GALASIËRS 5:19-23
GALASIËRS 5:19-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie. Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.
GALASIËRS 5:19-23 Bybel vir almal (ABA)
Almal weet wat die slegte dinge is wat mense graag doen: Hulle lewe onsedelik, hulle slaap by mense met wie hulle nie getroud is nie, hulle doen wat hulle wil, hulle dien afgode, hulle toor, hulle is vyande van ander mense, hulle haat ander mense, hulle is jaloers, hulle word maklik kwaad, hulle stry met almal, hulle maak mense kwaad vir mekaar, hulle maak mense vyande van mekaar, hulle wil nie hê ander mense moet meer hê as hulleself nie, hulle drink totdat hulle dronk is, hulle hou wilde partytjies, en hulle doen nog meer slegte dinge. Ek het voorheen vir julle gesê en ek sê nou weer: Mense wat hierdie dinge doen, sal nie die ewige lewe kry nie, die lewe by God, die Koning. Maar as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan doen hulle goeie dinge: Hulle is lief vir ander mense, hulle is bly, hulle maak vrede, hulle is geduldig, vriendelik en goed, hulle doen wat hulle belowe, hulle word nie maklik kwaad nie, hulle bly kalm. Die wette sê al hierdie dinge is goed.
GALASIËRS 5:19-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie. Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie.
GALASIËRS 5:19-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die praktyke van die vlees is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, afguns, dronkenskap, gefuif, en hierdie soort dinge – waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die •koninkryk van God nie sal beërf nie. Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie 'n wet nie.
GALASIËRS 5:19-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Nou is die werke van die vlees openbaar, dit is dit; Egbreuk, hoerery, onreinheid, losbandigheid, Afgodery, heksery, haat, afwyking, navolging, toorn, twis, oproer, dwaalleer, Afguns, moorde, dronkenskap, brasserye en dergelike dinge waarvan ek julle tevore vertel, soos ek julle ook vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie. Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, sagmoedigheid, goedheid, geloof, Sagmoedigheid, selfbeheersing: daar is geen wet teen sulkes nie.
GALASIËRS 5:19-23 Die Boodskap (DB)
’n Mens kan duidelik sien watter mense gekies het om deur hulle sondige begeertes oorheers te word. Hulle doen mee aan die verskriklikste seksuele sondes. Hulle lewe is vol onreinheid en goddeloosheid. Hulle aanbid ’n spul dooie afgode en hou hulle besig met waarsêery. Hulle lewe loop oor van haat en twis. Hulle gun niemand iets nie. Hulle is aggressief, selfsugtig, altyd besig om te stry en verdeeld onder mekaar. Hulle lewe is vol jaloesie. Die een dronkpartytjie na die ander is hulle kos. Hulle gee hulle oor aan vieslike uitspattighede en nog baie ander slegte dinge. Ek waarsku julle, soos ek julle al tevore gewaarsku het, om nie soos hierdie mense te lewe nie. Onthou, mense wat so lewe, sal nooit ’n plek kry in God se nuwe wêreld nie. Aan die ander kant kan ’n mens duidelik sien watter mense se lewe deur die Heilige Gees beheer word. Net soos ’n boom wat ’n baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense se lewe dat hulle aan God behoort. Sulke mense gee baie om vir ander. Hulle lewe is vol vreugde. Die vrede wat van God af kom, ken en ervaar hulle. Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees. Hulle straal vriendelikheid en warmte uit; daarom wil ander graag in hulle teenwoordigheid wees. Hulle doen goeie dinge vir ander mense. Ander kan altyd op hulle reken omdat hulle self deur dik en dun op God vertrou. Hulle is vol deernis en ontferming. Die Gees stel hulle in staat om hulleself goed te beheer sodat sonde nooit hoogty in hulle lewe vier nie. Natuurlik is die wet nie gekant teen so ’n leefwyse nie.
GALASIËRS 5:19-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die dinge wat ons sondige geaardheid ons laat doen, is bekend: seksuele sondes, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towerkuns, vyandigheid, rusie, jaloesie, woede, selfsugtige ambisie, verdeeldheid, partyskappe, afguns, dronkenskap, wilde partytjies en al sulke dinge. Ek herhaal my vroeëre waarskuwing oor hierdie dinge: Wie sulke dinge doen, sal nie as erfgenaam deel hê aan God se koningsheerskappy nie. Maar die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie.