ESEGIËL 47:1-12
ESEGIËL 47:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die man met die meetstok het my teruggebring na die ingang van die tempel toe. Toe sien ek daar kom water onder die tempel se drumpel uit aan die oostekant. Die tempel het oos gekyk. Die water het regs van die tempel weggeloop, suid van die altaar verby. Die man vat my toe by die noordpoort uit en om na die buitenste oospoort toe. Daar syfer die water toe regs langs die poort uit. Die man het oos gestap en met die maatlyn wat hy by hom gehad het vyf honderd meter afgemeet van die oospoort af. Toe laat hy my deur die water loop. Dit was enkeldiep. Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit was kniediep. Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit het tot by my heupe gekom. Toe meet hy nog vyf honderd meter, maar toe was die water 'n stroom waar ek nie kon deur nie. Die water was diep, sodat 'n mens sou moes swem; dit was 'n stroom waar 'n mens nie deur kon loop nie. Die man sê toe vir my: “Sien jy dit, mens?” Hy laat my toe al langs die stroom terugstap. Terwyl ek so terugstap, sien ek daar staan groot, hoë bome weerskante op die stroom se wal. Die man het vir my gesê: “Hierdie water loop weg na die streek oos toe en af na die Jordaanvallei toe waar dit in die Dooie See sal inloop. Wanneer dit in die Dooie See inloop, sal die water van die Dooie See vars word. Waar die stroom ook kom, sal dit wemel van al die soorte diere en sal daar baie vis wees. Die water loop af na die Dooie See toe en sal die see vars maak. Waar die stroom kom, sal alles lewe. Daar sal vissers langs die Dooie See staan van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Dit sal 'n plek wees waar hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Groot See, en net so baie. Net die water in die moerasse en kuile langs die Dooie See sal nie vars word nie. Hulle moet sout bly. Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring.”
ESEGIËL 47:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die man het my teruggeneem na die ingang van die •tempel. Kyk, water het onder die drumpel van die tempel uitgestroom aan die oostekant, die voorkant van die tempel was immers aan die oostekant. Die water het onder die tempel uit, aan die regterkant, suid van die altaar, afgevloei. Hy het my deur die noordelike poort uitgeneem en my buite-om laat gaan na die buitepoort wat oos front. Kyk, water het uitgeborrel aan die regterkant. Toe die man in 'n oostelike rigting wegstap, was daar 'n maatlyn in sy hand. Hy het duisend el afgemeet en my die water laat oorsteek – water wat enkeldiep was. Hy het nog 'n duisend afgemeet en my die water laat oorsteek – water wat kniediep was. Hy het duisend el afgemeet en my laat oorsteek – water wat heupdiep was. Hy het nog 'n duisend afgemeet – 'n stroom wat ek nie kon oorsteek nie. Ja, die water het gestyg – water waarin 'n mens kon swem, 'n stroom wat nie oorgesteek kon word nie. Hy het vir my gevra: “Sien jy dit, mensekind?” Hy het my weer na die stroom se wal laat terugkeer. Toe ek weer terug is daar, kyk, toe is daar op die stroom se walle 'n groot aantal bome, aan albei kante. Die man sê toe vir my: “Hierdie water vloei weg na die oostelike streek, en loop dan af na die Araba, en kom by die see uit. In die see waar dit uitvloei, word die water vars. Daar sal allerhande lewende wesens wees wat krioel – oral waar die stroom kom, sal hulle leef; en daar sal groot hoeveelhede vis wees. Want waar hierdie water kom, sal die soutwater vars word. Alles sal leef waar die stroom kom. Daar sal vissers langs die see staan, van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Daar sal droogmaakplekke vir sleepnette wees. Daar sal geweldig baie soorte vis wees, net soos die vis in die Groot See. “Sy moerasse en kuile sal egter nie vars word nie; vir soutontginning is dit bestem. Aan weerskante van die stroom, op sy walle, sal allerhande vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verwelk nie, en hulle vrugte sal nie opraak nie. Elke maand sal hulle nuwe vrugte dra, want dit is uit die heiligdom wat hulle water vloei. Hulle vrugte sal as voedsel dien en hulle blare tot genesing.”
ESEGIËL 47:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Die man het my teruggebring na die deur van die tempel, en daar kom toe water uit onder die tempel se drumpel! Die water het oos gevloei, want die tempel se voorkant was by die oostekant. Die water het regs van die tempel weggevloei, suid van die altaar. Toe bring die man my deur die buitenste noord-poort en hy laat my buite-om loop na die buitenste oos-poort. En daar, regs van die poort, het 'n klein bietjie water gevloei. Die man het na die oostekant geloop. Hy het 'n maatlyn in sy hand gehad en hy het 1 000 el gemeet. Toe het hy my deur die water laat loop. Die water het tot by my enkels gekom. Toe meet die man nog 1 000 el en hy laat my deur die water loop. Die water het tot by my knieë gekom. Toe meet hy nog 1 000 el en hy laat my deur die water loop. Die water het tot by my heupe gekom. Toe meet hy nog 1 000 el, en toe was dit 'n rivier, ek kon nie daardeur gaan nie. Die water was so diep dat ek sou moes swem. Dit was 'n rivier, 'n mens kon nie daardeur loop nie. Die man sê toe vir my: “Mens, het jy dit gesien?” Hy het my op die wal van die rivier laat terugloop. Terwyl ek terugloop, het ek gesien daar is baie groot bome op die wal van die rivier, langs altwee kante. Die man het vir my gesê: “Hierdie water vloei na die oostekant van die land, dit vloei af na die Jordaan-vallei en dit sal in die Dooie See vloei. Die Dooie See se water vloei nie weer uit nie. Die rivier se water sal die Dooie See se water vars laat word, dit sal nie sout wees nie. Oral waar die rivier vloei, sal daar baie diere wees, al die soorte diere en baie visse. Wanneer hierdie water in die see kom, dan sal die see se water vars word. Waar die rivier se water kom, daar sal alles lewe. Vissermanne sal langs die see staan van En-Gedi tot by En-Eglajim. Dit sal 'n plek wees waar hulle die visnette droogmaak. Daar sal so baie verskillende soorte visse wees soos in die Middellandse See, en daar sal báie visse wees. Maar die water in die vleie en die watergate langs die see sal nie vars word nie. Daardie water moet sout bly. Op die walle langs altwee kante van die rivier sal al die verskillende soorte vrugtebome groei. Hulle blare sal nie droog word en verlep nie en daar sal altyd vrugte aan die bome wees. Die bome sal elke maand nuwe vrugte dra, want hulle staan by water wat van die tempel kom. Die mense sal die vrugte eet en hulle sal die blare gebruik, dit sal medisyne wees vir hulle.”
ESEGIËL 47:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAARNA het hy my teruggebring na die ingang van die huis, en kyk, daar het waters uitgestroom onder die drumpel van die huis uit, na die ooste toe; want die voorkant van die huis was na die ooste toe; en die waters het weggevloei onder die regtersymuur van die huis uit, suid van die altaar. En hy het my uitgebring deur die noordpoort en my buitekant om laat gaan na die buitenste poort wat na die ooste kyk; en kyk, die waters het gekabbel uit die regtersymuur uit. Toe die man na die ooste uitgegaan het met 'n meetsnoer in sy hand, het hy duisend el gemeet; en hy het my deur die waters laat deurgaan — waters tot aan die enkels. Toe het hy nog duisend gemeet en my deur die waters laat deurgaan — waters tot aan die knieë; en hy het nog duisend gemeet en my laat deurgaan — waters tot aan die heupe. Verder het hy nog duisend gemeet — 'n stroom wat ek nie kon deurgaan nie! Want die waters het opgerys — waters om in te swem, 'n stroom waar 'n mens nie deur kan loop nie. En hy het vir my gesê: Het jy dit gesien, mensekind? Toe het hy my weer terug laat loop aan die kant van die stroom. Terwyl ek teruggaan, kyk, toe het ek aan die kant van die stroom 'n menigte bome gesien, aan altwee kante. En hy het vir my gesê: Hierdie waters vloei weg na die oostelike landstreek en loop in die Vlakte af en gaan na die see; in die see word dit uitgelei, sodat die waters daarvan gesond kan word. En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe; en daar sal 'n menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen gekom het; en dié waters sal gesond word, en alles sal lewe waar die stroom kom. Ook sal vissers daaraan staan, van Éngedi af tot by En-Eglaim: 'n droogmaakplek vir die nette sal dit wees; na hulle soorte sal daar visse in wees soos die visse van die Groot See, 'n menigte. Die moerasse en kuile daarvan — húlle sal nie gesond word nie: vir sout is hulle bestem. En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan — uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.
ESEGIËL 47:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarna het hy my teruggebring na die deur van die huis; en kyk, daar het waters uitgekom van onder die drumpel van die huis uit na die ooste; want die voorkant van die huis het na die ooste gestaan, en die waters het van onder af gekom van die regterkant van die huis, aan die suidekant van die altaar. Daarop het hy my uit die pad van die poort na die noorde gebring en my op die pad na buite gelei na die buitenste poort met die pad wat na die ooste kyk; en kyk, daar het waters aan die regterkant uitgevloei. En toe die man wat die lyn in sy hand gehad het, ooswaarts uitgegaan het, het hy duisend el gemeet, en hy het my deur die water gebring; die waters was tot by die enkels. Hy het weer duisend gemeet en my deur die water gebring; die waters was tot by die knieë. Weer het hy duisend gemeet en my deurgebring; die waters was tot by die lendene. Daarna het hy duisend gemeet; en dit was 'n rivier waaroor ek nie kon verbygaan nie, want die waters het opgestyg, waters om in te swem, 'n rivier waaroor nie deurgetrek kon word nie. En Hy sê vir my: Mensekind, het jy dit gesien? Toe het hy my gebring en my na die rand van die rivier laat terugkeer. En toe ek terugkom, kyk, op die oewer van die rivier was daar baie bome aan die een kant en aan die ander kant. Toe sê hy vir my: Hierdie waters vloei uit na die oostelike land en gaan af in die woestyn en gaan in die see; En dit sal gebeur dat alles wat lewe, wat beweeg, waar die riviere ook al kom, sal lewe; en daar sal 'n baie groot menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen sal kom, want hulle sal genees word; en alles sal lewe waar die rivier kom. En dit sal gebeur dat die vissers daarop sal staan van Engedi tot by Eneglaim; hulle sal 'n plek wees om nette uit te sprei; hulle visse sal wees volgens hulle soorte, soos die visse van die Groot See, uitermate baie. Maar sy modderige plekke en sy vleie sal nie genees word nie; hulle sal aan sout gegee word. En by die rivier aan die wal daarvan, aan weerskante en anderkant, sal al die bome groei om te eet, waarvan die blare nie sal verwelk en die vrugte daarvan nie verteer sal word nie; dit sal nuwe vrugte voortbring volgens sy maande, want hulle water het hulle uit die heiligdom laat uitloop, en die vrugte daarvan moet as spys wees en sy blare as medisyne.
ESEGIËL 47:1-12 Die Boodskap (DB)
Die man wat die opmetings moes doen, het my toe weer teruggebring na die ingang van die huis van die Here toe. Toe sien ek iets snaaks. Daar het water onder die huis van die Here uitgekom, aan die oostekant daarvan. Die water het regs van die huis van die Here weggeloop, suid van die altaar verby. Die man vat my toe aan die hand. Hy lei my by die ingang aan die noordekant van die huis van die Here uit, en om na die buitenste ingang aan die oostekant toe. Daar syfer die water toe regs langs die ingang uit. Die man het na die oostekant toe gestap. Met sy liniaal het hy 500 meter afgemeet van hierdie ingang af. Toe wys hy vir my ek moet deur die water loop. Die water het tot by my enkels gekom. Toe het hy nog 500 meter verder afgemeet. Hy het gaan staan en ek moes weer deur die water gaan. Hier het die water tot by my knieë gekom. Die man het toe nog 500 meter verder afgemeet, en ek moes weer deur die water loop. Hier het die water tot by my heupe gekom. Toe meet hy nog 500 meter verder af. Maar hier was die water ’n diep stroom. Ek kon nie daardeur loop nie. Die water was so diep dat ’n mens sou moes swem. Die man sê toe vir my: “Het jy opgelet wat gebeur het?” Toe stap ek saam met hom al langs die stroom terug tot by die huis van die Here. Terwyl ons terugstap, sien ek daar staan groot, hoë bome aan weerskante van die stroom, al langs die wal van die rivier. Die man het toe vir my verduidelik: “Hierdie water wat onder die drumpel van die huis van die Here uitkom, loop weg na die Jordaanvallei toe waar dit in die Dooie See inloop. En wanneer dit in die Dooie See inloop, word die soutwater van die Dooie See weer vars en skoon. Oral waar hierdie water kom, wemel dit van al die soorte diere. En in die water is daar baie vis, want dit is vars, skoon water. In die Dooie See leef niks nie omdat die water dood is. Hierdie water sal die Dooie See se water weer vars maak. Oral waar hierdie water kom, sal alles lewe. Weet jy wat? Langs die Dooie See sal die vissers bankvas staan, van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Waar voorheen geen lewe was nie omdat die water dood was, sal nou elke denkbare soort vis volop wees. Oral langs die Dooie See sal die vissers hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Middellandse See. Al wat nie weer vars sal word nie, is die moeraswater en die water in die kuile langs die Dooie See. Hulle moet sout bly om julle te herinner aan die wonderwerk wat gebeur het. Aan weerskante van die wal van die rivier sal pragtige vrugtebome groei. Hierdie bome sal anders as ander vrugtebome wees. Hulle blare sal nooit verlep nie, nie eens in die winter nie. En hulle vrugte sal nooit opraak nie. Hulle sal elke maand vrugte dra, want die rivier se water kom uit die huis van die Here. Die mense sal elke dag kom vrugte pluk. En hulle sal die blare gebruik om op hulle seerplekke te sit en dit sal hulle gesond maak.”
ESEGIËL 47:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die man het my teruggebring na die ingang van die tempel. Daar het ek ’n stroom water gesien wat onder die tempel se drumpel ooswaarts uitvloei, want die tempel het oos gekyk. Hierdie stroom het regs van die altaar, aan die suidekant, verbygegaan. Die man bring my toe buitekant die muur deur die noordelike ingang en lei my na die oostelike ingang. Daar kon ek die stroom water sien vloei deur die suidelike kant van die oostelike ingang. Die man het oos gestap en met die maatlyn wat hy by hom gehad het 500 meter vanaf die oospoort gemeet. Toe laat hy my deur die water loop. Hier was die water enkeldiep. Hy het nog 500 meter afgemeet en my deur die water laat loop. Hier was dit kniediep. Hy het nog 500 meter afgemeet en my deur die water laat loop. Nou het dit tot by my heupe gekom. Toe meet hy nog 500 meter af, maar toe was die water ’n rivier waardeur ’n mens nie kon loop nie. Die water was diep genoeg dat ’n mens daarin kon swem. Dit het ’n rivier geword waardeur ’n mens nie kon loop nie. Hy vra toe vir my: “Mensekind, het jy dit gesien?” Toe lei hy my terug na die rivier se oewer. Terwyl ek daar loop, sien ek ’n hele klomp bome aan albei kante van die rivier. Hy het vir my gesê: “Hierdie rivier vloei oos deur die woestyn af na die Jordaanvallei toe, waar dit dan in die Dooie See invloei. Die water van dié rivier sal die soutwater van die Dooie See vars maak. Oral waar hierdie rivier loop, bring dit lewe. Vis sal volop wees, want hierdie water sal die soutwater vars maak. Waar die water ook al vloei, sal alles lewe. Vissermanne sal langs die oewers van die Dooie See staan en visvang, van En-Gedi tot by En-Eglajim. Die oewers sal vol nette wees wat in die son drooggemaak word. Allerhande soorte vis sal in die Dooie See wees, net soos in die Middellandse See! Die moerasse en kuile se water sal egter nie vars word nie. Hulle sal soutbronne bly. “Allerhande soorte vrugtebome sal aan weerskante van die rivier groei. Die blare van hierdie bome sal nooit verlep nie en daar sal altyd vrugte aan die takke wees. Daar sal elke maand ’n vrugte-oes wees, want die bome kry hulle water van die rivier wat uit die tempel vloei. Die vrugte sal kos wees en die blare sal genesing bring.”