GENESIS 6:1-4
GENESIS 6:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Die mense op die aarde het baie geword. Hulle het ook dogters gehad, en die engele het na die dogters gekyk, want hulle was mooi. Hulle het party dogters gekies en met hulle getrou. Toe sê die Here: “Ek sal nie meer die mense so lank laat lewe nie. Hulle is mense en hulle sal sterf. Die mense sal van nou af nie ouer as 120 jaar word nie.” In daardie tyd en ook daarna was daar reuse op die aarde. Die reuse was die kinders van die engele wat met die mense se dogters getrou het. Die reuse was die sterk manne van daardie tyd, almal het geweet van hulle.
GENESIS 6:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd-en-twintig jaar. In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.
GENESIS 6:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe die mense baie begin word het op die aarde en daar vir hulle dogters gebore is, het die hemelwesens gesien die dogters van die mense is mooi en het hulle getrou met die dogters van hulle keuse. Toe sê die Here: “My Gees sal nie meer so lank in die mens bly nie, want hy is sterflik. Sy lewensduur sal nou honderd en twintig jaar wees.” In daardie tyd was daar reuse op die aarde, en ook daarna wanneer die hemelwesens na die dogters van die mense toe gekom en kinders by hulle gehad het. Hulle was die sterk mense van die ou tyd, die manne van naam.
GENESIS 6:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe die mense meer begin word oor die hele aarde en daar dogters vir hulle gebore is, het die hemelwesens gesien dat die dogters van die mense mooi was. Hulle het toe vir hulle vroue geneem, wie hulle ook al verkies het. Die HERE het toe gesê: “My gees sal nie vir altyd in die mens bly nie, omdat hy ook vlees is. Sy lewensdae sal honderd-en-twintig jaar wees.” Die reuse was in daardie tyd en ook daarna op die aarde, solank as wat die hemelwesens by die dogters van die mense ingegaan en vir hulleself kinders verwek het. Daardie kinders was die helde uit die ou tyd, die beroemde manne.
GENESIS 6:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit het gebeur, toe die mense op die aarde begin vermeerder, en dogters vir hulle gebore is, Die seuns van God het die dogters van die mense gesien dat hulle mooi was; en hulle het vir hulle vroue geneem van alles wat hulle verkies het. Die HERE het gesê: My Gees sal nie altyd saam die mens streef nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal honderd-en-twintig jaar wees. Daar was in daardie dae reuse op die aarde; en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingekom het en hulle vir hulle kinders gebaar het, het dit magtige manne geword wat van ouds was, manne van naam.
GENESIS 6:1-4 Die Boodskap (DB)
Toe die mense op die aarde meer en meer geword het, het hulle ook mooi dogters gekry. Sommige van die wesens in die hemel het hierdie dogters se skoonheid raakgesien en met hulle kom trou. Hulle het vir hulle as vroue gevat wie hulle wou. Toe sê die Here: “My Gees sal nie vir altyd in die mens bly nie. Hy is tog maar net ’n sterflike wese. Hy sal nie langer as 120 jaar leef nie.” In hierdie tyd was daar ook reuse op aarde. Hulle was die kinders van die hemelwesens en die vroue van die aarde. Hierdie reuse was die heldefigure van die oertyd; bekende mans waaroor die mense stories vertel het.
GENESIS 6:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Mettertyd het die mense op die aarde baie vermeerder. Daar is ook dogters vir hulle gebore. Die godeseuns het opgemerk hoe mooi die dogters van die mense was. Hulle het van hulle as vroue gekies. Toe sê die HERE: “My gees sal nie vir altyd in die mensdom wees nie, want hulle is sterflik. Voortaan sal hulle leeftyd hoogstens 120 jaar wees.” In daardie tyd en ook daarna, was daar reuse op die aarde, want telkens wanneer die godeseuns gemeenskap met die vroue uit die menslike geslag gehad het, is kinders gebore wat helde geword het en wat in die ou legendes vermeld word.