GENESIS 1:1-9
GENESIS 1:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag. Toe het God gesê: “Laat daar 'n gewelf wees tussen die waters om die waters van mekaar te skei.” So het dit gebeur. God het die gewelf gemaak en die waters onder die gewelf geskei van die waters bo die gewelf. God het die gewelf “hemel” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die tweede dag. Toe het God gesê: “Laat die waters onder die hemel op een plek bymekaarkom sodat die droë grond sigbaar word.” So het dit gebeur.
GENESIS 1:1-9 Bybel vir almal (ABA)
Alles het begin toe God die hemel en die aarde gemaak het. Daar was niks op die aarde nie, niemand kon daar woon nie. Daar was net 'n groot see, en dit was baie donker. Die Gees van God het oor die water beweeg soos 'n sterk wind. God het gesê: “Daar moet lig wees.” En toe was daar lig. God het gesien die lig is goed. Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. God het die lig “dag” genoem en Hy het die donker “nag” genoem. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die eerste dag. God het gesê: “Daar moet 'n hemeldak wees, die lug daarbo, en dit moet die water wat bo is, skei van die water wat onder is.” Dit het toe gebeur. God het die hemeldak gemaak en Hy het die water onder die dak geskei van die water bo die dak. God het die ronde dak “hemel” genoem. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die tweede dag. God het gesê: “Die water onder die hemel moet bymekaarkom op een plek, sodat daar ook grond kan wees.” Dit het toe gebeur.
GENESIS 1:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
IN die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag. En God het gesê: Laat daar 'n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters. God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so. En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was môre, die tweede dag. En God het gesê: Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel, sodat die droë grond sigbaar word. En dit was so.
GENESIS 1:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was woes en leeg, en donkerte was oor die •oerwater. Maar die Gees van God het oor die water gesweef, en God het gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. God het gesien dat die lig goed was. God het toe die lig en die donker van mekaar geskei. God het die lig dag genoem en die donker het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was oggend – dag een. God het gesê: “Laat daar 'n gewelf wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen water en water.” God het die gewelf gemaak, en Hy het die water wat onder die gewelf was, geskei van die water wat bo die gewelf was. Dit het toe so gebeur. God het die gewelf hemel genoem. En dit was aand en dit was oggend – 'n tweede dag. God het gesê: “Laat die water wat onder die hemel is, op een plek bymekaarkom, sodat die droë grond sigbaar word.” Dit het toe so gebeur.
GENESIS 1:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was sonder vorm en leeg. Duisternis was op die wêreldvloed en die Gees van God het op die waters gesweef. God het gesê: Laat daar lig wees, en daar was lig. God het gesien dat die lig goed was, en God het die lig van die duisternis geskei. God het die lig Dag genoem, en die duisternis het Hy Nag genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag. En God het gesê: Laat daar 'n uitspansel wees in die middel van die waters, en laat dit die waters van die uitspansel skei. God het die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel was, geskei van die waters wat bo die uitspansel was. God het die uitspansel hemel genoem, en dit was aand en dit was môre, die tweede dag. Toe het God gesê: “Laat die waters onder die hemel op een plek versamel word, en laat die droë land verskyn.” En dit was so.
GENESIS 1:1-9 Die Boodskap (DB)
In die begin van alle tyd het God die hemel en die aarde gemaak. Voor die skepping was alles eensaam en verlate. ’n Angswekkende donkerte het oor die bodemlose dieptes gehang. En ’n ongelooflike sterk wind het heeltyd oor die waters gewaai. God was egter daar en Hy het gesê: “Laat daar lig wees.” Skielik was daar oral lig. God was baie tevrede met die lig wat Hy gemaak het. Hy het dit apart van die donkerte gehou. God het die lig “dag” genoem en die donkerte “nag”. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die eerste dag van die skepping. God het weer gepraat: “Laat daar ’n soliede massa in die middel van al die waters kom, sodat daar ’n duidelike skeiding tussen die waters sal wees.” En dit het gebeur. God het toe hierdie soliede struktuur gemaak. Dit het die ontsaglike massas waters onder en bo die aarde uitmekaargehou. God het hierdie blou struktuur in die lug “hemel” genoem. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die tweede dag van die skepping. God het verder gegaan en gesê: “Laat al die water onder die hemelruim op een plek bymekaarkom sodat daar ook droë land sal wees.” En dit was so.
GENESIS 1:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die begin het God die ganse heelal geskep, die hemel daarbo en die aarde hieronder. Maar die aarde was ’n vormlose, onbewoonbare massa, en die diep waters was toegevou in duisternis. Die Gees van God het oor die oppervlakte van die water gesweef. Toe beveel God: “Laat daar lig wees!” en dit was so. Die lig was vir God goed. Daarop het God die lig en die donkerte van mekaar geskei. God het die lig “dag” genoem en die donkerte “nag”. Dit alles het op die eerste dag gebeur. God het beveel: “Laat daar skeiding kom tussen die waters!” So het God die hemelkoepel gemaak wat die water bokant die aarde skei van die water onder op die aarde. Dit het alles net so gebeur. God noem toe die blou koepel “hemel”. Dit het op die tweede dag gebeur. God het beveel: “Laat die water op die aarde op een plek bymekaarkom sodat die droë grond te voorskyn kan kom!” Dit het presies so gebeur.