GALASIËRS 4:14-20
GALASIËRS 4:14-20 Bybel vir almal (ABA)
Julle het baie swaar gekry omdat ek siek was, maar julle het my nie daaroor gehaat nie en julle was nie skaam oor my nie. Julle het my gehelp en ek was welkom by julle soos 'n engel van God, ja, soos Christus Jesus self. Julle het baie gelukkig gevoel. As julle kon, dan sou julle toe julle oë uitgehaal het om dit vir my te gee. Maar nou is julle heeltemal anders! Julle moenie dink ek is nou julle vyand omdat ek die waarheid praat nie! Daardie mense by julle wil vir julle baie dinge doen, maar dit is verkeerde dinge. Hulle wil julle weghou van my, want hulle wil hê julle moet vir hulle dinge doen. Julle moet onthou: Julle moet elke dag goeie dinge doen, wanneer ek by julle is, en ook wanneer ek nie by julle is nie. Julle is vir my soos my kinders, julle laat my nou weer baie swaar kry, en dit sal aanhou totdat Christus die belangrikste is in julle lewens. Ek wens ek was nou daar by julle. Dan kon ek op 'n ander manier met julle probeer praat, want ek weet nie wat om nou vir julle te sê nie.
GALASIËRS 4:14-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en julle het my beproewing in my vlees nie verag of verfoei nie, maar julle het my ontvang as 'n engel van God, ja, as Christus Jesus. Wat was dan julle saligprysing? Want ek getuig van julle dat julle, as dit moontlik was, jul oë uitgegrawe en vir my sou gegee het. Het ek dan julle vyand geword deur julle die waarheid te vertel? Hulle ywer vir julle is nie goed nie, maar hulle wil ons buitesluit, sodat julle vir hulle kan ywer. Dit is goed as daar altyd geywer word in 'n goeie saak en nie alleen wanneer ek by julle teenwoordig is nie, my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle 'n gestalte verkry. EN ek sou wens om nou by julle teenwoordig te wees en my stem te verander, want ek is buite raad met julle.
GALASIËRS 4:14-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
En al was my toestand vir julle 'n versoeking om my te verag of selfs te verfoei, het julle dit nie gedoen nie. Inteendeel, julle het my ontvang asof ek 'n engel van God was, ja, asof ek Christus Jesus self was. Julle was so bly daaroor. Wat het nou van julle blydskap geword? Dít kan ek van julle getuig: As dit moontlik was, sou julle julle oë uitgeruk en vir my gegee het. Het ek dan nou julle vyand geword deurdat ek die waarheid aan julle voorhou? Daardie mense se ywer vir julle is nie met suiwer bedoelings nie. Hulle wil julle van my losmaak sodat julle julle vir hulle saak sal beywer. Om jou vir 'n goeie saak te beywer, is goed, maar dan moet dit altyd die geval wees en nie net as ek by julle is nie. My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry. Ek wens ek kon nou by julle wees en op 'n ander toon met julle praat. Ek is werklik besorg oor julle.
GALASIËRS 4:14-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
en alhoewel my siek liggaam vir julle 'n beproewing was, het julle my nie verag of verfoei nie. Inteendeel, julle het my soos 'n engel van God ontvang, soos •Christus Jesus! Waar is julle blydskap oor my dan nou? Ek kan van julle getuig dat, indien dit moontlik was, julle julle oë sou uitruk en vir my sou gee! Het ek dan julle vyand geword omdat ek vir julle die waarheid vertel? Hulle beywer hulle nie met goeie bedoelings vir julle nie; inteendeel, hulle wil julle van my af weghou, sodat julle julle vir húlle kan beywer. Dis goed om julle altyd vir die goeie te beywer, en nie net wanneer ek by julle is nie. My kinders, ek ervaar weer geboortepyne oor julle, totdat Christus in julle gestalte kry. Ek wens ek was nou by julle, en kon met 'n ander stemtoon met julle praat, want ek is raadop met julle!
GALASIËRS 4:14-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En my versoeking wat in my vlees was, het julle nie verag of verwerp nie; maar het my aangeneem as 'n engel van God, as Christus Jesus. Waar is dan die saligheid waarvan julle gepraat het? want ek getuig van julle dat julle, as dit moontlik was, julle eie oë sou uitpluk en aan My gegee het. Het ek dan jou vyand geword omdat ek jou die waarheid vertel? Hulle raak jou ywerig, maar nie goed nie; ja, hulle sou julle uitsluit, sodat julle hulle kon aantas. Maar dit is goed om altyd ywerig te wees in 'n goeie ding, en nie net as ek by jou teenwoordig is nie. My kinders, uit wie ek weer gebore word totdat Christus in julle geformeer is, Ek wil nou by jou teenwoordig wees en my stem verander; want ek twyfel aan jou.
GALASIËRS 4:14-20 Die Boodskap (DB)
Nie een van julle het ’n skewe woord vir my gesê of my sleg behandel nie. Onthou julle nog hoe siek ek was toe ek daardie eerste maal by julle kom preek het? Tog het julle my baie goed versorg. Dit was glad nie vir julle ’n probleem of ’n verleentheid om dit te doen nie. Trouens, julle het my op dieselfde manier ontvang as wat julle ’n engel van God, ja, vir Jesus Christus self sou ontvang. Wat het dan van julle blydskap en gasvryheid geword? Party van julle sou in daardie tyd selfs julle oë uitgehaal en vir my gegee het. Maar nou is ek skielik julle vyand! En dit net omdat ek vir julle die waarheid vertel. Weet julle, daardie vals predikers wat nou by julle optree, maak net asof hulle vir julle omgee. Maar hulle draai julle eintlik ’n rat voor die oë. Hulle misbruik net julle goedheid tot hulle eie voordeel. Hulle wil net hê julle moet hulle op die hande dra en ’n groot ophef van hulle maak. Julle moet oppas vir hulle! Dit is goed dat julle ywerig is om te doen wat reg is. Julle moet dit egter nie net doen wanneer ek daar by julle is nie. Nee, julle moet elke dag goeddoen, ook nou wanneer ek ver van julle af is. Julle is vir my soos my eie kinders. Ek voel oor julle soos ’n ma wat geboortepyne het. Hierdie pyn sal nie ophou voor Christus weer in julle lewe die ereplek kry nie. Ek wens dat ek nou daar by julle kon wees. Dan sou dit nie vir my nodig gewees het om so met julle te raas nie. Ongelukkig het ek nie ’n ander keuse nie. Ek moet my hart hier op papier uitpraat, want ek is raadop met julle.
GALASIËRS 4:14-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hoewel my siekte vir julle ’n beproewing was, het julle nie vir my gegril of my vermy nie. Inteendeel, julle het my ontvang asof ek ’n engel, ja, asof ek Christus Jesus self was. Julle het julleself destyds as bevoorreg beskou. Wat het dan nou gebeur? Ek kan regtig daarvan getuig dat julle, as dit moontlik was, selfs julle oë sou uitgeruk het om hulle vir my te gee. Het ek nou vir julle ’n vyand geword omdat ek julle eerlik die waarheid vertel? Die ander mense wat skynbaar so baie ywer vir julle het, het nie goeie bedoelings nie. Hulle wil ’n wig tussen ons indryf sodat julle julle vir hulle saak sal beywer. Dit is goed om jou vir ’n goeie saak te beywer. Maar doen dit dan altyd, en nie net as ek daar by julle is nie. Ag, my kinders, totdat Christus in julle lewens vorm aanneem, het ek elke keer weer geboortepyne oor julle. Ek wens dat ek op hierdie oomblik by julle kan wees en op ’n ander trant met julle kan praat, want ek is regtig bekommerd oor julle.