HABAKUK 2:1-19

HABAKUK 2:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt. Die Here het toe vir my gesê: Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees. Die openbaring geld vir 'n bepaalde tyd; dit sal gou kom want dit kom beslis. Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie. Dit is die boodskap: Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly. 'n Hooghartige mens wat hom deur sy rykdom laat mislei, sal nie in sy doel slaag nie, al is hy so gulsig soos die doderyk, so onversadigbaar soos die dood, al versamel hy al die nasies rondom hom, al maak hy gevangenes van al die volke. Dieselfde volke sal spotliedjies oor hom sing en met minagting na hom verwys. Hulle sal sê: Ellende wag vir hom wat hom verryk met goed wat nie syne is nie, wat vir hom al meer goed inpalm wat verpand is. Hoe lank sal dit nog voortduur? Die tyd kom vinnig nader dat jy self in die skuld sal wees, dat skuldeisers vir wie jy sidder, skielik voor jou sal staan en jou sal kaalstroop. Jy het baie nasies geplunder, maar nou sal dié wat oorgebly het, jou plunder, want jy het baie bloed vergiet, geweld gepleeg in baie lande, teen stede en teen hulle inwoners. Ellende wag vir hom wat hom ten koste van ander wou verryk en daardeur 'n ramp oor sy familie gebring het, hy wat vir hom 'n hoë nes wou bou juis om 'n ramp vry te spring. Met jou geknoei het jy jou familie se ondergang bewerk; jy wou baie volke uitroei, maar daarmee het jy 'n einde aan jou eie lewe gemaak. Selfs die klippe in die mure skreeu oor wat jy gedoen het, en die balke skreeu saam. Ellende wag vir hom wat 'n stad bou met moord, wat 'n dorp aanlê met onreg. Dit is die Here die Almagtige wat dit beskik het dat dít waarvoor volke gewerk het in vlamme opgegaan het, dat volke hulle tevergeefs afgesloof het. Soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word. Ellende wag vir hom wat, toe hy vir 'n ander drank gegee het, dit met gif gemeng het en hom dronk gemaak het om na sy kaal geslagsdele te kan kyk. Jy sal self met skande in plaas van met eer oorlaai word, jy sal self dronk word en jou ontbloot! Die Here sal jou die oordeelsbeker wat in sy hand is, gee om te drink, en jou eer sal in skande verander word. Jou geweld teen die Libanon sal jouself tref, jou mishandeling van die diere op die Libanon sal jouself vernietig. Jy het baie bloed vergiet, jy het geweld gepleeg teen baie lande, teen stede met hulle inwoners. Wat is die nut van 'n afgod? Dit is maar net iets wat deur 'n mens gemaak is, 'n beeld waarvan net bedrog te wagte kan wees. Wat baat dit die maker om op sy maaksel te vertrou as hy 'n afgod gemaak het wat nie eens kan praat nie? Ellende wag vir hom wat vir 'n stuk hout sê: “Word wakker!” of vir 'n dooie stuk klip: “Staan op!” Kan 'n afgod jou iets leer? Al is hy met goud of silwer oorgetrek, is daar geen lewe in hom nie.

HABAKUK 2:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Op my wagpos wil ek gaan staan; ek wil stelling inneem op die vestingmuur, op die uitkyk wees om agter te kom wat Hy vir my gaan sê en wat ek mense moet antwoord oor my verwyt. Die HERE het my toe geantwoord; Hy het gesê: “Skryf die openbaring neer; skryf dit duidelik op kliptafels, sodat iemand dit maklik kan lees. Want die visioen wag nog vir die vasgestelde tyd; dit getuig van die einde en sal nie teleurstel nie. As dit talm, wag daarop, want dit kom vir seker, dit sal nie uitbly nie. Kyk, hy wat nie opreg is nie, kwyn weg – maar die regverdige – deur sy betroubaarheid sal hy lewe. Buitendien, wyn is verraderlik. Die sterke is vermetel, maar hy sal nie sy doel bereik nie, hy wat sy keel so wyd oopsper soos die •doderyk, hy wat soos die dood is, wat nie versadig word nie, wat al die nasies by hom versamel het, en al die volke om hom bymekaargemaak het. “ Sal juis hulle nie almal saam oor hom 'n spotlied laat opklink nie, ja, 'n spreuk, raaisels oor hom? Daar sal gesê word, ‘Wee hom wat dít vermeerder wat nie aan hom behoort nie – hoe lank nog? – wat homself met bruikleen belas. Sal dié wat van jou rente gaan eis, nie skielik opstaan nie, ja, dié vir wie jy beangs is, wakker skrik, en jy dan die buit vir hulle word? Omdat jy baie nasies geplunder het, sal al die volke wat oorbly, jou plunder oor die bloedvergieting van mense, die geweld teen lande, stede en almal wat daar woon.’ “ Wee hom wat onregverdige wins maak vir sy huis, om sy nes in die hoogte te bou en homself van die mag van onheil te red. “Jy het skande bewerk vir jou huis; deur 'n einde te maak aan baie volke, het jy jou lewe verbeur. Want klippe roep uit die mure om hulp, en balke uit die houtwerk antwoord hulle. “ Wee hom wat stede bou met bloed, en dorpe vestig met onreg. Kyk, is dit nie die HERE, Heerser oor alle magte, wat dit beskik, dat volke hulle afsloof vir wat opgaan in rook, en nasies hulleself moeg maak vir niks nie? Ja, die aarde sal gevul word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos water die see oordek. “Wee hom wat sy medemens laat drink, wat sy gif daarby voeg, hulle selfs dronk maak, sodat hy hulle geslagsdele kan bekyk. Ja, jy gaan met skande versadig word, in plaas van eer. Drink jy ook, en ontbloot jouself! Die beker in die regterhand van die HERE sal by jou verbykom, en skande sal jou eer oortref. Want die geweld teen Libanon sal jou oorweldig en die vernietiging van diere sal jou beangs laat, ja, die bloedvergieting van mense, die geweld teen lande, stede en almal wat daar woon. “ Watter nut het 'n gesnede beeld as sy maker hom uitgekerf het? Dit is 'n gegote beeld en 'n leermeester van leuens. Ja, hy vertrou op die maaksel wat hy self geskep het. Wat baat dit om stom, nuttelose afgodsbeelde te maak? Wee hom wat vir 'n stuk hout sê, ‘Word tog wakker!’ en ‘Staan op!’ vir 'n stom klip. Kan dié ding jou iets leer? Kyk, hy is wel oorgetrek met silwer en goud, maar daar is geen lewensasem in nie.

HABAKUK 2:1-19 Bybel vir almal (ABA)

Ek sal bo-op die muur gaan staan sodat ek ver kan sien. Miskien sien ek wat die Here vir my wil sê. Miskien antwoord Hy my vrae. Die Here het geantwoord. Hy het vir Habakuk gesê: “Ek sal vir jou iets wys, en jy moet dit groot skryf op plat klippe, sodat almal wat daar verby hardloop, dit kan lees. Ek sal vir jou iets wys. Dit sal kom op die regte tyd. Dit sal gebeur, dit is seker. As dit nie gou gebeur nie, dan moet jy wag, want dit sál gebeur. Hoogmoedige mense sal nie kry wat hulle wil hê nie, maar mense wat reg lewe, sal aanhou lewe omdat hulle gehoorsaam is aan My.” Wanneer mense te veel wyn drink, dan is hulle nooit tevrede nie. Hulle dink hulle kan doen wat hulle wil. Die Galdeërs is ook so. Hulle is soos die doderyk. Hulle maak mense dood, maar hulle is nooit tevrede nie, hulle hou aan om mense dood te maak. Hulle maak al die volke vir hulleself bymekaar soos die dood dooie mense bymekaarmaak. Maar die volke sal eendag spot met die Galdeërs. Die volke sal vir mekaar sê: “Dit sal sleg gaan met mense wat hulleself ryk maak en wat goed vat wat aan ander mense behoort.” Dit sal nie meer lank wees nie, dan sal julle Galdeërs se vyande skielik kom. Die mense vir wie julle bang is, sal julle goed kom vat. Julle het baie volke se goed gevat. Nou sal die volke wat oorgebly het, julle goed kom vat. Julle het baie mense vermoor, julle het oorlog gemaak teen al die mense wat in stede gewoon het. Dit sal sleg gaan met mense wat ander mense se goed vat en hulleself ryk maak, mense wat vir hulleself huise bou teen hoë berge sodat hulle veilig daar kan woon. Julle het planne gemaak om ander mense te laat sterf, baie mense. Nou sal julle ook sterf. Want die klippe en die hout in julle huise het gesien wat julle gedoen het, hulle sal skree en vertel wat hulle gesien het. Dit sal sleg gaan met mense wat stede wil bou vir hulleself. Wanneer hulle dit gedoen het, dan vermoor hulle mense, hulle doen slegte dinge aan mense. Die Here regeer oor alles. Hy laat volke hard werk. Hulle werk en hulle kry baie goed, maar die Here laat dit verbrand. Hy laat volke werk totdat hulle moeg is, maar hulle kry niks. Die see is vol water. So sal die aarde vol mense wees wat die Here ken. Hulle sal weet dat Hy God is en dat Hy oor alles regeer. Dit sal sleg gaan met mense wat vir ander mense drank gee om te drink en wat die drank so sterk maak dat die mense dronk word en kaal gaan lê. Nou sal al die mense vir julle ook spot. Niemand sal julle respekteer nie, want julle sal ook drink en kaal gaan lê. Die Here sal sy beker van swaarkry vir julle gee, en julle sal daaruit moet drink. Niemand sal julle respekteer nie. Julle het die bosse op die Libanon-berg afgekap, julle het die diere doodgemaak. Nou sal ander mense julle ook doodmaak, want julle het oorlog gemaak en julle het mense doodgemaak in elke stad. 'n Beeld van 'n afgod beteken niks. Iemand het die beeld gemaak, en die beeld laat mense lieg. Die mens wat die beeld gemaak het, dink die beeld sal hom help, maar die beeld kan nie praat of iets doen nie. Dit sal sleg gaan met iemand wat vir 'n stuk hout of 'n klip sê: “Jy moet wakker word, jy moet opstaan!” Die beeld kan nie vir hom iets leer nie. Hy het die beeld oorgetrek met goud of silwer, maar die beeld lewe nie.

HABAKUK 2:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

OP my wagtoring wil ek gaan staan en op 'n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek, en wat ek op my klagte moet antwoord. Toe antwoord die HERE my en sê: Skryf die gesig op en graveer dit op tafels, sodat hulle dit in die verbygaan kan lees. Want die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie: Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe. En bowendien, die wyn is 'n bedrieër, 'n trotse man is onbestendig: hy wat sy keel wyd oopmaak soos die doderyk, en soos die dood is hy, so onversadelik — hy vergader vir homself al die nasies en maak vir hom al die volke bymekaar. Sal hulle nie almal oor hom 'n spreuk, 'n spotlied aanhef nie, raaisels oor hom maak nie, en sê: Wee die man wat hom verryk met wat nie aan hom behoort nie — hoe lank? — en hom beswaar met verpande goed. Sal die wat jou byt, nie skielik opstaan en jou skrikaanjaers nie opwaak, sodat jy vir hulle 'n prooi word nie? Omdat jy baie nasies uitgebuit het, sal al die volke wat oorgebly het, jou uitbuit, weens die bloed van die mense en die geweld teen die land, die stad en al sy inwoners. Wee hom wat vuil gewin maak vir sy huis, om sy nes in die hoogte te bou, om homself te red uit die greep van onheil. Jy het skande beraadslaag vir jou huis: die uitroeiing van baie volke, en het jou lewe verbeur. Want die steen uit die muur roep, en die balk uit die timmerasie gee hom antwoord. Wee hom wat 'n stad bou met bloed en 'n vesting stig deur onreg. Kyk, kom dit nie van die HERE van die leërskare dat volke arbei vir vuur en nasies hulle afmat vir niks nie? Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek. Wee hom wat aan sy naaste drank gee, wat jou gif daarmee meng, en hulle ook dronk maak om hulle naaktheid te aanskou. Jy het jou versadig met skande in plaas van met eer — drink jy ook nou, en wees ontbloot. Na jou toe sal die beker van die regterhand van die HERE omgaan, en skande tref jou eer. Want die geweld aan die Líbanon gepleeg, sal jou oordek; en die verwoesting waarmee die diere skrikgemaak is — weens die bloed van die mense en die geweld teen die land, die stad en al sy inwoners. Wat baat 'n gesnede beeld dat sy maker dit reggekap het, 'n gegote beeld, wat 'n leuenleraar is, dat die maker op sy eie maaksel vertrou, deur stomme afgode te maak? Wee hom wat vir 'n stuk hout sê: Word wakker! vir 'n dooie klip: Ontwaak! Kan hy 'n mens leer? Kyk, hy is oorgetrek met goud en silwer, en daar is géén gees in sy binneste nie!

HABAKUK 2:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek sal op my wag staan en my op die toring sit, en ek sal waak om te sien wat hy vir my sal sê en wat ek sal antwoord as ek teregwys word. En die HERE het my geantwoord en gesê: Skryf die gesig op en maak dit duidelik op tafels, dat hy kan hardloop wat dit lees. Want die gesig is nog vir 'n vasgestelde tyd, maar aan die einde sal dit spreek en nie lieg nie; al vertoef dit, wag daarop; want dit sal sekerlik kom, dit sal nie uitbly nie. Kyk, sy siel wat verhewe is, is nie reg in hom nie, maar die regverdige sal uit sy geloof lewe. Ja ook, omdat hy deur wyn oortree, is hy 'n trotse man, en bly nie by die huis nie, wat sy begeerte vergroot soos die hel, en is soos die dood, en kan nie versadig word nie, maar al die nasies vir hom versamel en al die volke vir hom versamel. Sal hulle nie almal 'n gelykenis teen hom en 'n spottende spreekwoord teen hom aanhef nie en sê: Wee hom wat vermeerder wat nie syne is nie! hoe lank? en aan hom wat hom met dik klei laai! Sal hulle nie skielik opstaan wat jou byt, en wakker word wat jou kwaad maak, en jy sal vir hulle 'n buit wees nie? Omdat jy baie nasies uitgebuit het, sal die hele oorblyfsel van die volke jou plunder; vanweë die mensebloed en vanweë die geweld van die land, van die stad en van almal wat daarin woon. Wee hom wat 'n bose hebsug na sy huis begeer, dat hy sy nes in die hoogte kan sit, om verlos te word uit die mag van die bose! U het skande na u huis beraadslaag deur baie mense uit te roei, en teen u siel gesondig. Want die klip sal uit die muur uitroep, en die balk uit die hout sal dit antwoord. Wee hom wat 'n stad met bloed bou en 'n stad deur ongeregtigheid bevestig! Kyk, is dit nie van die HERE van die leërskare dat die volk in die vuur moet arbei, en die volk hulle vermoei tot nietigheid nie? Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE, soos die waters die see bedek. Wee hom wat sy naaste te drinke gee, wat jou bottel vir hom opsit en hom ook dronk maak, sodat jy hulle naaktheid kan aanskou! Jy is vervul met skaamte tot heerlikheid; drink jy ook, en laat jou voorhuid ontbloot word; die beker van die regterhand van die HERE sal na jou gedraai word, en 'n skandelike spoeg oor jou heerlikheid. Want die geweld van die Líbanon sal jou bedek en die buit van die diere wat hulle verskrik het, vanweë die mensebloed en vanweë die geweld van die land, van die stad en van almal wat daarin woon. Wat baat die gesnede beeld dat sy maker dit gesny het; die gegote beeld en 'n leraar van leuens, dat die maker van sy werk daarop vertrou om stomme afgode te maak? Wee hom wat vir die bos sê: Ontwaak! na die stomme klip: Staan op, hy sal leer! Kyk, dit is oorgetrek met goud en silwer, en daar is glad geen asem daarin nie.

HABAKUK 2:1-19 Die Boodskap (DB)

Soos ’n wag op sy wagpos sal ek regstaan om te hoor wat die Here vir my te sê het en wat Hy met my klagte gaan maak. So het die Here my geantwoord: Skryf versigtig en duidelik op kleitablette neer wat Ek jou gaan wys sodat enige mens wat dit lees, nie kan wag om dit aan ander mense te vertel nie. Die dinge wat Ek vir jou gewys het en wat jy opgeskryf het, gaan nie nou dadelik gebeur nie. Maar binnekort gaan dit vir seker gebeur. Dit voel dalk vir jou of dinge sloer en of niks aan die gebeur is nie, maar wees geduldig. Jy sal sien, kom sal dit kom en niks en niemand sal dit kan terughou nie. Die vyand is vol van homself, maar sal nie oorleef nie. Maar mense wat die Here met ’n opregte hart dien, sal lewe as hulle aan Hom getrou bly. Maar kyk maar, mense wat baie van hulleself dink, word maklik deur ’n honger na mag verlei. Hulle kry nooit genoeg nie en is nooit tevrede met wat hulle het nie. ’n Mens kry altyd die gevoel dat hulle gulsig is. Hulle hou net altyd aan om ander volke te probeer oorwin en te oorheers. Maar die dag sal kom wanneer hierdie volke wat nou ly, spotliedjies oor die Babiloniërs sal begin sing en hulle belaglik sal maak met spotgedigte. Hulle sal sê: Dit sal nog beroerd met julle gaan, julle diewe! Hoe lank dink julle kan julle nog aanhou om mense te verplig om sogenaamde skuld te betaal sodat julle nog ryker kan word? Dinge sal nog verander, julle sal sien. Baie gou gaan hierdie mense by wie julle skuld invorder in opstand kom. Julle sal van vrees aan die bewe gaan as hulle julle begin aanval en julle in hulle mag beland. Julle het baie nasies besteel, nou sal van die volke wat oorgebly het, julle besteel. Hulle sal wraak neem op julle oor al die mense wat julle vermoor het en oor al die stede en die mense wat onder julle geweld moes ly. Dit sal nog beroerd met julle gaan, Babiloniërs! Julle het op onregverdige maniere winste gemaak en daarmee julle families ryk gemaak. Julle het gedink niemand kan aan julle vat nie. Julle het julle huise op so ’n manier probeer veilig maak dat geen gevaar naby julle sou kon kom nie. Maar al die oneerlike dinge wat julle gedoen het, het julle families in die skande gedompel. Julle het gedink julle sou baie wen deur volke uit te roei, maar eintlik het julle julleself kwaad aangedoen. Die stene waarmee julle huise gebou is, sal klagtes teen julle uitskree en die balke in die dak sal dit eggo. Ellende is julle voorland, Babiloniërs! In julle poging om alles in die hande te kry om julle stede te bou, het julle mense vermoor en allerhande misdade gepleeg. Die Here het mag oor die hele wêreld. Hy sal alles waarvoor volke so hard gewerk het en soveel moeite voor ingesit het, in vlamme laat opgaan. Niks sal daarvan oorbly nie. Oral waar mense in die wêreld is, sal die gevoel hulle oorweldig om te weet dat die Here daar is. Slegte dinge wag vir julle, Babiloniërs! Julle wat in julle woede julle buurvolke se swakhede uitbuit en hulle dan in die openbaar sleg laat lyk. Hulle kan hulleself nie verdedig nie. Maar julle sal self in die skande kom, al verwag julle eintlik dat ander mense julle met respek moet behandel. Kry van julle eie medisyne! Die Here sal julle straf. Hy sal sorg dat in plaas daarvan dat ander mense en volke baie van julle sal dink, hulle niks van julle sal dink nie. Julle het onverantwoordelik met die natuur gewerk. Julle het wild en wakker bome afgekap en wilde diere doodgemaak. Nou is dit julle beurt om misbruik en doodgemaak te word. Dit is julle straf vir die moorde wat julle oral gepleeg het en die rowwe manier waarop julle met mense in stede gewerk het. Dit sal nie help om julle afgodsbeelde te aanbid nie. Gewone, sterflike mense het hulle gemaak. ’n Mens bedrieg jouself as jy in sulke beelde glo. Hulle kan dan nie eens praat nie. Daar wag slegte dinge vir mense wat vir ’n lewelose beeld van hout of klip sê: “Word wakker, kom aan die gang!” ’n Afgodsbeeld kan mos nie vir julle nuwe dinge bekendmaak of goed laat verstaan wat julle vroeër nie verstaan het nie. Nie eens die feit dat die beelde met goud of silwer oorgetrek is, maak dat hulle iets besonders is nie. Hulle bly leweloos!

HABAKUK 2:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek gaan in my uitkyktoring staan, my plek inneem op my wagpos in die muur. Ek wag om te sien wat die HERE vir my gaan sê, wat sy antwoord op my klagte sal wees. HERE Toe het die HERE geantwoord: “Skryf my antwoord, die visioen, in groot, duidelike letters op kleitablette sodat iemand wat verbyhardloop dit kan lees. Die dinge wat Ek beplan, gaan nie nou dadelik gebeur nie. Stadig maar seker breek die tyd aan wanneer die visioen waar sal word. Wag geduldig, al voel dit of dit stadig gaan. Wees seker dit gaan gebeur, dit sal nie onnodig talm nie. “Kyk na die hoogmoediges! Hulle vertrou op hulleself en hulle lewe is boos. Die regverdiges, daarenteen, sal deur hulle geloof lewe. Voorspoed verlei mense, en hoogmoedige mense kom nooit tot rus nie. Hulle is magshonger met monde wat groot oop is soos die dood. Tog stel niks hulle ooit tevrede nie. In hulle gulsigheid versamel hulle baie nasies en volke as gevangenes. “Die tyd kom wanneer hulle krygsgevangenes hulle sal koggel en verneder deur te sê: ‘Diewe! Einde ten laaste het die gereg julle ingehaal! Nou sal julle kry wat julle verdien vir julle verdrukking en uitbuiting!’ Julle skuldeisers sal skielik in woede reageer. Hulle sal op julle toesak terwyl julle bewend en hulpeloos is. Hulle sal alles buit wat julle besit. Julle het baie nasies beroof, nou sal hulle julle beroof. Julle moordenaars! Julle het baie landelike gebiede en ook die stede met geweld geteister. “Wee julle wat deur onreg ryk word! Julle dink dat rykdom vir julle sekuriteit sal waarborg, dat julle families buite bereik van gevaar sal wees. Julle het julleself in skande gebring deur die moorde wat julle gepleeg het. Daardeur het julle julle eie lewens prysgegee. Die stene in die mure van julle huise skree uit oor wat julle gedoen het. Die klag teen julle weerklink teen die balke in die plafon. “Wee julle wat stede bou met geld wat julle bekom het deur moord en onreg! Het die HERE, die Almagtige, nie beloof dat die nasies se rykdom tot as sal verbrand nie? Hulle werk so hard, maar dit is alles tevergeefs! Die tyd sal aanbreek dat die hele aarde vol sal word met die kennis van die HERE se magtige teenwoordigheid net soos water die see oordek. “Wee julle wat julle bure dronk maak! Julle meng drank en maak hulle dronk om na hulle naaktheid te kyk. Binnekort sal dit julle beurt wees om in skande te kom! Kom, drink en word ontbloot! Drink uit die beker van oordeel. So sal julle eer in skande verander. Julle kap die bome van Libanon af, nou sal julle afgekap word! Julle verskrik die wilde diere deur hulle in strikke te vang. Nou sal verskrikking julle tref omdat julle oral in die stede moord en geweld gepleeg het! “Wat is die nut om mensgemaakte afgode te aanbid? Dit is dwaas om julle vertroue te stel op iets wat julle met julle eie hande gemaak het. Dit is ’n afgod wat nie kan praat nie. Julle is dwase om dié leuens te glo! Wee julle wat vir ’n stuk hout sê: ‘Word wakker! Kom red ons!’ Kan julle by ’n lewelose klip iets leer? Kan ’n stom klip sê wat om te doen? Al is dit oorgetrek met goud en silwer is dit heeltemal sonder lewe.