GENESIS 12:1-9

GENESIS 12:1-9 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Abram gesê: “Jy moet uit jou land gaan, weg van jou familie en van jou pa se huisgesin. Ek sal jou wys na watter land jy moet gaan. “Ek sal jou seën, en jou nageslag sal 'n groot volk word. Ek sal jou naam belangrik maak, en mense sal jou naam gebruik om ander mense te seën. As iemand jou seën, dan sal Ek hom ook seën, en as iemand jou vervloek, dan sal Ek hom ook vervloek. Al die mense van die aarde sal jou naam gebruik om te bid dat Ek hulle moet seën soos Ek jou geseën het.” Abram het toe weggegaan soos die Here vir hom gesê het. Lot het saam met hom gegaan. Abram was 75 jaar oud toe hy uit Haran weggegaan het. Abram het sy vrou Sarai, sy broer se seun Lot en al hulle goed saamgeneem. Hy het ook al die slawe geneem wat hulle in Haran gehad het. Hulle het weggegaan na die land Kanaän. Toe hulle in Kanaän kom, het Abram deur die land getrek tot by die gewyde plek van Sigem, dit is die boom van die mense wat dink hulle weet wat ander mense nie kan weet nie. In daardie tyd het die Kanaäniete in die land gewoon. Die Here het aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Ek gee hierdie land vir jou nageslag.” Abram het daar 'n altaar gebou vir die Here wat aan hom verskyn het. Abram het van daar verder getrek na die berg oos van die stad Bet-El, en hy het sy tente daar opgeslaan. Bet-El was wes van hulle, en die stad Ai was oos. Abram het daar 'n altaar vir die Here gebou. Hy het die Here aanbid. Later het Abram verder getrek na die Suid-land toe.

GENESIS 12:1-9 Die Boodskap (DB)

Op ’n dag het die Here vir Abram gesê: “Jy moet weggaan, weg van die plek waar jy gebore is, weg van jou pa se huis af. Ek sal jou ’n ander land gee waar jy kan gaan bly. Ek sal jou en jou nageslag ’n groot nasie maak. Ek sal jou ryk en voorspoedig maak. Oral sal mense jou naam ken en van jou praat. Oor jou sal dit met hulle ook goed gaan. “Wie vir jou goed is, sal Ek gelukkig maak. Wie jou sleg behandel, sal teëspoed ervaar. Oor jou sal dit met alle mense op aarde goed gaan.” Abram het toe alles gelos en weggegaan, net soos die Here vir hom gesê het. Sy broerskind, Lot, het saam met hom gegaan. Abram was 75 jaar oud toe hy uit Haran weggetrek het. Abram het sy vrou, Sarai, sy broerskind, Lot, en al die besittings wat hulle oor die jare opgegaar het, saamgevat. Al die mense wat vir Abram-hulle in Haran gewerk het, het ook saamgetrek. Hulle het in die rigting van Kanaän begin trek en na ’n lang tyd daar aangekom. Abram het deur die land getrek en by Sigem gekom. Hy het digby die groot boom van More kamp opgeslaan. In daardie stadium het die Kanaäniete in die land gebly. Die Here het aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Abram, hierdie land sal Ek nog vir jou en jou nageslag gee.” Abram was bly en het vir die Here wat aan hom verskyn het ’n altaar gebou. Van daar af is hy bergwêreld toe en het net oos van Bet-El kamp opgeslaan. Waar sy tent gestaan het, was Bet-El aan sy westekant en Ai aan die oostekant. Hy het weer ’n altaar vir die Here gebou en daar gebid. Daarna het Abram stuk vir stuk deur die hele suidelike woestyn getrek.