altaar voor die kalf gebou. Hy het aangekondig: “Ons hou môre ’n fees vir die HERE!” Van vroeg die volgende oggend af het hulle brandoffers en vrede-offers gebring. Die volk het geëet en gedrink. Dit het later begin handuit ruk.