EKSODUS 4:18-31
EKSODUS 4:18-31 Bybel vir almal (ABA)
Moses het na sy skoonpa Jetro toe gegaan en hy het vir Jetro gesê: “Ek wil asseblief teruggaan na my mense toe in Egipte, ek wil sien of hulle nog lewe.” Jetro het vir Moses gesê: “Jy mag gaan.” Die Here het vir Moses in Midian gesê: “Gaan terug na Egipte, want die mense wat jou wou doodmaak, is klaar dood.” Moses het sy vrou en sy seuns geneem en hy het hulle op 'n donkie laat ry. Hulle het teruggegaan na Egipte. Moses het die kierie saamgeneem waarmee hy die tekens van God moes doen. Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan na Egipte, dan moet jy voor die farao al die tekens doen wat Ek vir jou geleer het. Maar Ek sal die farao hardkoppig maak, en hy sal julle nie laat gaan nie. Dan moet jy vir die farao sê: ‘Die Here sê: Israel is vir My soos 'n oudste seun, en Ek sê vir jou jy moet my seun laat gaan sodat hy My kan dien. As jy hom nie laat gaan nie, dan sal Ek jou oudste seun doodmaak.’ ” Toe Moses-hulle een nag by 'n plek langs die pad geslaap het, het die Here daarnatoe gekom. Hy wou vir Moses doodmaak. Moses se vrou Sippora neem toe 'n klipmes en sy sny haar seun se voorhuid af en sy raak daarmee aan Moses se voete. Sy het vir Moses gesê: “Jy is my man. Hierdie bloed sal jou beskerm.” Toe sy dit sê, het die Here vir Moses gelos en Hy het Moses nie doodgemaak nie. Sippora het gedink aan die besnydenis toe sy dit gesê het. Die Here het vir Aäron gesê: “Gaan ontmoet vir Moses in die woestyn.” Aäron het gegaan en hy het Moses by die berg van God gekry en hom gesoen. Moses het vir Aäron alles vertel wat die Here vir hom gesê het om te doen. Hy het vir hom ook vertel van al die tekens wat hy moes doen. Moses en Aäron het al die leiers van die Israeliete bymekaar laat kom. Aäron het vir hulle alles vertel wat die Here vir Moses gesê het, en Moses het die tekens voor hulle gedoen. Die leiers het dit geglo. Hulle het gehoor dat die Here gedink het aan die Israeliete en dat Hy jammer is vir hulle. Toe het hulle gekniel en gebid.
EKSODUS 4:18-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE gaan Moses weg en kom by sy skoonvader Jetro terug, en hy sê vir hom: Laat my tog trek en na my broers teruggaan wat in Egipte is, om te sien of hulle nog lewe. En Jetro sê vir Moses: Gaan in vrede. Ook het die HERE vir Moses in Mídian gesê: Gaan heen, keer terug na Egipte; want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood. Moses neem toe sy vrou en sy seuns en laat hulle op 'n esel ry, terug na Egipteland. Moses het ook die staf van God in sy hand geneem. En die HERE sê vir Moses: Nou dat jy wegtrek om na Egipte terug te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat Ek in jou mag gestel het. Maar Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie. Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die HERE: My eersgebore seun is Israel. Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien. Maar jy het geweier om hom te laat trek. Kyk, Ek sal jou eersgebore seun laat sterwe. En op die pad in die herberg het die HERE hom teëgekom en wou hom doodmaak. Toe neem Sippóra 'n skerp klip en sny die voorhuid van haar seun af en gooi dit voor sy voete en sê: Waarlik, jy is vir my 'n bloedbruidegom! En Hy het hom laat staan. Toe het sy gesê: Bloedbruidegom! — met die oog op die besnydenis. Die HERE het ook aan Aäron gesê: Loop Moses tegemoet in die woestyn. En hy het geloop en hom by die berg van God aangetref en hom gesoen. Daarop vertel Moses aan Aäron al die woorde van die HERE waarmee Hy hom gestuur het, en al die tekens wat Hy hom beveel het. En Moses en Aäron het vertrek en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaar laat kom; en Aäron het al die woorde gespreek wat die HERE aan Moses gesê het, en die tekens gedoen voor die oë van die volk. En die volk het geglo. En toe hulle hoor dat die HERE op die kinders van Israel ag gegee en hulle ellende aangesien het, het hulle in aanbidding neergebuig.
EKSODUS 4:18-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna het Moses na sy skoonpa Jetro toe teruggegaan en vir hom gesê: “Ek wil graag teruggaan na my mense toe in Egipte om te sien hoe dit met hulle gaan.” Jetro antwoord hom: “Gaan gerus.” In Midian het die Here aan Moses gesê: “Gaan nou terug na Egipte toe, want al die mense wat jou wou doodmaak, is al dood.” Toe is Moses met sy vrou en kinders na Egipte toe. Hy het sy vrou en kinders op 'n donkie laat ry en die kierie wat God hom gegee het, saamgevat. Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan Egipte toe, moet jy sorg dat jy al die wonderwerke waartoe Ek jou in staat gestel het, voor die farao doen. Maar Ek sal hom hardkoppig maak, en hy sal die volk nie laat gaan nie. Dan moet jy vir die farao sê: So sê die Here: Israel is my oudste seun. Ek het vir jou gesê: Laat my seun gaan sodat hy My kan aanbid. Maar jy het geweier om hom te laat gaan, en nou gaan Ek jou oudste seun doodmaak.” Waar Moses-hulle langs die pad oornag het, het die Here by hom gekom en wou Hy vir Moses doodmaak. Sippora vat toe 'n klipmes, sny haar seun se voorhuid af, raak daarmee aan Moses se voete en sê: “Jy is nou my bruidegom wat deur bloed beskerm word.” Die Here het Moses met rus gelaat net toe sy sê: “bruidegom wat deur bloed beskerm word.” Dit het betrekking op die besnydenis. Intussen het die Here vir Aäron opdrag gegee om Moses in die woestyn tegemoet te gaan. Hy het gegaan en hom by die berg van God aangetref en met 'n soen gegroet. Moses vertel toe vir Aäron van alles waarvoor die Here hom gestuur het, ook van al die tekens wat Hy hom beveel het om te doen. Moses en Aäron het gegaan en al die leiers van die Israeliete bymekaargeroep. Aäron het hulle alles vertel wat die Here vir Moses gesê het, en daarna het Moses die tekens voor die volk gedoen. Hulle het hom geglo. Toe hulle hoor dat die Here die nood van die Israeliete gesien het en Hom hulle lot aangetrek het, het hulle in aanbidding gebuig.
EKSODUS 4:18-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Moses het toe gegaan, en teruggekeer na Jetro, sy skoonvader, en vir hom gesê: “Ek wil graag gaan en na my volksgenote wat in Egipte is, terugkeer, sodat ek kan sien of hulle nog leef.” Jetro sê toe vir Moses: “Gaan in vrede!” Die HERE het vir Moses in Midian gesê: “Gaan terug na Egipte, want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.” Moses neem toe sy vrou en sy seuns, sit hulle op 'n donkie en gaan terug na Egipteland. Moses het die staf van God in sy hand gehad. Die HERE het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan na Egipte, sien toe dat jy al die tekens waartoe Ek jou in staat stel, voor die farao doen. Maar Ek sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie. Dan moet jy vir die farao sê, ‘So sê die HERE: “My eersgebore seun is Israel. Ek het vir jou gesê, ‘Laat my seun gaan, sodat hy My kan dien.’ Maar jy het geweier om hom te laat gaan. Kyk, Ek gaan jou eersgebore seun om die lewe bring. ” ’ ” Op pad, by 'n oornagplek, het die HERE op Moses afgekom en wou hom doodmaak. Sippora neem toe 'n vuurklip en sny haar seun se voorhuid af. Sy het Moses se voete aangeraak en gesê: “Jy is vir my 'n bloedbruidegom. ” Die HERE het hom toe met rus gelaat. Dit is toe dat sy “bloedbruidegom” gesê het, met verwysing na die besnydenis. Die HERE het vir Aäron gesê: “Gaan ontmoet Moses in die woestyn.” Hy het gegaan en op hom afgekom by die berg van God, en hom gesoen. Moses het Aäron ingelig oor al die woorde van die HERE, wat hom gestuur het, en oor al die tekens wat Hy hom beveel het. Moses en Aäron het toe gegaan en al die oudstes van die Israeliete byeengebring. Aäron het al die woorde wat die HERE vir Moses gesê het, herhaal. Moses het al die tekens voor die oë van die volk gedoen, en die volk het geglo. Toe hulle hoor dat die HERE aandag gee aan die Israeliete en dat Hy hulle ellende raakgesien het, het hulle gekniel en in aanbidding gebuig.
EKSODUS 4:18-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Moses het toe gegaan en na sy skoonvader Jetro teruggekeer en vir hom gesê: Laat my tog gaan en teruggaan na my broers wat in Egipte is, en kyk of hulle nog lewe. En Jetro sê vir Moses: Gaan in vrede. Toe sê die HERE vir Moses in Mídian: Gaan, keer terug na Egipte, want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood. Toe neem Moses sy vrou en sy seuns en sit hulle op 'n esel, en hy het na Egipteland teruggekeer; en Moses het die staf van God in sy hand geneem. Toe sê die HERE vir Moses: As jy gaan om na Egipte terug te keer, sorg dat jy al daardie wonders doen voor Farao wat Ek in jou hand gegee het; maar Ek sal sy hart verhard, dat hy die volk nie sal laat trek nie. En jy moet vir Farao sê: So spreek die HERE: Israel is my seun, my eersgeborene. En Ek sê vir jou: Laat my seun gaan, dat hy My kan dien; en as jy weier om hom te laat gaan, kyk, Ek sal jou seun, jou eersgeborene, doodmaak. En terwyl hy verbygaan, kom die HERE hom tegemoet en probeer om hom dood te maak. Toe neem Sippora 'n skerp klip en kap die voorhuid van haar seun af en gooi dit voor sy voete en sê: Waarlik, jy is vir my 'n bloedman. Toe het hy hom laat gaan; toe sê sy: 'n Bloedman is jy vanweë die besnydenis. Toe sê die HERE vir Aäron: Gaan na die woestyn om Moses te ontmoet. En hy het gegaan en hom op die berg van God ontmoet en hom gesoen. Toe het Moses vir Aäron al die woorde van die HERE vertel wat hom gestuur het, en al die tekens wat Hy hom beveel het. En Moses en Aäron het gegaan en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaar laat kom. En Aäron het al die woorde gespreek wat die HERE met Moses gespreek het en die tekens gedoen voor die oë van die volk. En die volk het geglo, en toe hulle hoor dat die HERE die kinders van Israel besoek het en dat Hy hulle ellende gesien het, het hulle hul hoofde gebuig en aanbid.
EKSODUS 4:18-31 Die Boodskap (DB)
Moses het eers teruggegaan na sy skoonpa, Jetro, toe. Hy het vir hom gevra: “Ek wil asseblief teruggaan na my mense in Egipte om te kyk of hulle ooit nog lewe.” “Sekerlik,” het hy gesê, “jy kan gerus maar gaan.” Die Here het reeds in Midian vir Moses die versekering gegee: “Jy kan maar teruggaan Egipte toe. Die mense wat na jou gesoek het om jou dood te maak, leef lankal nie meer nie.” Moses het sy vrou en sy seun bymekaargemaak. Hulle is op donkies daar weg, terug Egipte toe. Hy het die stok waaroor God met hom gepraat het, in sy hand vasgehou. Die Here het vir Moses ’n opdrag gegee: “Wanneer jy terug is in Egipte, moet jy na die farao van die land toe gaan. Jy moet voor hom al die wondertekens doen wat Ek vir jou gegee het om te doen. Ek sal die farao egter hardkoppig maak. Hy sal weier om die volk te laat trek. Jy moet dan vir hom sê: ‘Die Here sê: Israel is my oudste seun, my seun wat eerste gebore is. Ek het jou laat weet dat jy my seun moet toelaat om te gaan om My in die woestyn te aanbid. Jy het geweier om hom te laat gaan. Ek gaan daarom nou jóú oudste en eerste seun laat doodgaan.’” Die Here het op Moses afgekom waar hy die nag langs die pad geslaap het. Die Here wou hom doodmaak. Sy vrou Sippora vat toe ’n mes wat van klip gemaak was en besny haar seun. Sy gooi toe die velletjie wat sy van haar seun afgesny het voor Moses se voete neer met die woorde: “Jy is my bruidegom. Jy word met bloed beskerm.” Toe sy sê “bruidegom wat met bloed beskerm word” het sy na die besnydenis verwys. Die Here het Moses toe laat staan. Die Here het vir Aäron gesê hy moet vir Moses in die woestyn gaan ontmoet. Hy het toe by die berg van God op hom afgekom. Hy het hom gegroet en hom teen die wang gesoen. Moses vertel toe vir Aäron alles, van hoe die Here hom gestuur het en die wondertekens wat Hy hom gegee het om te doen. Moses en Aäron het toe gegaan en die leiers van Israel bymekaar laat kom. Aäron het vir hulle al die dinge verduidelik wat die Here vir Moses gesê het. Moses het die wondertekens vir hulle gedoen. Die volk het hulle toe geglo. Toe hulle hoor dat die Here die Israeliete gaan help omdat Hy hulle nood raakgesien het, het hulle op hulle knieë geval en tot die Here gebid.
EKSODUS 4:18-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moses het teruggegaan na sy skoonpa, Jetro, toe. Hy het hom gevra: “Ek wil asseblief teruggaan na my familie in Egipte. Ek weet nie eers of hulle nog leef nie.” “Jy kan met graagte gaan,” het Jetro vir Moses gesê. Terwyl Moses nog in Midian was, het die HERE vir hom gesê: “Moenie bang wees om na Egipte toe terug te gaan nie. Almal wat jou wou doodmaak, is alreeds dood.” Moses het toe sy vrou en seuns bymekaargekry, hulle op ’n donkie laat klim en die reis terug na Egipte toe begin. Hy het die herderstok, waaroor God met hom gepraat het, in sy hand gehou. Die HERE het weer vir Moses gesê: “Wanneer jy terug is in Egipte, moet jy na die farao toe gaan. Doen dan die tekens wat Ek jou geleer het. Ek sal hom hardkoppig maak. Hy sal weier om die volk te laat trek. Dan moet jy vir hom sê: ‘So sê die HERE: Israel is my oudste seun. Ek het jou beveel om my seun toe te laat om te gaan om My te aanbid. Jy het egter geweier om hom te laat gaan; daarom gaan Ek nou jou oudste seun doodmaak.’” Moses en sy gesin het langs die pad oorgeslaap. Die HERE het na Moses toe gekom om hom dood te maak. Sy vrou, Sippora, het ’n skerp mes gevat en haar seun se voorvelletjie daarmee afgesny. Sy het dit teen Moses se geslagsdeel gedruk en vir hom gesê: “Jy is nou my bruidegom wat met bloed beskerm word.” (Toe sy Moses ’n “bruidegom wat met bloed beskerm word” genoem het, het sy na die besnydenis verwys.) Die HERE het hom hierna met rus gelaat. Die HERE het vir Aäron gesê: “Gaan ontmoet Moses in die woestyn.” Aäron het gegaan en Moses by die berg van God teëgekom. Hy het hom omhels. Moses het vir Aäron alles vertel van die opdrag wat die HERE hom gegee het en die tekens wat hy moes doen. Moses en Aäron is toe terug na Egipte waar hulle al die leiers van die Israeliete bymekaargeroep het. Aäron het vir hulle van alles vertel wat die HERE vir Moses gesê het. Terwyl hulle toekyk, het Moses die tekens gedoen. Die leiers was dadelik oortuig dat die HERE Moses en Aäron gestuur het. Hulle het almal hulle koppe gebuig en op hulle knieë gegaan toe hulle hoor dat die HERE bekommerd is oor Israel en hulle ellende raakgesien het.