HEBREËRS 12:1-3
HEBREËRS 12:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.
HEBREËRS 12:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Ons het 'n groot klomp getuies rondom ons, en daarom moet ons alles los wat ons kan keer om te doen wat ons moet doen, ja, ons moet ook die sonde los wat so maklik vir ons kan vashou. Daarom moet ons ook aanhou om te glo soos iemand wat aanhou om in 'n resies te hardloop wat hy moet klaarmaak. Ons moet dit doen terwyl ons aanhou om te kyk na Jesus, want dit is Hý wat ons van die begin af laat glo het en dit is Hý wat ons tot die einde laat glo. Jesus het geweet dat Hy later weer bly sou wees, en daarom het Hy gedink die skande van die kruis maak nie saak nie. Hy het aangehou om swaar te kry totdat Hy aan die kruis gesterf het. Daarom sit Hy nou op die belangrikste plek by die troon van God. Julle moet goed onthou dat Jesus geduldig was toe die sondaars slegte dinge teen Hom gesê en gedoen het. Julle moet aan Jesus dink sodat julle nie moeg en moedeloos word nie.
HEBREËRS 12:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAAROM dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. Want julle moet ag gee op Hom wat so 'n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.
HEBREËRS 12:1-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarom, terwyl ons ook so 'n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, Hy wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig gestel is, die kruis verduur het, die skande daarvan gering geag het, en sy plek aan die regterkant van die troon van God ingeneem het. Dink inderdaad aan Hom wat so 'n vyandigheid van die kant van sondaars teen Hom verduur het, sodat julle nie geestelik moeg raak en uitsak nie.
HEBREËRS 12:1-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom, aangesien ons ook deur so 'n groot wolk van getuies omsingel is, laat ons elke las aflê en die sonde wat ons so maklik tref, en laat ons die wedloop wat voor ons lê, met geduld hardloop, Met die oog op Jesus, die Skepper en Voleinder van ons geloof; wat vanweë die blydskap wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het, en sit aan die regterhand van die troon van God. Want let op hom wat so 'n teëspraak van sondaars teen homself verduur het, sodat julle nie moeg en moeg word in julle sinne nie.
HEBREËRS 12:1-3 Die Boodskap (DB)
Die lewe is soos ’n wedloop. Op die pawiljoen het ons ’n skare mense wat voor ons met geloof en vertroue in God geleef het. Hulle moedig ons aan om gelowig vol te hou met die wedloop. Laat ons dan ontslae raak van enigiets wat ons hinder om die wedloop van die lewe behoorlik te hardloop. Dit is veral die sonde wat ons gedurig wil pootjie. Laat ons soos die ander gelowiges hardloop met alles wat ons het. Laat ons maar net die wedloop hardloop deur op Jesus te konsentreer. Hy het vir ons gewys wat dit beteken om op God te vertrou en Hy sal ons tot aan die einde daarmee help, sodat ons geloof sal bly wat dit behoort te wees. Dink aan sy voorbeeld. Die skande en vernedering van die kruis was nie vir Hom te veel nie. Hy het dit alles verdra omdat Hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag. Kyk nou net, nou sit Hy op die ereplek by God in die hemel. Hou Hom gedurig in gedagte. Dink aan alles wat Hy moes deurmaak, ja, aan al die slegte dinge wat die sondige mense aan Hom gedoen het. As julle sy voorbeeld volg, sal julle nooit moedeloos word en tou opgooi nie.
HEBREËRS 12:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon! Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie.