GENESIS 9:18-29
GENESIS 9:18-29 Bybel vir almal (ABA)
Noag het drie seuns gehad wat saam met hom in die ark was. Hulle was Sem, Gam en Jafet. Gam was Kanaän se pa. Hierdie drie seuns van Noag is die voorvaders van al die mense op die aarde. Noag was 'n boer en hy het 'n wingerd geplant. Hy het die druiwe gepluk en wyn gemaak. Toe het hy die wyn gedrink en dronk geword. Hy het sy klere uitgetrek en hy het kaal in sy tent gelê. Gam, die voorvader van die Kanaäniete, het gesien Noag was kaal, en hy het na sy pa gekyk. Hy het uit die tent gegaan en hy het dit vir sy broers gaan vertel. Sem en Jafet het klere geneem en hulle het dit oor hulle skouers gehou. Hulle het agteruit geloop sodat hulle nie Noag se kaal liggaam kon sien nie. Hulle het hulle pa toegemaak met die klere. Toe Noag wakker word, het hy uitgevind wat sy jongste seun gedoen het. Noag sê toe: “Ek vervloek vir Kanaän, Gam se seun. Hy en sy kinders sal slawe wees vir sy broers.” Noag het ook gesê: “Prys die Here, die God van Sem! Kanaän sal Sem se slaaf wees. Ek bid dat God vir Jafet baie grond sal gee, en dat God altyd by Sem sal wees. Kanaän sal Jafet se slaaf wees.” Noag het nog 350 jaar ná die watervloed gelewe. Noag was 950 jaar oud toe hy gesterf het.
GENESIS 9:18-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die seuns van Noag wat uit die ark uitgegaan het, was Sem en Gam en Jafet. En Gam was die vader van Kanaän. Hierdie drie was die seuns van Noag; en met hulle begin die uitbreiding van al die aardbewoners. En Noag het as landbouer 'n wingerd begin plant. Maar toe hy van die wyn gedrink het, het hy dronk geword en naak in sy tent gelê. En Gam, die vader van Kanaän, het sy vader se naaktheid gesien en dit aan sy twee broers daarbuite te kenne gegee. Toe neem Sem en Jafet die bo-kleed en hou dit op hulle skouers terwyl hulle agteruitloop, en hulle het die naaktheid van hulle vader bedek: hulle gesig was agtertoe gedraai, sodat hulle die naaktheid van hulle vader nie gesien het nie. Toe Noag van sy wyn wakker word en merk wat sy jonger seun hom aangedoen het, sê hy: Vervloek is Kanaän! 'n Kneg van die knegte moet hy wees vir sy broers. Verder het hy gesê: Geseënd is die HERE, die God van Sem. Maar Kanaän moet sy dienskneg wees. Mag God aan Jafet ruimte verskaf, en mag hy woon in die tente van Sem! Maar Kanaän moet sy dienskneg wees. En Noag het ná die vloed driehonderd-en-vyftig jaar gelewe. So was dan al die dae van Noag negehonderd-en-vyftig jaar, en hy het gesterwe.
GENESIS 9:18-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
Noag se seuns wat uit die ark gekom het, was Sem, Gam en Jafet. Gam was die pa van Kanaän. Dit was Noag se drie seuns en uit hulle is die hele aarde bevolk. Noag was 'n boer, die eerste wat 'n wingerd geplant het. Hy het wyn gedrink en dronk geword. Toe het hy kaal in sy tent gelê. Gam, die pa van Kanaän, het gesien sy pa is kaal en het dit buite vir sy twee broers gaan vertel. Sem en Jafet het toe 'n kledingstuk van Noag gevat, dit oor hulle skouers gehou en agteruit geloop en hulle pa toegemaak. Hulle het anderpad gekyk, sodat hulle nie hul pa kaal sou sien nie. Toe Noag uit sy roes wakker word en verneem wat Gam, sy jongste, hom aangedoen het, sê hy: “Vervloek is Kanaän! 'n Nikswerd slaaf sal hy wees, in diens van sy broers.” Verder het hy gesê: “Prys die Here, die God van Sem! Kanaän moet Sem se slaaf wees. Mag God aan Jafet 'n ruim woonplek gee, mag hy welkom wees in die tente van Sem. Kanaän moet Jafet se slaaf wees.” Na die oorstroming het Noag nog drie honderd en vyftig jaar geleef. Noag was dus nege honderd en vyftig jaar toe hy gesterf het.
GENESIS 9:18-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die seuns van Noag wat uit die ark gegaan het, was Sem, Gam en Jafet. Gam was die vader van Kanaän. Hierdie drie was die seuns van Noag, en uit hulle is die hele aarde bevolk. Noag, 'n man van die grond, was die eerste wat 'n wingerd geplant het. Hy het van die wyn gedrink, dronk geword en homself kaal uitgetrek in sy tent. Gam, die vader van Kanaän, het die naaktheid van sy vader gesien en dit buite vir sy twee broers gaan vertel. Sem en Jafet neem toe 'n oorkleed, hou dit oor hulle al twee se skouers, gaan agteruit die tent binne en bedek die naaktheid van hulle vader. Hulle gesigte was weggedraai, en die naaktheid van hulle vader het hulle nie gesien nie. Toe Noag uit sy roes wakker word en hy besef wat sy jongste seun aan hom gedoen het, het hy gesê: “Vervloek is Kanaän! Die laagste slaaf sal hy vir sy broers wees.” Hy het ook gesê: “Die HERE, die God van Sem, moet geprys word! Kanaän moet Sem se slaaf wees. Mag God ruimte skep vir Jafet; mag hy woon in die tente van Sem, en mag Kanaän sy slaaf wees.” Ná die vloed het Noag nog driehonderd-en-vyftig jaar lank geleef. Noag het altesaam negehonderd-en-vyftig jaar lank geleef, en hy het gesterf.
GENESIS 9:18-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die seuns van Noag wat uit die ark uitgegaan het, was Sem, Gam en Jafet; en Gam is die vader van Kanaän. Dit is die drie seuns van Noag, en uit hulle was die hele aarde uitgestrek. Noag het 'n landbouer begin word, en hy het 'n wingerd geplant. Hy het van die wyn gedrink en dronk geword; en hy was ontbloot in sy tent. Gam, die vader van Kanaän, het die naaktheid van sy vader gesien en dit aan sy twee broers daarbuite vertel. Sem en Jafet het 'n kleed geneem en dit op hulle albei se skouers gelê en agteruit gegaan en die naaktheid van hulle vader bedek; en hulle gesigte was agteruit, en hulle het die naaktheid van hulle vader nie gesien nie. Noag het wakker geword van sy wyn en geweet wat sy jongste seun hom aangedoen het. En hy sê: Vervloek is Kanaän! 'n dienskneg van diensknegte moet hy vir sy broers wees. En hy sê: Geloofd sy die HERE, die God van Sem! en Kanaän sal sy dienaar wees. God sal Jafet uitbrei, en hy sal in die tente van Sem woon; en Kanaän sal sy dienaar wees. Noag het ná die vloed drie honderd en vyftig jaar gelewe. En al die dae van Noag was nege honderd en vyftig jaar, en hy het gesterwe.
GENESIS 9:18-29 Die Boodskap (DB)
Noag se drie seuns, Sem, Gam en Jafet, het saam met hom uit die ark gekom. Gam was die voorvader van al die Kanaäniete. Uit hierdie drie seuns van Noag het al die mense op aarde ontstaan. Noag was ’n boer en hy was die eerste mens wat ná die vloed weer ’n wingerd geplant het. Hy het wyn gemaak en daarvan gedrink. Hy het te veel gedrink en dronk geword. Toe het hy sonder klere op sy bed in die tent gaan lê. Toe Gam, die voorvader van al die Kanaäniete, sien dat sy pa kaal in die tent lê, het hy sy twee broers daarvan vertel. Sem en Jafet wou nie hulle pa kaal sien nie en het toe klere gevat, dit oor hulle skouers gegooi en die tent agteruit binnegestap. Terwyl hulle anderpad kyk, het hulle die klere oor hulle pa gegooi. Toe Noag weer nugter was, het hy gehoor wat sy jongste kind aan hom gedoen het. Hy het toe vir hom gesê: “Gam, oor jou sal dit met die Kanaäniete sleg gaan. Hulle sal nog eendag vir jou broers werk.” Van Sem het hy gesê: “Loof die Here, die God van Sem. Kanaän sal nog Sem se vuilwerk doen.” Van Jafet het Noag gesê: “Mag Jafet se nageslag groot wees. Mag sy kinders saam met Sem se nageslag woon. Kanaän sal ook nog aan Jafet onderhorig wees.” Na die vloed het Noag nog 350 jaar geleef. Noag het gesterf toe hy 950 jaar oud was.
GENESIS 9:18-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Sem, Gam (die pa van Kanaän) en Jafet, die drie seuns van Noag, het saam met hulle pa uit die ark gekom. Al die mense in die wêreld stam af van hierdie drie seuns. Ná die vloed het Noag die grond bewerk en ’n wingerd geplant. Op ’n dag het Noag van die wyn gedrink wat hy gemaak het, dronk geword en sonder klere in sy tent gelê. Gam, Kanaän se pa, het dit gesien en buite vir sy broers gaan vertel. Sem en Jafet vat toe ’n kledingstuk en hou dit agter hulle skouers, loop agteruit in die tent en bedek hulle pa. Hulle het nie agtertoe gekyk nie omdat hulle nie hulle pa in daardie toestand wou sien nie. Toe Noag weer nugter was, kom hy agter wat sy jongste seun gedoen het en sê: “Vervloek is Kanaän! Hy sal die slaaf wees van die slawe van sy broers.” Noag sê ook: “Prys die HERE, die God van Sem! Kanaän sal Sem se slaaf wees. God sal vir Jafet ruimte gee om in te woon, en ook vrede met Sem; en Kanaän sal ook sy slaaf wees.” Ná die vloed het Noag nog 350 jaar gelewe. Hy was 950 jaar oud toe hy dood is.