ESEGIËL 1:10-11
ESEGIËL 1:10-11 Bybel vir almal (ABA)
Elke dier het vier gesigte gehad. Voor was die gesig van 'n mens, regs was die gesig van 'n leeu, links was die gesig van 'n bul en agter was die gesig van 'n arend. Elke dier se boonste vlerke was oop en dit het geraak aan die vlerke van die twee diere links en regs langs hom. Met die ander twee vlerke het elke dier sy lyf toegemaak.
ESEGIËL 1:10-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hulle aangesigte het gelyk soos die gesig van 'n mens; en al vier het die gesig van 'n leeu gehad aan die regterkant en al vier het die gesig van 'n bees aan die linkerkant; ook het al vier die gesig van 'n arend gehad. En hulle vlerke het uitgesprei na boontoe; elkeen het twee gehad wat met mekaar verbind was, en twee wat hulle liggame bedek het.
ESEGIËL 1:10-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Elkeen het vier gesigte gehad. Die vorms van hulle gesigte was so: voor dié van 'n mens, regs dié van 'n leeu, links dié van 'n bul, en agter dié van 'n arend. Elke wese het dus vier gesigte gehad. Sy twee boonste vlerke was oopgesprei en het aan dié van die wesens weerskante geraak; met die twee ander vlerke het hy sy lyf bedek.
ESEGIËL 1:10-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat die voorkoms van hulle gesigte betref: Elkeen van die vier het die gesig van 'n mens gehad, die gesig van 'n leeu aan die regterkant, die gesig van 'n bul aan die linkerkant, en die gesig van 'n arend. So was hulle gesigte. Hulle vlerke was oopgesprei na bo, elkeen met twee vlerke wat aan dié van die ander raak, en twee vlerke wat die liggaam bedek.
ESEGIËL 1:10-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wat die gelykenis van hulle aangesigte betref, hulle vier het die gesig van 'n man gehad en die gesig van 'n leeu aan die regterkant; en hulle vier het die gesig van 'n bees aan die linkerkant gehad; hulle vier het ook die gesig van 'n arend gehad. So was hulle aangesig, en hulle vlerke was boontoe gespan; elkeen se twee vlerke was aan mekaar verbind, en twee het hulle liggame bedek.
ESEGIËL 1:10-11 Die Boodskap (DB)
Die vier gesigte wat elke lewende wese gehad het en wat in elke windrigting gewys het, was dié van die sterkste in die diere- en voëlryk. Die gesig aan die voorkant het gelyk soos dié van ’n mens. Die gesig aan die regterkant het weer gelyk soos dié van ’n leeu. Die gesig aan die linkerkant was dié van ’n bul, en die gesig aan die agterkant het gelyk soos dié van ’n arend. Die vier gesigte was tekens van God se magtige teenwoordigheid. Elke lewende wese het met sy twee boonste vlerke aan die vlerke van die lewende wesens aan weerskante van hom geraak. Die ander twee vlerke was toegevou, en daarmee het die lewende wese homself bedek.
ESEGIËL 1:10-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Elkeen het die gesig van ’n mens na voor gehad, die gesig van ’n leeu aan die regterkant, die gesig van ’n bees aan die linkerkant en die gesig van ’n arend aan die agterkant. Elkeen het ook twee pare uitgestrekte vlerke gehad. Met een paar vlerke het hulle geraak aan die ander een wat langs hulle staan. Met die ander paar het hulle hulleself toegemaak.