HEBREËRS 13:20-21
HEBREËRS 13:20-21 Die Boodskap (DB)
God het ons Here Jesus uit die dood laat opstaan. Deur die bloed van hierdie Jesus het daar ’n nuwe ooreenkoms tussen God en ons tot stand gekom. Die ooreenkoms sal vir ewig en altyd bly staan. Hierdie Jesus is ook die groot Herder wat na sy skape kyk. Mag hierdie God van vrede julle alles gee wat julle nodig het sodat julle kan doen wat Hy van julle verwag. Mag Hy deur Jesus in ons lewe dinge doen waarop Hy trots kan wees. Aan Jesus behoort die eer en grootheid vir ewig en altyd. Amen.
HEBREËRS 13:20-21 Bybel vir almal (ABA)
Die God wat vrede gee, het ons Here Jesus, die groot Herder van die skape, weer laat lewe. God het dit gedoen omdat Hy sy ewige verbond met ons gemaak het toe die bloed van ons Here Jesus gevloei het. Ons bid dat God vir julle alles sal gee wat goed is, sodat julle kan doen wat Hy wil hê, en ons bid dat Jesus Christus vir julle sal help om die dinge te doen waarvan God baie hou. Daarom moet ons God altyd prys. Amen.
HEBREËRS 13:20-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAG die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Amen.
HEBREËRS 13:20-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring. Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.
HEBREËRS 13:20-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En mag die God van vrede, wat die groot Herder van die skape, ons Here Jesus, uit die dood uitgelei het deur die bloed van die ewige verbond, julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen, terwyl Hy in ons dit doen wat voor Hom welbehaaglik is, deur Jesus •Christus, aan wie die heerlikheid behoort, vir ewig en ewig! •Amen!
HEBREËRS 13:20-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die God van vrede, wat ons Here Jesus, die groot herder van die skape, uit die dood teruggebring het deur die bloed van die ewige verbond, Maak julle volmaak in elke goeie werk om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor sy oë, deur Jesus Christus; aan wie kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid. Amen.
HEBREËRS 13:20-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Mag die God wat vrede gee, wat Jesus ons Here uit die dood teruggebring het – Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die Herder van die kudde geword het – julle toerus met alles wat goed is sodat julle sy wil kan uitvoer. Mag Hy, deur Jesus Christus se bemagtiging, in ons tot stand bring wat God se hart sal bly maak. Aan Hom kom die heerlikheid toe vir altyd en altyd! Amen.