GENESIS 9:12-17
GENESIS 9:12-17 Bybel vir almal (ABA)
God het ook gesê: “Ek gee vir julle 'n teken om te wys dat Ek 'n verbond met julle gemaak het. Ek het dit belowe, en dit sal altyd waar wees. Ek maak my reënboog in die wolke. Die reënboog sal 'n teken wees om te wys dat Ek 'n verbond met julle gemaak het. Wanneer Ek wolke oor die aarde stuur, en die reënboog is in die wolke, dan sal Ek onthou dat Ek 'n verbond gemaak het met julle en met al die diere. Ek het belowe dat daar nie weer 'n watervloed sal wees wat al die mense en diere sal doodmaak nie. Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, dan sal Ek daaraan dink dat Ek 'n verbond gemaak het met almal op die aarde, 'n verbond wat vir altyd sal wees.” God het vir Noag gesê: “Die reënboog is die teken wat vir almal op die aarde wys dat Ek 'n verbond gemaak het met hulle.”
GENESIS 9:12-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte: my boog gee Ek in die wolke; dit sal 'n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke, dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer 'n vloed word om alle vlees te verdelg nie. As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is. En God het vir Noag gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek opgerig het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.
GENESIS 9:12-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, 'n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld: my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle, sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie. Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde.” God het vir Noag gesê: “Dit is dan die teken van die verbond wat Ek tot stand gebring het tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”
GENESIS 9:12-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
God het gesê: “Dit is die verbondsteken wat Ek plaas tussen My en julle en al die lewende wesens by julle, vir toekomende geslagte: My boog plaas Ek in die wolke. Dit sal dien as teken van die verbond tussen My en die aarde. Wanneer Ek wolke laat saampak oor die aarde, en die boog verskyn in die wolke, sal Ek my verbond onthou wat daar is tussen My en julle en elke lewende wese, ja, alle vlees. Die waters sal nie weer 'n vloed word om alle vlees te verdelg nie. Wanneer die boog in die wolke is, sal Ek dit sien, om so herinner te word aan die ewigdurende verbond tussen God en alle lewende wesens, alle vlees wat op die aarde is.” God het vir Noag gesê: “Dit is dan die teken van die verbond wat Ek gesluit het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.”
GENESIS 9:12-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en jou en al die lewende wesens wat by jou is, vir ewige geslagte. Ek stel my boog in die wolk, en dit sal wees as 'n teken van 'n verbond tussen My en die aarde. En as Ek 'n wolk oor die aarde bring, sal die boog in die wolk gesien word; Ek sal dink aan my verbond wat tussen My en julle en al die lewende wesens van alle vlees is; en die waters sal nie meer 'n vloed word om alle vlees te vernietig nie. Die boog sal in die wolk wees; en ek sal daarna kyk, dat ek kan dink aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens van alle vlees wat op die aarde is. God het vir Noag gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek opgerig het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.
GENESIS 9:12-17 Die Boodskap (DB)
God het verder gesê: “Ek gee vir julle ’n teken van my ooreenkoms, die ooreenkoms wat Ek sluit met alle mense en diere tot in die verre toekoms. Kyk, hoog bo in die wolke sit Ek ’n reënboog. Dit is die teken van die ooreenkoms tussen My en die aarde. Elke keer wanneer dit reën en jy die boog in die wolke sien, sal Ek aan die ooreenkoms dink tussen My en jou en elke lewende wese, dat hulle nooit weer deur ’n watermassa vernietig sal word nie. Telkens wanneer die boog verskyn, sal Ek dit sien en onthou van die ewige ooreenkoms tussen God en elke lewende wese op aarde.” God het toe vir Noag gesê: “Hierdie helder boog is dan die teken van die ooreenkoms wat Ek met almal op aarde gemaak het.”
GENESIS 9:12-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God het bygevoeg: “Om dit te bevestig, gee Ek aan julle en alle lewende wesens ’n teken van hierdie onderneming wat vir altyd sal geld. Die reënboog wat Ek in die wolke gesit het, sal die teken wees van hierdie blywende ooreenkoms met die aarde. Wanneer Ek die wolke in die lug laat saampak en die reënboog verskyn, sal dit My herinner aan my verbond met julle en alle lewende wesens dat daar nooit weer ’n vloed sal wees wat alle lewe vernietig nie. “Sodra Ek die reënboog in die wolke sien, sal Ek herinner word aan die blywende verbond tussen My en alle lewende wesens op aarde.” God het dit vir Noag herhaal: “Dit is die teken van my verbond wat Ek met alle lewende wesens op aarde aangegaan het.”