GALASIËRS 6:11-18
GALASIËRS 6:11-18 Bybel vir almal (ABA)
Nou skryf ek met my eie hand. Julle kan sien hoe groot die letters is. Daardie mense wat aanhou sê julle moet julle laat besny, doen dit omdat hulle net belangstel in mense se liggame. Hulle doen dit, want hulle is bang dat hulle sal swaarkry as hulle moet sê dat mense net moet glo in Christus wat gekruisig is, nie ook in die besnydenis nie. Hulle is besny, maar hulle doen self nie wat die wette sê nie. Hulle wil julle laat besny, sodat hulle kan spog oor wat hulle met julle gedoen het. Ek wil nie soos hulle wees nie. Ek wil net oor een ding spog, en dit is oor die kruis van ons Here Jesus Christus. Hy het vir my gesterf, en daarom is die dinge waaroor die mense spog, nie belangrik vir my nie, en ek is nie belangrik vir daardie mense wat oor hierdie dinge spog nie. Want dit is nie belangrik of 'n mens besny is of nie besny is nie. Die belangrikste is: Ons Here Jesus Christus het ons verander, ons is nou nuwe mense. As mense so lewe, dan sal God vir hulle vrede gee en Hy sal baie goed wees vir hulle. Die mense wat so lewe, is nou Israel, die volk van God. Niemand moet my nou weer oor hierdie dinge pla nie, want ek het al baie swaar gekry vir Jesus. 'n Mens kan die merke daarvan op my liggaam sien. Vriende, ek bid dat ons Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle. Amen.
GALASIËRS 6:11-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Kyk met watter groot letters ek met my eie hand aan julle skrywe. Almal wat 'n mooi vertoning in die vlees wil maak, dié dwing julle om julle te laat besny net om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie. Want ook hulle wat besny word, hou self nie die wet nie; maar hulle wil hê dat julle besny moet word, sodat hulle in julle vlees kan roem. Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld. Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar 'n nuwe skepsel. En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God! Verder moet niemand my moeite aandoen nie, want ek dra die littekens van die Here Jesus in my liggaam. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle gees, broeders! Amen.
GALASIËRS 6:11-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Van hier af skryf ek eiehandig aan julle. Kyk net die groot letters! Daardie mense wat so daarop aandring dat julle julle ook moet laat besny, wil maar net uiterlik 'n goeie indruk maak, sodat hulle nie vervolg sou word ter wille van die kruis van Christus nie. Al het hulle hulle laat besny, onderhou hulle self nie die wet van Moses nie, maar hulle wil net hê dat julle julle moet laat besny sodat hulle kan roem oor wat met julle liggaam gebeur het. Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. Of 'n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy 'n nuwe mens is. En almal wat volgens hierdie beginsel leef, die ware Israel – mag God aan hulle vrede gee en barmhartigheid bewys. Niemand moet dit vir my verder moeilik maak nie, want ek dra al klaar die littekens van Jesus aan my liggaam. Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle gees wees, broers! Amen.
GALASIËRS 6:11-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Kyk met watter groot letters skryf ek nou vir julle in my eie handskrif! Mense wat deur die uiterlike 'n indruk wil maak – dit is hulle wat julle probeer dwing om besny te word, net sodat hulle nie ter wille van die kruis van •Christus vervolg sal word nie. Want diegene wat hulle laat besny, onderhou self nie die wet nie, maar hulle wil hê dat julle besny word, sodat hulle hulle op julle liggame kan beroem. Maar wat my betref, mag dit my tog nie oorkom dat ek my op iets beroem nie, behalwe op die kruis van ons Here Jesus Christus, waardeur die wêreld vir my gekruisig is, en ek vir die wêreld. Want nóg besnedenheid, nóg onbesnedenheid beteken hoegenaamd iets, maar wel 'n nuwe skepping. Vir hulle wat volgens hierdie beginsel leef: vrede en ontferming – en vir die Israel van God! Ten slotte: Laat niemand my verder moeite aandoen nie, want ek dra die littekens van Jesus aan my liggaam. Die genade van ons Here Jesus •Christus bly met julle gees, broers! •Amen.
GALASIËRS 6:11-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Kyk hoe groot brief ek met my eie hand aan julle geskryf het. Almal wat 'n mooi vertoon in die vlees wil maak, ulled wing julle om besny te word; net dat hulle nie vervolg word vir die kruis van Christus nie. Want ook hulle wat besny is, onderhou die wet nie; maar begeer dat julle julle laat besny, sodat hulle in julle vlees kan roem. Maar God verhoed dat ek sou roem, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld. Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid iets baat, maar 'n nuwe skepsel. En almal wat volgens hierdie reël wandel, vrede oor hulle en barmhartigheid en oor die Israel van God. Laat niemand my van nou af pla nie, want ek dra die tekens van die Here Jesus in my liggaam. Broeders, die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle gees. Amen. (Aan die Galasiërs geskryf uit Rome.)
GALASIËRS 6:11-18 Die Boodskap (DB)
Hier teen die einde van my brief het ek dit goedgedink om self die laaste paar woorde aan julle te skryf. Tot dusver het my sekretaris alles neergeskryf. Maar nou skryf ek self. Julle kan dit sien aan die groot letters wat ek maak. Daardie mense in die gemeente wat vir julle sê om besny te word, doen dit net om ander te beïndruk. Op dié manier soek hulle ’n maklike uitweg sodat hulle nie vervolg word nie. Hulle is nie bereid om die lyding te verduur wat hand aan hand gaan met die regte verkondiging van die kruis van Christus nie. Gaan kyk mooi, daardie mense wat sulke groot voorstanders van die besnydenis is, verroer self nie ’n vinger om te doen wat die wet sê nie. Hulle wil net hê dat julle ook besny moet word sodat hulle oor julle kan spog. Hulle wil graag sê dat hulle daarin geslaag het om julle na hulle kant toe oor te haal. Ek self sal dit nooit waag om oor iets anders as oor die kruis van ons Here Jesus Christus te spog nie. Ek is saam met Hom gekruisig. Daarom het die wêreld en al sy sondige begeertes geen houvas meer op my lewe nie. Ek is dood vir die mag van die sonde. Wanneer ’n mens glo, maak dit nie meer saak of jy besny is of nie. Al wat nou saak maak, is dat jy ’n splinternuwe mens is; ’n splinternuwe skepping. Almal wat volgens Christus se nuwe reëls leef, is nou deel van die nuwe Israel. God gee aan hulle almal sy vrede en genade. Ek het nou heeltemal genoeg oor die wet en die besnydenis gesê. Moet my asseblief nie verder oor al hierdie dinge uitvra nie. Ek het heeltemal genoeg ander probleme omdat ek die evangelie verkondig. Kyk dan net hoeveel littekens van Jesus ek oral aan my eie lyf dra. Ek is omtrent al geslaan en mishandel. Die goedheid van ons Here Jesus Christus is met julle almal. My broers en susters, ek bid dat julle sy krag in julle lewe sal ervaar. Amen.
GALASIËRS 6:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
JULLE SIEN AAN DIE GROOT LETTERS EK SKRYF NOU MET MY EIE HAND. Al daardie mense wat julle wil dwing om besny te word, vir hulle gaan dit net om uiterlik die regte indruk te maak sodat hulle nie oor die kruis van Christus vervolg word nie. Hulle wat besny word, leef self nie werklik volgens die wet nie. Hulle wil julle egter laat besny om met dit wat aan julle liggaam gedoen is, te spog. Maar ek – ek wil my op niks anders beroem as die kruis van ons Here Jesus Christus nie. Want daardeur is die wêreld vir my gekruisig, en ek vir die wêreld. Dis nie belangrik of iemand besny of nie besny is nie, maar dis belangrik of iemand ’n nuwe mens is. Mag God se vrede en ontferming met almal wees wat volgens hierdie beginsel lewe. Húlle is Gód se Israel! Verder moet niemand vir my nóg moeite aandoen nie. Ek dra al klaar die littekens van Jesus aan my liggaam. Broers en susters, mag die genade van ons Here Jesus Christus met julle gees wees. Amen.