GENESIS 12:1-4 - Compare All Versions

GENESIS 12:1-4 ABA (Bybel vir almal)

Die Here het vir Abram gesê: “Jy moet uit jou land gaan, weg van jou familie en van jou pa se huisgesin. Ek sal jou wys na watter land jy moet gaan. “Ek sal jou seën, en jou nageslag sal 'n groot volk word. Ek sal jou naam belangrik maak, en mense sal jou naam gebruik om ander mense te seën. As iemand jou seën, dan sal Ek hom ook seën, en as iemand jou vervloek, dan sal Ek hom ook vervloek. Al die mense van die aarde sal jou naam gebruik om te bid dat Ek hulle moet seën soos Ek jou geseën het.” Abram het toe weggegaan soos die Here vir hom gesê het. Lot het saam met hom gegaan. Abram was 75 jaar oud toe hy uit Haran weggegaan het.

GENESIS 12:1-4 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou 'n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy 'n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word. Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het, en Lot het saam met hom getrek. En Abram was vyf-en-sewentig jaar oud by sy vertrek uit Haran.

GENESIS 12:1-4 AFR83 (Afrikaans 1983)

Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. Ek sal jou 'n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou 'n man van groot betekenis maak, en jy moet tot 'n seën wees. Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.” Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here, en Lot het saam met hom getrek. Abram was vyf en sewentig toe hy uit Haran weggetrek het.

GENESIS 12:1-4 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Die HERE het vir Abram gesê: “Gaan weg uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis, na die land wat Ek jou sal wys. “ Ek sal jou 'n groot nasie maak; Ek sal jou seën en jou naam groot maak, sodat jy 'n seën sal wees. Ek sal hulle seën wat jou seën, maar wie jou verwens, sal Ek vervloek. En deur jou sal al die grootfamilies van die aarde geseënd wees. ” Abram het gegaan, soos die HERE vir hom gesê het, en Lot het saam met hom gegaan. Abram was vyf-en-sewentig jaar oud met sy vertrek uit Haran.

GENESIS 12:1-4 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Die HERE het vir Abram gesê: Gaan weg uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na 'n land wat Ek jou sal wys. Ek sal jou 'n groot nasie maak, en Ek sal jou seën en jou naam groot maak; en jy sal 'n seën wees. En Ek sal seën die wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word. Daarop het Abram weggegaan, soos die HERE met hom gespreek het; en Lot het saam met hom gegaan, en Abram was vyf en sewentig jaar oud toe hy uit Haran vertrek het.

GENESIS 12:1-4 DB (Die Boodskap)

Op ’n dag het die Here vir Abram gesê: “Jy moet weggaan, weg van die plek waar jy gebore is, weg van jou pa se huis af. Ek sal jou ’n ander land gee waar jy kan gaan bly. Ek sal jou en jou nageslag ’n groot nasie maak. Ek sal jou ryk en voorspoedig maak. Oral sal mense jou naam ken en van jou praat. Oor jou sal dit met hulle ook goed gaan. “Wie vir jou goed is, sal Ek gelukkig maak. Wie jou sleg behandel, sal teëspoed ervaar. Oor jou sal dit met alle mense op aarde goed gaan.” Abram het toe alles gelos en weggegaan, net soos die Here vir hom gesê het. Sy broerskind, Lot, het saam met hom gegaan. Abram was 75 jaar oud toe hy uit Haran weggetrek het.

GENESIS 12:1-4 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Die HERE het vir Abram gesê: “Trek weg uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis en gaan na die land wat Ek jou sal aanwys. Ek sal jou die voorvader maak van ’n groot nasie. Ek sal jou seën sodat jy geëerd sal wees, en vir ander tot ’n seën sal wees. Ek sal dié seën wat jou seën en dié wat jou vervloek, sal Ek vervloek. In jou sal al die mense op die aarde geseën word.” Abram het toe weggetrek soos die HERE hom beveel het en Lot het saamgegaan. Abram was 75 jaar oud toe hy uit Haran weggetrek het.