ESEGIËL 28:12-19
ESEGIËL 28:12-19 Bybel vir almal (ABA)
“Mens, jy moet 'n klaaglied begin sing oor die koning van die stad Tirus. Jy moet vir hom sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Jy was op 'n baie mooi seël, jy was vol wysheid en jy was so mooi soos die mooiste mens. Jy was in Eden, die godetuin, en jou klere was van al die kosbare edelstene: karneool, topaas, jaspis, chrisoliet, oniks, opaal, saffier, turkoois en smarag. Ek het jou tamboeryne van goud gemaak en Ek het jou uit goud gesny. Dit is hoe Ek jou gemaak het. Jy het gelyk soos 'n gerub, jou vlerke was oop en jy moes die tuin beskerm. Ek het jou op die heilige godeberg gesit. Jy het daar tussen die blink edelstene geloop. Jy het heeltemal reg gelewe vandat Ek jou gemaak het. Maar toe het jy begin om verkeerd te doen. Jy het meer en meer goed gekoop en verkoop, maar jy het ook meer en meer slegte dinge aan jou mense gedoen. Jy het sonde gedoen, en daarom het Ek jou weggevat van die godeberg. Jy was die gerub wat die tuin moes beskerm, maar Ek het jou weggevat tussen die blink edelstene. Jy het hoogmoedig geword omdat jy mooi was, jy het jou wysheid verloor toe die lig om jou geskyn het. Ek het jou op die grond gegooi voor die konings en Ek het jou daar laat lê sodat hulle jou kon sien. Jy het baie verkeerde dinge gedoen, jy was baie onregverdig toe jy goed gekoop en verkoop het. So het jy jou tempels ontwy. Daarom het Ek vuur in jou laat kom, en dit het jou gebrand, jy het as geword op die grond. Almal kon dit sien. Al die volke wat jou geken het, het geskrik toe hulle sien wat gebeur het met jou. Jy het baie wreed gesterf, jy sal nooit weer lewe nie.”
ESEGIËL 28:12-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Mensekind, hef 'n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here HERE: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei. Jy was 'n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op 'n heilige berg; 'n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is. Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut! Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien. Weens die menigte van jou ongeregtighede, deur die onreg van jou koophandel, het jy jou heiligdomme ontheilig; daarom het Ek 'n vuur uit jou binneste laat uitgaan; dit het jou verteer, en Ek het jou tot as gemaak op die aarde voor die oë van almal wat jou gesien het. Al jou bekendes onder die volke is ontsteld oor jou; jy het 'n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.
ESEGIËL 28:12-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Mens, sing 'n treurlied oor die koning van Tirus. Sê vir hom: So sê die Here my God: “Jy was 'n seël wat met sorg vervaardig is, 'n pragtige produk van volmaakte vakmanskap: jy is uitgebeeld in die godetuin Eden, omring deur kosbare edelstene: karneool, topaas, jaspis, chrisoliet, oniks, opaal, saffier, turkoois, smarag, en die reliëfwerk aan jou was van goud. So is jy gemaak die dag toe jy geskep is. Jy is uitgebeeld as die gerub wat met uitgestrekte vlerke moes waghou, Ek het jou die opdrag gegee. Jy was op die heilige godeberg, daar het jy rondgestap tussen glinsterende edelstene. Jou optrede was onbesproke vandat jy geskep is totdat jy begin onreg doen het. Jou uitgebreide handelsbedrywigheid het geweld deel van jou lewe gemaak en jou laat sondig. “Daarom het Ek jou verstoot van die godeberg af, Ek het jou, gerub wat moes waghou, tussen die glinsterende edelstene uit verwyder. Jou prag het jou hooghartig laat word, jou stralende glans het jou jou wysheid laat verloor. Ek het jou op die grond gegooi, jou daar voor ander konings laat lê dat hulle jou kon bekyk. “Met jou baie oortredings, met die onreg in jou handel, het jy jou heiligdomme ontwy. Daarom het Ek 'n vuur uit jou laat kom wat jou verteer het. Ek het jou 'n hopie as op die grond laat word voor die oë van almal wat toegekyk het. Almal onder die volke wat jou geken het, is skrikbevange oor wat met jou gebeur het. Jy het 'n afskrikmiddel vir ander geword, dit is vir altyd klaar met jou.”
ESEGIËL 28:12-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Mensekind, hef 'n treurlied aan oor die koning van Tirus en sê vir hom, ‘So sê my Heer, die HERE: “Jy was die toonbeeld van voortreflikheid, vol wysheid, volmaak in skoonheid. In Eden, die tuin van God, daar was jy. Jy was bedek met alle soorte edelstene: •karneool, •topaas, •akwamaryn, •chrisoliet, •oniks, •jaspis, •lasuursteen, •malagiet en •smarag. Van goud was die insetsels en graverings aan jou bedekking. Die dag toe jy geskep is, was dit gereed by 'n glansende gerub met vlerke wat beskutting bied. Ek het jou daar geplaas; op die heilige berg van gode was jy; tussen klippe van vuur het jy rondgestap. Onberispelik was jy in jou optrede vanaf die dag dat jy geskep is, totdat onreg in jou ontdek is. Deur jou uitgebreide handel is jou binneste met geweld gevul; jy het gesondig. Ek het jou as 'n onheilige uitgewerp, weg van die godeberg af. 'n Gerub met vlerke wat beskut, het jou tussen die klippe van vuur uit verdryf. Jou hart het hoogmoedig geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid nutteloos gemaak oor jou skitterende prag. Op die grond het Ek jou neergegooi; voor konings het Ek so met jou gemaak dat hulle hulle in jou kan verlustig. Oor jou baie sondeskuld weens jou onregmatige handelspraktyke, het jy jou heiligdomme ontheilig. Ek het vuur uit jou binneste laat kom; dit het jou verteer. Ek het jou soos as op die grond gemaak voor die oë van almal wat na jou kyk. Almal onder die volke wat jou geken het, was verslae oor jou. Jy het 'n verskrikking geword, jy sal nooit weer bestaan nie.” ’ ”
ESEGIËL 28:12-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Mensekind, hef 'n klaaglied aan oor die koning van Tirus en sê vir hom: So spreek die HERE HERE; U verseël die som vol wysheid en volmaak in skoonheid. Jy was in Eden, die tuin van God; elke edelgesteente was jou bedekking, die sardius, topaas en die diamant, die beriel, die oniks en die jaspis, die saffier, die smarag en die karbonkel en goud; in jou op die dag dat jy geskape is. U is die gesalfde gérub wat bedek; en Ek het jou so gestel: jy was op die heilige berg van God; jy het op en af geloop tussen die vuurklippe. U was volmaak in u weë van die dag af dat u geskape is, totdat ongeregtigheid in u gevind is. Deur die menigte van jou koopware het hulle jou midde met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom sal Ek jou as onheiliges van die berg van God af verwerp; en Ek sal jou verdelg, o bedekkende gérub, uit die midde van die klippe van vuur. Jou hart is verhewe vanweë jou skoonheid, jy het jou wysheid verderf deur jou glans; Ek sal jou op die grond gooi, Ek sal jou voor konings neerlê, dat hulle jou kan aanskou. U het u heiligdomme verontreinig deur die menigte van u ongeregtighede, deur die ongeregtigheid van u handeldryf; daarom sal Ek 'n vuur uit jou midde laat voortkom, dit sal jou verteer, en Ek sal jou tot as op die aarde bring voor die oë van almal wat jou aanskou. Al die wat jou onder die volke ken, sal oor jou verstom staan; jy sal 'n verskrikking wees en jy sal nooit meer wees nie.
ESEGIËL 28:12-19 Die Boodskap (DB)
“Mens, huil oor die koning van Tirus asof hy doodgegaan het. Gaan sê vir hom die Here, jou God, sê oor hom: Jy was volmaak. Jy was so slim. En jy was so mooi. Jy het in die tuin van Eden gebly. Dit was die tuin waar God by mense gaan kuier het. Jou klere was die mooiste en die beste wat ’n mens kan kry. Jy het die duurste edelstene gedra. Jy was skatryk. Hulle het vir jou al hierdie skatte gegee die dag toe jy geskep is. Ek het jou daardie dag aangestel om die leier van my boodskappers in die hemel te wees. Jy moes hulle saam met My oppas. Jy kon enige tyd na My toe kom, niemand het jou gekeer nie. Ja, jy het rondgeloop waar Ek was, en waar alles skoon was. “Jy het niks ooit verkeerd gedoen nie. Jy het reg gelewe en goedgedoen, tot daardie dag dat jy die slegte dinge begin doen het. Jy het die slegte begin doen omdat jy so ryk was. Jy het groot mag oor mense gehad. Toe het jy verkeerde dinge begin doen. Daarom het Ek jou weggejaag sodat jy nooit weer voor My mag kom nie. Jy was die magtige boodskapper wat my huis in die hemel moes oppas, maar Ek het jou weggejaag. Jy sal nie weer kom waar Ek is nie omdat dit daar te skoon vir jou is. “Jy het so trots op jouself geword omdat jy mooi en slim en ryk was. En toe het jy skelm geword sodat jy nog meer geld in die hande kon kry. Jy het almal om jou belieg en bedrieg. Daarom het Ek jou uit die hemel gegooi. Ek het jou op die aarde neergegooi. Die heersers en belangrike mense op die aarde het gekyk hoe jy verneder word. Jy het alles rondom jou vuil gesmeer. Jy het almal met wie jy besigheid gedoen het, bedrieg. Daarom het Ek ’n vuur binne-in jou aan die brand gesteek. En hierdie vuur sal jou verteer. Ek sal jou tot as verbrand. En al die mense van die aarde sal kyk hoe Ek dit doen. Al die mense wat jou op aarde geken het, sal skrik en bewe as hulle sien wat met jou gebeur. Ek maak jou ’n voorbeeld sodat hulle nie sal doen wat jy gedoen het nie. Ek maak ’n verskriklike einde aan jou. Jy sal nie meer bestaan nie!”
ESEGIËL 28:12-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Mensekind, sing ’n begrafnislied oor die koning van Tirus. Sê vir hom die oppermagtige HERE sê: Jy het wysheid en prag vervolmaak. Jy was in Eden, die tuin van God. Jou klere was versier met kosbare stene: robyn, topaas, jaspis, chrisoliet, oniks, opaal, saffier, turkoois, en smarag. Hulle was almal in goud geset. Jy het dit gekry die dag toe jy gemaak is. Jy is aangestel as die gerub wat alles oppas. Ek het dit so bepaal. Jy was op die heilige berg van God. Tussen glinsterende edelstene het jy rondgestap. “Jy was onbesproke in alles wat jy gedoen het, vanaf die dag dat jy geskep is tot op die dag toe boosheid in jou gevind is. Jou uitgebreide handelsbetrekkinge het jou gewelddadig gemaak en jou laat sondig. Daarom het Ek jou verban van die godeberg af. Ek het jou verdryf, o gerub wat moes waghou! Ek het jou verwyder van tussen die glinsterende edelstene. “Jy het trots geword oor jou prag. Jou aansien het veroorsaak dat jy jou wysheid verloor het. Daarom het Ek jou op die aarde neergegooi, voor konings wat toekyk. Met jou sondes en oneerlike handelspraktyke het jy jou heiligdomme besoedel. Daarom brand Ek jou af tot net as sal oorbly, terwyl almal toekyk. Almal wat jou geken het, staan verstom oor wat met jou gebeur het. ’n Verskriklike einde het jou getref, en jy bestaan nie meer nie.”