GENESIS 15:1-21

GENESIS 15:1-21 Bybel vir almal (ABA)

Hierna het Abram gedroom die Here sê vir hom: “Abram, jy moenie bang wees nie. Ek sal jou beskerm. Ek sal vir jou baie gee.” Toe sê Abram: “Here, my Here, wat kan U vir my gee? Ek het nie kinders nie, en Eliëser, die man uit Damaskus, sal eendag al my goed erf. U het nie vir my 'n nageslag gegee nie, en daarom sal een van my slawe alles erf wat ek het.” Toe praat die Here weer met Abram en Hy sê vir hom: “Nee, dit is nie 'n slaaf wat al jou goed sal erf nie. Net jou eie seun sal jou goed erf.” Die Here het vir Abram buitetoe geneem en vir hom gesê: “Kyk na die lug en probeer om al die sterre te tel. Jou nageslag sal so baie wees.” Abram het die Here geglo, en daarom was die Here tevrede met hom. Die Here het vir Abram gesê: “Ek is die Here wat jou laat wegtrek het uit Ur, die stad in die land van die Galdeërs. Ek het jou hiernatoe gebring, want Ek wil hierdie land vir jou gee. Hierdie land sal aan jou behoort.” Toe vra Abram: “Here, my Here, hoe kan ek seker wees dat hierdie land myne sal wees?” En die Here sê vir hom: “Bring vir My 'n vers-kalf en 'n bok en 'n skaap-ram, almal drie jaar oud. Bring ook 'n tortelduif en 'n ander duif.” Abram het dit alles vir die Here gebring. Hy het die diere middeldeur gesny, en hy het die een helfte van elke dier oorkant die ander helfte neergesit. Maar die voëls het hy nie middeldeur gesny nie. Die aasvoëls het gekom om die dooie diere te vreet, maar Abram het hulle weggejaag. Toe die son ondergaan, het dit baie donker geword, en Abram het bang geword. Maar daarna het hy baie vas geslaap. Toe sê die Here vir Abram: “Jou nageslag sal gaan woon in 'n land wat nie hulle eie land sal wees nie. Hulle sal vreemdelinge wees, maar hulle sal slawe wees, en die mense sal hulle 400 jaar lank verdruk. Dit is seker. Maar Ek sal die volk straf wat hulle slawe laat word het. Daarna sal jou nageslag weggaan en hulle sal baie goed hê. Met jou sal dit goed gaan totdat jy sterf en jy sal oud wees wanneer hulle jou begrawe. In die vierde geslag sal jou nageslag weer terugkom na hierdie land. Dan sal dit die regte tyd wees om die Amoriete te straf oor hulle baie sonde.” Die son het ondergegaan en dit het donker geword. Daar kom toe vuurvlamme en rook wat deurgaan tussen die stukke vleis van die diere wat geslag is. Daardie dag het die Here 'n verbond gemaak met Abram. Die Here het vir Abram belowe: “Ek gee vir jou nageslag hierdie land, van die Egipte-spruit tot by die groot Eufraat-rivier. Dit is die land van die Keniete, die Kenissiete, die Kadmoniete, die Hetiete, die Feresiete, die Refaïete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Girgasiete en die Jebusiete.”

GENESIS 15:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

NÁ hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in 'n gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou 'n skild en jou loon is baie groot. Toe vra Abram: Here HERE, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan en die erfgenaam van my huis die Damaskéner Eliëser is? Verder het Abram gesê: Aan my het U geen nageslag gegee nie; so sal dan die bediende van my huis my erfgenaam wees. Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê: Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees. Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken. Verder het Hy vir hom gesê: Ek is die HERE wat jou uitgelei het uit Ur van die Chaldeërs om jou hierdie land in besit te gee. En hy sê: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem? En Hy antwoord hom: Neem vir My 'n driejaaroud vers en 'n driejaaroud bokooi en 'n driejaaroud ram en 'n tortelduif en 'n jong duif. En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie. Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag. En toe die son wou ondergaan, val daar 'n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval. Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. Maar jý sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word. En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie. En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. Op dié dag het die HERE met Abram 'n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete en Hetiete en Feresiete en Refaïete en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.

GENESIS 15:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hierna het die woord van die Here in 'n gesig tot Abram gekom: “Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees.” Toe sê Abram: “Here my God, wat kan U vir my gee? Ek sal kinderloos sterf, en Eliëser die man uit Damaskus sal my besittings kry.” Abram het verder gesê: “U het nie vir my 'n nageslag gegee nie. 'n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees.” Maar die woord van die Here het tot Abram gekom: “Daardie een sal nie jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees.” Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.” Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het. Hy het vir Abram gesê: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het om hierdie land aan jou te gee as jou besitting.” Maar Abram vra: “Hoe sal ek weet dat ek dit sal besit, Here my God?” Toe beveel die Here hom: “Bring vir My 'n vers, 'n bok en 'n skaapram, almal drie jaar oud, en 'n tortelduif en 'n jong duif.” Abram het dit alles vir die Here gebring en dit middeldeur gesny. Hy het elke helfte teenoor die ander helfte neergesit. Die voëls het hy nie verdeel nie. Die roofvoëls het op die karkasse begin toesak, maar Abram het hulle weggejaag. Teen sononder het 'n diep slaap Abram oorval; angs, 'n groot donkerte het hom oorweldig. Toe sê die Here vir Abram: “Weet beslis dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat nie aan hulle behoort nie. Daar sal hulle slawe wees en onderdruk word, vier honderd jaar lank. Maar Ek sal die nasie straf wat van jou nageslag slawe maak, en dan sal hulle met baie besittings wegtrek. Jy sal in vrede sterf en op 'n hoë ouderdom begrawe word. Die vierde geslag ná jou sal hiernatoe terugkom. Dan eers sal die ongeregtigheid van die Amoriete sy volle maat bereik het.” Toe die son ondergegaan het en dit donker was, gaan daar skielik 'n oond wat rook en 'n fakkel wat brand, tussen die stukke vleis deur. Op daardie dag het die Here 'n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van Egiptespruit af tot by die Eufraat, die groot rivier; die land van die Keniete, die Kenissiete en die Kadmoniete, die Hetiete, die Feresiete en die Refaïete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Girgasiete en die Jebusiete.”

GENESIS 15:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ná verloop van tyd het die woord van die HERE tot Abram gekom in 'n visioen: “Moenie bang wees nie, Abram! Ek is 'n skild vir jou. Jou loon is baie groot.” Maar Abram het gesê: “HERE, my Heer, wat sal U vir my gee? Kinderloos gaan ek heen. Die erfgenaam van my huis is Eliëser van Damaskus.” Abram het ook gesê: “Kyk, vir my het U nie 'n nageslag gegee nie. Kyk, 'n seun uit my huishouding gaan my erfgenaam wees.” Maar kyk, die woord van die HERE kom toe tot Abram: “So iemand sal nie jou erfgenaam wees nie, slegs een wat uit jou liggaam voortkom, hy sal jou erfgenaam wees.” Toe neem Hy Abram na buite en sê: “Kyk maar op na die hemel en tel die sterre – as jy in staat is om hulle te tel!” En Hy sê vir hom: “So sal jou nageslag wees.” Hy het die HERE geglo. En Hy het dit vir hom as geregtigheid toegereken. Die HERE het vir hom gesê: “Ek is die HERE wat jou uit Ur van die Galdeërs uitgelei het om aan jou hierdie land te gee om dit in besit te neem.” Hy het gevra: “HERE, my Heer, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?” Toe sê die HERE vir hom: “Bring vir My 'n drie jaar oud verskalf, 'n drie jaar oud bok, 'n drie jaar oud skaapram, 'n tortelduif en 'n jong duif.” Abram het dit alles vir Hom gebring en middeldeur gesny. Toe plaas hy die dele teenoor mekaar. Die voëls het hy egter nie deurgesny nie. Roofvoëls het op die dooie diere toegesak, maar Abram het hulle verwilder. Toe die son besig is om onder te gaan, het 'n diep slaap Abram oorval. Meteens oorval skrik, 'n groot duisternis, hom. Die HERE sê toe vir Abram: “Weet baie goed dat jou nageslag •vreemdelinge sal wees in 'n land wat nie aan hulle behoort nie. Hulle sal daardie mense moet dien, en dié sal hulle verdruk, vierhonderd jaar lank. Maar ook die nasie vir wie hulle moet dien, gaan Ek oordeel. Daarna sal hulle uittrek met 'n menigte besittings. Wat jou betref, jy sal in vrede na jou voorouers gaan en op 'n hoë ouderdom begrawe word. Die vierde geslag sal hierheen terugkeer. Want die •Amoriete se sondeskuld het nog nie sy volle maat bereik nie.” Toe die son ondergegaan het, en dit skemerdonker was – kyk, toe is daar die rook van 'n oond en die vuur van 'n fakkel wat tussen daardie stukke deurbeweeg. Op daardie dag het die HERE met Abram 'n verbond gesluit: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier – die gebied van die Keniete, Kenissiete, Kadmoniete, Hetiete, Feresiete, Refaïete, Amoriete, Kanaäniete, Girgasiete en Jebusiete.”

GENESIS 15:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ná hierdie dinge het die woord van die HERE in 'n gesig tot Abram gekom en gesê: Moenie bang wees nie, Abram, Ek is jou skild en jou loon uitermate groot. Toe sê Abram: HERE HERE, wat sal U my gee, aangesien ek kinderloos gaan en die bestuurder van my huis is hierdie Eliëser van Damaskus? Toe sê Abram: Kyk, jy het aan my geen nageslag gegee nie, en kyk, iemand wat in my huis gebore is, is my erfgenaam. En kyk, die woord van die HERE het tot hom gekom en gesê: Dit sal nie jou erfgenaam wees nie; maar hy wat uit jou eie ingewande sal voortkom, sal jou erfgenaam wees. Hy het hom na buite gebring en gesê: Kyk tog na die hemel en vertel die sterre of jy hulle kan tel; en Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. En hy het in die HERE geglo; en hy het dit hom tot geregtigheid gereken. Hy sê vir hom: Ek is die HERE wat jou uit Ur van die Chaldeërs uitgelei het om aan jou hierdie land te gee om dit in besit te neem. En hy sê: HERE HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit sal beërwe? Hy sê vir hom: Neem vir my 'n driejaaroud vers en 'n driejaaroud bokooi en 'n driejaaroud ram en 'n tortelduif en 'n jong duif. Hy het dit alles vir hom geneem en hulle in die middel verdeel en elke stuk teen mekaar gelê, maar die voëls het hy nie verdeel nie. En toe die voëls op die lyke afkom, het Abram hulle weggejaag. Toe die son ondergaan, het 'n diepe slaap op Abram geval; en kyk, 'n verskrikking van groot duisternis het op hom geval. En hy sê vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag 'n vreemdeling sal wees in 'n land wat nie aan hulle behoort nie, en hulle sal dien; en hulle sal hulle verdruk vier honderd jaar; En ook daardie nasie wat hulle sal dien, sal Ek oordeel; en daarna sal hulle uittrek met groot goed. Jy moet in vrede na jou vaders gaan; jy sal in goeie ouderdom begrawe word. Maar in die vierde geslag sal hulle hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is nog nie vol nie. En dit het gebeur dat, toe die son ondergaan en dit donker geword het, daar was 'n rokende oond en 'n brandende lamp wat tussen daardie stukke deurgaan. Op dieselfde dag het die HERE 'n verbond met Abram gesluit en gesê: Aan jou nageslag het Ek hierdie land gegee, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier. Die Keniete en die Kenisiete en die Kadmoniete, en die Hetiete en die Feresiete en die Refaïete, en die Amoriete en die Kanaäniete en die Girgasiete en die Jebusiete.

GENESIS 15:1-21 Die Boodskap (DB)

Na ’n ruk het die Here in ’n gesig na Abram toe gekom. Hy het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, Abram! Ek is naby jou en Ek pas jou op. Ek sal jou nog baie dinge gee.” Abram was so moedeloos oor sy kinderloosheid dat hy gesê het: “Ag, Here, wat help u geskenke as ek nie kinders het nie. Eliëser wat uit Damaskus kom, die een wat vir my werk, hy sal nog eendag al my goed erf. “U het my nie ’n kind gegee nie, Here, en daarom sal een van my werkers nog al my besittings kry.” Die Here het toe vir Abram gesê: “Nee, dit sal nie gebeur nie. Eliëser sal niks van jou erf nie. Jou eie kind sal eendag alles kry.” Die Here het Abram buitentoe geneem en gesê hy moet opkyk. “Probeer ’n bietjie al die sterre tel,” het Hy gesê. Abram kon nie en die Here het gesê: “Jou nageslag sal nog eendag net so baie soos hierdie sterre word.” Abram het die Here toe geglo. Vir die Here was dit goed dat Abram so op Hom vertrou. Verder het die Here gesê: “Abram, Ek is die Een wat jou familie destyds uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het. Ek het dit gedoen omdat Ek hierdie land vir jou wil gee.” Abram het vinnig gereageer: “Maar hoe weet ek dit, Here? Hoe weet ek dat alles eendag myne sal wees?” Die Here het hom so geantwoord: “Bring vir My ’n vers, ’n bok en ’n skaapram, almal so drie jaar oud. En bring ook sommer ’n tortelduif en ’n jong duif saam.” Abram het die diere bymekaargekry, hulle middeldeur gesny en die helftes teenoor mekaar gesit. Die voëls het hy egter nie deurgesny nie. Die roofvoëls het later op die dooie diere neergesak. Abram moes hulle heeltyd wegjaag. Teen sononder het Abram aan die slaap geraak. Alles rondom hom het donker geword en hy het baie diep geslaap. In sy slaap het die Here toe vir hom gesê: “Abram, daar is iets wat jy moet weet. Jou kinders sal 400 jaar lank in ’n vreemde land woon en soos slawe moet werk. Op ’n dag sal Ek egter die nasie straf wat jou kinders so sal laat swaarkry. Daarna sal Ek jou kinders met baie besittings uit daardie land laat trek. Abram, jy sal oud word en wanneer jy doodgaan, sal hulle jou by jou mense begrawe. Vier geslagte later sal jou kinders weer na hierdie land terugkom. Dan sal die Amoriete se tyd kom om oor hulle sondes gestraf te word.” Na die son ondergegaan het en dit donker was, het daar skielik iets soos ’n rokende vuuroond en ’n vlammende fakkel gekom. Dit het stadig tussen die oopgesnyde diere deur beweeg. Daardie dag het die Here ’n ooreenkoms met Abram gemaak. Hy het vir Abram gesê: “Onthou, aan jou kinders gee Ek hierdie land. Alles van die Nyl in Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraat, sal hulle s’n wees. “Ek gee hulle die lande van die Keniete, die Kenissiete en die Kadmoniete, die Hetiete, die Feresiete en die Refaïete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Girgasiete en die Jebusiete.”

GENESIS 15:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarna het die HERE in ’n visioen aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, Abram, want Ek sal jou beskerm en jou beloning sal groot wees.” Maar Abram het geantwoord: “Oppermagtige HERE, wat beteken al u seëninge as ek nie eers ’n seun het nie? Daarom sal Eliëser van Damaskus my erfgenaam word. U het my geen kinders gegee nie. Een van my slawe sal dus alles erf wat ek besit.” Toe sê die HERE vir hom: “Nee, hy sal nie jou erfgenaam word nie. Jy sal ’n seun van jou eie hê wat al die besittings wat Ek jou gee, sal erf.” Daarop neem die HERE Abram na buite toe en sê: “Kyk op na die naghemel en tel die sterre. Kan jy hulle tel? Net so baie sal jou nageslag wees!” Abram het op die HERE vertrou en die HERE het hom as regverdig gereken. Die HERE sê verder vir hom: “Ek is die HERE wat jou uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het om hierdie land in besit te neem.” Maar Abram antwoord Hom: “Oppermagtige HERE, hoe kan ek verseker weet dat dit aan my sal behoort?” Die HERE antwoord hom: “Bring vir My ’n driejaaroud verskalf, ’n driejaaroud bokooi, ’n driejaaroud ram, ’n tortelduif en ’n jong duif.” Abram bring dit toe vir die HERE en slag hulle. Hy sny elkeen middeldeur en lê die helftes teenoor mekaar. Die duiwe sny hy egter nie in die helfte nie. Toe roofvoëls op die karkasse toesak, verwilder Abram hulle. Daardie aand, toe die son besig was om onder te gaan, oorval ’n diep slaap Abram en angs en donkerte het hom oorval. Toe sê die HERE vir Abram: “Weet verseker dat jou afstammelinge vreemdelinge in ’n vreemde land sal wees. Hulle sal 400 jaar lank as slawe verdruk word. Maar Ek sal dié nasie wat hulle soos slawe behandel, straf. Daarna sal jou nageslag met groot rykdom daar uittrek. Maar jy sal in vrede op ’n rype ouderdom sterf. Vier geslagte ná jou, wanneer die sonde van die Amoriete ryp geword het vir oordeel, sal jou nageslag terugkom na hierdie land toe.” Toe die son ondergegaan het en dit donker was, het Abram ’n rokende oond en ’n brandende fakkel gesien wat tussendeur die halwe karkasse beweeg het. So het die HERE daardie dag ’n verbond met Abram gemaak en gesê: “Ek het hierdie land vir jou nageslag gegee, vanaf die Egiptespruit tot by die groot Eufraatrivier. Dit sluit in die land van die Keniete, die Kenissiete, die Kadmoniete, die Hetiete, die Feresiete, die Refaïete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Girgasiete en die Jebusiete.”