HEBREËRS 10:26-39
HEBREËRS 10:26-39 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. Daar bly alleen 'n verskriklike verwagting oor van oordeel en 'n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer. As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het? Ons weet tog wie Hy is wat gesê het: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld;” en verder: “Die Here sal oor sy volk oordeel.” Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val. Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle 'n besitting het wat beter en blywend is. Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in. Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het. Nog net “'n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie.” Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.
HEBREËRS 10:26-39 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want as ons willens en wetens aanhou sonde doen, nadat ons kennis van die waarheid ontvang het, bly daar nie meer 'n offer vir ons sondes oor nie, maar wel 'n verskriklike verwagting van oordeel en intense vuur, wat God se teenstanders gaan verteer. Wanneer iemand die •Wet van Moses verwerp het, het hy gesterf op grond van twee of drie se getuienis, sonder genade. Hoeveel erger straf dink julle sal iemand verdien wat die •Seun van God vertrap het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, gering geag het, en die Gees van genade uitgedaag het? Want ons ken Hom wat gesê het: “Aan My behoort die wraak; Ek sal vergeld.” en ook: “Die Here sal sy volk oordeel.” Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God! Maar onthou die vroeër dae toe julle, nadat julle verlig is, 'n geweldige stryd van lyding deurstaan het. Aan die een kant is julle deur beledigings en deur verdrukking openlik bespotlik gemaak; aan die ander kant het julle julle vereenselwig met dié wat so behandel word. Ook het julle met die gevangenes medelye gehad, en die beslaglegging van julle besittings met vreugde aanvaar, omdat julle weet dat julle 'n beter en blywende besitting het. Julle moet dus nie julle vrymoedigheid prysgee nie; dit hou 'n groot beloning in. Julle het inderdaad volharding nodig, sodat julle, wanneer julle die wil van God gedoen het, die belofte kan verkry. Want nog net “'n baie kort rukkie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. My regverdige sal deur geloof leef. As hy hom egter sou onttrek, het Ek geen behae in hom nie.” Maar ons is nie deel van enige onttrekking wat tot ondergang lei nie, maar van die geloof wat lei tot behoud van die lewe.
HEBREËRS 10:26-39 Die Boodskap (DB)
As ons die regte pad leer ken het, en dan aanhou om moedswillig dinge te doen waarvan God nie hou nie, is daar nie meer ’n offer wat sal maak dat God Hom nie aan die sondes sal steur nie. Al wat vir so iemand oorbly, is om die verskriklike woorde van God te hoor: “Jy is skuldig,” en dan die gloeiende vuur in te stap wat die vyande van God gaan verteer. Met die wet van Moses was dit al so dat iemand sonder genade doodgemaak is as twee of drie persone saam gesê het dat hulle die persoon iets verkeerds sien doen het. Wat dink jy sal dan iemand tref as hy sy neus optrek vir die Seun van God? Daarvan kan ons seker wees: hy verdien dit om so swaar gestraf te word. Hy het nie net die Seun van God beledig nie, maar ook gemaak asof die bloed waarmee Jesus die nuwe ooreenkoms gesluit het, onbelangrik is. So het hy die Gees in die gesig gevat wat vir hom so ’n groot geskenk verniet wou gee. Ons ken Hom wat gesê het: “Ek sal straf uitdeel soos dit moet, Ek sal mense terugbetaal vir die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.” Verder het Hy ook gesê: “Die Here is die Een wat sal besluit wat met sy volk gaan gebeur.” Om voor die lewende God te staan as jou saak met Hom verkeerd is, is erger as die verskriklikste nagmerrie wat jy kan hê. Onthou julle nog toe julle pas Christene geword het? Julle het baie swaargekry, maar niks kon julle wegkry van julle vertroue op God nie. Voor almal het mense partymaal die lelikste dinge vir julle gesê en julle probeer seermaak. Ander kere moes julle die mense help aan wie sulke lelike dinge gedoen is. Party het selfs in die tronk beland en dan het julle hulle ondersteun. Julle het maar net geglimlag toe mense al julle goed kom vat het omdat julle Christene is. Julle kon dit doen, want julle het geweet dat julle in die hemel dinge het wat beter is en wat niemand van julle sal kan wegvat nie. Moet dus nie toelaat dat daar ’n krakie in julle vertroue op God kom nie. Wie op God bly vertrou, sal ’n groot beloning by Hom kry. Julle moet tot elke prys vasbyt. As julle so aanhou om te doen wat God wil hê, sal Hy sorg dat julle kry wat Hy vir julle beloof het. In die Skrif sê God: “Dit is nog net ’n baie kort rukkie, dan kom Hy wat moet kom. Hy sal nie lank draai voor Hy kom nie. Die persoon wie se saak met My reg is omdat hy op My vertrou, sal saam met My leef. Maar as iemand se moed hom begewe en hy nie meer vir alles kans sien nie, moet hy nie verwag dat Ek met hom tevrede sal wees nie.” Ons is nie van die soort wat bang word en so ons plek by God verloor nie. Ons bly op Hom vertrou en sal saam met Hom vir ewig leef.
HEBREËRS 10:26-39 Bybel vir almal (ABA)
Want as ons sonde doen en ons weet dat ons sonde doen, maar ons doen dit nadat ons geleer het en weet wat die waarheid is, dan sal 'n sonde-offer nie meer help om ons sondes te vergewe nie. Nee, dan moet ons bang wees omdat ons weet dat God ons sal oordeel, sy straf sal wees soos 'n baie warm vuur wat almal verbrand wat teen God is. Wanneer twee of drie getuies sê dat iemand ongehoorsaam was aan die Wette van Moses, dan moet daardie persoon sterf. As dit so is, wat dink julle sal gebeur met die persoon wat dink dat die Seun van God nie belangrik is nie? Of wat dink julle sal gebeur met die persoon wat dink dat die bloed onrein is, die bloed wat wys dat God 'n verbond met julle gemaak het? Dit is hierdie bloed, die bloed van die Seun, waarmee God die persoon gewy het wat so dink. En wat dink julle sal gebeur met iemand wat slegte dinge gesê het van die Heilige Gees wat goeie dinge vir ons gee? God sal so iemand baie swaarder straf as iemand wat nie geluister het na die Wette van Moses nie. Want ons weet wie hierdie woorde gesê het: Dit is Ék wat mense sal straf oor wat hulle verkeerd gedoen het. Hy het ook gesê: Die Here sal sy volk oordeel. Almal moet bang wees wanneer God oordeel, die God wat lewe. Maar julle moet onthou dat julle baie swaar gekry het in daardie tyd toe julle gelowiges geword het, maar julle het aangehou om in Christus te glo. Party maal het mense slegte dinge gesê van julle en hulle het vir julle gespot en vir julle laat swaarkry, maar ander dae het julle swaargekry omdat julle vriende was met mense wat ook so swaar gekry het. Want julle was ook jammer vir die gevangenes. En toe mense julle goed gevat het, het julle dit aanvaar en julle het nie opgehou om bly te wees nie. Julle het dit gedoen omdat julle geweet het dat God vir julle iets gegee het wat beter is, en julle sal dit altyd hê. Daarom moet julle aanhou om in Christus te glo en julle moenie bang wees nie. As julle aanhou glo, dan gee God vir julle 'n groot beloning. Daarom moet julle aanhou om te glo, en julle moet doen wat God wil hê sodat julle die dinge kan kry wat Hy vir julle belowe het. Want: Dit sal nog net 'n baie kort tydjie wees, dan sal die Man kom wat moet kom, Hy sal nie lank wegbly nie. Hy wat gehoorsaam is aan My en wat reg lewe, sal aanhou lewe omdat hy My vertrou. Maar as hy ophou om te glo, dan is Ek nie tevrede met hom nie. Maar ons is nie mense wat ophou glo nie, en daarom sal ons nie verlore gaan nie. Nee, ons is mense wat in Christus glo en daarom sal ons die ewige lewe kry.
HEBREËRS 10:26-39 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar 'n verskriklike verwagting van oordeel en 'n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God. Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, 'n groot lydensworsteling deurstaan het, gedeeltelik omdat julle deur smaad en verdrukkinge 'n skouspel geword het, gedeeltelik omdat julle deelgenote geword het van die wat in so 'n toestand verkeer het. Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself 'n beter en blywende besitting in die hemele het. Werp dan julle vrymoedigheid, wat 'n groot beloning het, nie weg nie. Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog 'n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.
HEBREËRS 10:26-39 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want as ons opsetlik sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, Maar 'n sekere vreesaanjaende verlange na oordeel en vurige grimmigheid, wat die teëstanders sal verteer. Hy wat Moses se wet verag het, het sonder genade gesterf onder twee of drie getuies. Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy waardig geag word, wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die verbond waarmee Hy geheilig is, as onheilig geag en aan die Gees gehandel het en van genade? Want ons ken Hom wat gesê het: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here. En weer, die Here sal sy volk oordeel. Dit is vreeslik om in die hande van die lewende God te val. Maar herinner aan die vorige dae, waarin julle, nadat julle verlig is, 'n groot stryd van verdrukkinge verduur het; Gedeeltelik, terwyl julle deur smaad en beproewinge 'n aanskoue gemaak is; en deels, terwyl julle metgeselle geword het van die wat so gebruik is. Want julle het medelye met my gehad in my boeie en het die buit van julle goed met blydskap geneem, omdat julle in julleself geweet het dat julle in die hemel 'n beter en blywende goed het. Werp dan julle vrymoedigheid nie weg nie, wat 'n groot beloning het. Want julle het geduld nodig, sodat julle, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte kan ontvang. Want nog 'n klein rukkie, en Hy wat kom, sal kom en nie uitbly nie. Nou sal die regverdige uit die geloof lewe, maar as iemand hom terugtrek, sal my siel geen behae in hom hê nie. Maar ons is nie van hulle wat terugtrek na die verderf nie; maar van die wat glo tot redding van die siel.
HEBREËRS 10:26-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As ons opsetlik bly sonde doen nadat ons die volle waarheid leer ken het, bly daar geen offer vir die sondes oor nie. Al wat oorbly, is die vreeslike vooruitsig van God se oordeel, ja ’n gloeiende vuur wat God se vyande gaan verteer. Enige persoon wat die wet van Moses verbreek het, is op die getuienis van twee of drie mense sonder enige begenadiging doodgemaak. Dink net hoeveel swaarder sal die straf van daardie mense wees wat die Seun van God onder hulle voete vertrap en die verbondsbloed wat hulle geheilig het, met minagting bejeën en die Gees van genade beledig het. Ons ken tog die Een wat gesê het: “Ék sal die straf voltrek, Ek sal die kwaad vergeld.” En verder: “Die Here sal oor sy volk oordeel.” Hoe verskriklik is dit om in die hande van die lewende God te val. Dink terug aan die mooi tye van vroeër toe God se lig vir die eerste keer in julle lewens geskyn het. Onthou hoe julle ten spyte van al die opoffering en lyding volhard het. Party van julle was blootgestel aan openbare bespotting; ander weer het hulle vereenselwig met dié wat so behandel is. Julle het saam gely met hulle wat in die gevangenis was en toe hulle julle van julle besittings beroof het, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ’n beter en permanente besitting het. Moenie hierdie vertroue in God deur julle vingers laat glip nie. Dit hou vir julle ’n groot beloning in. Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het. Nog net, soos die Skrif sê, “’n baie kort tydjie, en Hy wat op pad is, sal kom. Hy sal nie talm nie. Dié mense wat my wil doen, sal uit die geloof lewe. Maar dié wie se moed hulle begewe – van hulle wil Ek niks weet nie.” Ons is egter nie mense wat ons tot ons eie ondergang laat afskrik nie. Nee, ons vertrou op God en daardeur sal ons lewe.