HEBREËRS 10:23-25
HEBREËRS 10:23-25 Bybel vir almal (ABA)
Daarom moet ons aanhou om die dinge te glo en te sê wat ons hoop, ons moenie daaroor twyfel nie. Ons kan baie seker wees daarvan omdat God dit belowe het, en Hy sal doen wat Hy belowe het. Ons moet ook so vir mekaar sorg dat dit vir mense sal help om lief te wees vir ander mense en om goeie dinge vir hulle te doen. Ons moet hierdie dinge doen en ons moenie wegbly wanneer die gelowiges bymekaarkom nie, party mense bly baie maal weg. Nee, ons moet praat met mekaar en ons moet mekaar bemoedig. Julle kan sien dat die dag van die Here nader kom, daarom is dit baie belangriker dat ons hierdie dinge moet doen.
HEBREËRS 10:23-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.
HEBREËRS 10:23-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.
HEBREËRS 10:23-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Laat ons styf vashou aan die belydenis van wat ons hoop, sonder om af te wyk, want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou. Laat ons ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade, sonder om ons eie samekoms te verwaarloos, soos sommige se gewoonte is; laat ons eerder mekaar aanmoedig, soveel te meer nog namate julle dié dag sien nader kom!
HEBREËRS 10:23-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Laat ons die belydenis van ons geloof vashou sonder om te wankel; (want hy is getrou wat beloof het;) En laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor. Laat ons nie die samekoms van onsself in die steek nie, soos die gewoonte van sommige is; maar vermaan mekaar, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.
HEBREËRS 10:23-25 Die Boodskap (DB)
Daarom kan ons sonder enige twyfel vashou aan die beloftes wat God aan ons gemaak het. Laat ons gedurig maniere soek om mekaar opgewonde te maak om goeie dinge vir mekaar te doen en lojaal teenoor mekaar te wees. Juis daarom moet ons gereeld bymekaarkom en nie sommer wegbly nie, al doen party van julle dit moedswillig. Laat ons mekaar se hande vat en mekaar daarmee help, veral as ons daaraan dink dat dit nie meer lank is voor die Here weer kom nie.
HEBREËRS 10:23-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kom ons hou ook styf vas aan die hoop wat ons bely, want ons kan op God staatmaak; Hy sal doen wat Hy beloof het. Laat ons voortdurend aandag gee aan mekaar – oor hoe ons mekaar kan aanspoor tot liefde en goeie dade. En laat ons tog nie – soos party gemeentelede die gewoonte het – versuim om die gemeentebyeenkomste by te woon nie. Kom ons moedig mekaar aan, nog meer omdat ons sien dat die dag van Christus se koms al hoe nader kom.