GALASIËRS 5:13-14
GALASIËRS 5:13-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as 'n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
GALASIËRS 5:13-14 Die Boodskap (DB)
My broers en susters, God het julle na Hom toe geroep sodat julle vry kan wees. Moet asseblief nie hierdie vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie. Die belangrikste wat julle moet doen, is om mekaar lief te hê. Wanneer julle regtig vir mekaar omgee en lojaal aan mekaar is, doen julle presies wat God van julle vra. Die hele wet van God word in een enkele sin opgesom: “Jy moet vir ander mense net soveel omgee soos vir jouself.”
GALASIËRS 5:13-14 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, God wil hê julle moet vry wees, maar julle moenie dink julle is vry en dan doen julle die slegte dinge wat mense graag doen nie. Nee, julle moet lief wees vir mekaar en julle moet mekaar help. Want die boodskap van al God se wette is: “ Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.”
GALASIËRS 5:13-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as 'n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde. Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
GALASIËRS 5:13-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Julle, broers, is tog tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik, sodat dit aanleiding gee vir die vlees nie, maar dien mekaar deur liefde. Want die hele wet word in één uitspraak vervul: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
GALASIËRS 5:13-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want, broers, julle is tot vryheid geroep; gebruik net die vryheid nie as 'n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur liefde. Want die hele wet word in een woord vervul, ook hierin; Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
GALASIËRS 5:13-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Broers en susters, julle is inderdaad geroep om in vryheid te leef. Moet net nie die vryheid misbruik om sondige begeertes te bevredig nie, maar gebruik dit om mekaar met liefde te dien. Die hele wet is saamgevat in een opdrag: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”