HEBREËRS 11:1-7

HEBREËRS 11:1-7 Bybel vir almal (ABA)

Dit is waar: Mense wat in God glo, is baie seker dat God die dinge sal doen wat hulle hoop. Geloof is 'n bewys van die dinge wat 'n mens nie kan sien nie. Ons voorouers het in God geglo, en daarom sê die Ou Testament dat God tevrede was met hulle. Ons wat in God glo, verstaan dat God gepraat het en só die hemel en die aarde gemaak het. 'n Mens kan party dinge nie sien nie, maar God het daardie dinge gebruik om die dinge te maak wat 'n mens kan sien. Abel het 'n offer gebring. Omdat Abel in God geglo het, daarom het God meer gehou van daardie offer as van Kain se offer. Abel het geglo, en daarom het God gesê dat Abel regverdig is, God het dit gesê omdat Hy tevrede was met Abel se offers. Abel het gesterf, maar hy het in God geglo, en daarom hoor ons vandag nog dat hy met ons praat oor sy geloof. Henog het in God geglo, en daarom het God hom weggeneem, Henog het nie gesterf nie. Daarom kon niemand vir Henog kry nie, want dit was Gód wat hom weggeneem het. Ja, voordat God vir Henog weggeneem het, het God gesê dat Hy tevrede is met Henog. En God sal nooit tevrede wees met 'n mens wat nie in Hom glo nie. Want 'n mens wat vir God wil dien, moet glo dat God lewe en dat God die mense beloon wat Hom wil dien. Noag het in God geglo, en daarom het God hom gewaarsku oor die dinge wat moes gebeur, maar wat mense nog nie kon sien nie. Noag het vir God gerespekteer en daarom het hy gedoen wat God gesê het. Hy het die ark gebou om sy huisgesin te red. Noag het in God geglo, en daarom het hy gewys dat die wêreld se mense skuldig is. God het vir Noag geseën sodat hy regverdig kan lewe omdat hy in God geglo het.

HEBREËRS 11:1-7 Die Boodskap (DB)

Wat beteken dit om op God te vertrou? Geloof of vertroue in God beteken om nie een oomblik te twyfel nie dat Hy sy beloftes sal hou en om daarna uit te sien. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ons weet vir seker dat dit sal gebeur. Die Skrif praat met groot lof oor mense van die ou tyd wat so op God vertrou het. Omdat ons glo, weet ons dat God die wêreld gemaak het deur net te sê dat dit daar moet wees, en dit was daar. Dit is nie gemaak uit iets wat ons kan sien nie. Omdat Abel God vertrou het, het God meer van sy offer gehou as van sy broer Kain s’n. Juis omdat hy God vertrou het, was sy offer vir God goed en het God gesê dat sy verhouding met Hom reg is. Abel se geloof het dus tot vandag toe nog vir ons ’n boodskap, al is hy lankal dood. Henog het God ook so vertrou. Daarom is hy nie soos ander dood nie, maar God het hom kom haal en hemel toe gevat. Hulle het hom oral gesoek, maar kon hom nie kry nie, want God het hom weggevat. Voor dit egter gebeur het, het almal al daaroor gepraat dat God trots was op die manier waarop Henog geleef het. Dit kan nie gebeur as ’n mens nie op God vertrou nie. En daar is ’n goeie rede voor: ’n mens sal God net soek en na Hom toe gaan as jy oortuig is en vertrou dat Hy dáár is en dat Hy mense wat na Hom toe kom met oop arms ontvang. Dink ook aan Noag. Hy het geglo wat God vir hom gesê het en het in alle erns ’n skip gebou om sy familie te red. Gelowig het hy geluister en gedoen, al was daar nog geen teken van reën of oorstromings wat sou kom nie. Sy geloof het duidelik gewys hoe ongelowig die ander mense was, en daarom kan hulle nie nou verskonings maak nie. Noag het gewys dat vertroue op God ’n mens vrymaak voor God.