GALASIËRS 4:6-8
GALASIËRS 4:6-8 Bybel vir almal (ABA)
Omdat ons God se kinders is, het God sy Seun se Gees, die Heilige Gees, in ons harte gestuur, en die Gees sê in ons harte dat God ons Vader is. Daarom is ons nie meer slawe van die wette nie, ons is nou kinders van God. En omdat ons kinders van God is, sal God ook vir ons gee wat Hy vir ons belowe het. Voorheen, toe julle nog nie vir God geken het nie, het julle ander gode gedien wat nie regtig gode is nie.
GALASIËRS 4:6-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus. Maar destyds, toe julle God nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie
GALASIËRS 4:6-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! Jy is dus nie meer 'n slaaf nie; jy is nou 'n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak. Daar was 'n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode.
GALASIËRS 4:6-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En omdat julle sy kinders is, het God die Gees van sy Seun uitgestuur tot in ons harte, die Gees wat roep: “ Abba, Vader!” Jy is dus nie meer slaaf nie, maar seun; en as jy seun is, is jy ook erfgenaam deur God. Maar vroeër, toe julle God nog nie geken het nie, was julle verslaaf aan gode wat in werklikheid nie bestaan nie.
GALASIËRS 4:6-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En omdat julle seuns is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur en roep: Abba, Vader! Daarom is jy nie meer 'n dienskneg nie, maar 'n seun; en as 'n seun, dan 'n erfgenaam van God deur Christus. Maar toe julle God nie geken het nie, het julle hulle gedien wat van nature geen gode is nie.
GALASIËRS 4:6-8 Die Boodskap (DB)
Omdat julle nou God se kinders is, het Hy die Gees van Christus na ons toe gestuur. Die Heilige Gees bind ons styf aan God vas met ’n onbreekbare band van liefde. Dit is Hy wat aanhoudend hier binne-in ons uitroep: “Vader, liefdevolle Vader!” Julle is nie meer slawe van die sonde en die wet nie. Nee, julle is nou volwaardige kinders van God. En omdat julle sy kinders is, is julle ook sy erfgename. Al sy goedheid is nou julle s’n. Destyds, toe julle nog nie kinders van God was nie, was julle slawe van ’n spul dooie gode.
GALASIËRS 4:6-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
En omdat julle sy kinders is, het God die Gees van sy Seun gestuur om in ons te lewe. Die Gees in ons roep voortdurend na God: “Abba!” – wat die Aramese woord is vir “Vader”. Jy is dus nie meer slaaf nie, maar kind. En as sy kind het God jou sy erfgenaam gemaak! Toe julle God nog nie geken het nie, was julle slawe van gode wat nie regtig gode is nie.