HEBREËRS 5:11-14
HEBREËRS 5:11-14 Bybel vir almal (ABA)
Ons kan baie dinge vir julle hieroor vertel. Maar dit is moeilik om dit vir julle te verduidelik, omdat julle nie gou verstaan nie. Julle moes nou al klaar leermeesters gewees het, maar julle is nie. Iemand moet nou weer vir júlle leer. Iemand anders moet vir julle wéér die dinge leer wat 'n mens eerste leer wanneer jy God se boodskap hoor. Julle is nou soos mense wat weer melk moet drink en wat nog nie ander kos kan eet nie. Want elkeen wat nog melk drink, is soos 'n klein babatjie. Hy het nog nie geleer wat is reg of wat is verkeerd nie. Maar grootmense eet ander kos. Hulle is mense wat baie maal ge-oefen het om te besluit wat is reg en wat is verkeerd. Daarom weet hulle wat is reg en wat is verkeerd.
HEBREËRS 5:11-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
waaroor ons veel te sê het wat swaar is om te verklaar, omdat julle traag geword het om te hoor. Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat 'n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy 'n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.
HEBREËRS 5:11-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
In verband hiermee het ons baie te sê wat moeilik is om aan julle te verduidelik, aangesien julle so traag is om te leer. Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig. 'n Mens moet julle met melk voed en nie met vaste kos nie. Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog 'n kind. Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.
HEBREËRS 5:11-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hieroor het ons baie om vir julle te sê wat moeilik is om te verduidelik, aangesien julle traag geword het om te luister. Want terwyl julle teen hierdie tyd reeds leraars moes gewees het, het julle nou weer nodig dat iemand julle die grondbeginsels van die uitsprake van God leer, en het julle weer behoefte aan melk, en nie vaste kos nie. Elkeen wat melk gebruik, is immers onervare ten opsigte van die boodskap van regverdiging, want hy is 'n suigeling. Maar vaste kos is vir volwassenes, vir hulle wat oor die aanvoeling beskik, deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad.
HEBREËRS 5:11-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Van wie ons baie dinge het om te sê en wat moeilik is om uit te spreek, omdat julle dof is om te hoor. Want wanneer julle vir die tyd leraars behoort te wees, het julle nodig dat iemand julle weer leer wat die eerste beginsels van die woorde van God is; en het mense geword wat aan melk behoefte het en nie aan sterk vleis nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onkundig in die woord van geregtigheid, want hy is 'n baba. Maar sterk vleis behoort aan die volwassenes, selfs dié wat vanweë hulle sin geoefen het om goed en kwaad te onderskei.
HEBREËRS 5:11-14 Die Boodskap (DB)
Ek kan nog baie hieroor sê, maar dit is vir my moeilik om dit behoorlik by julle tuis te bring, omdat julle nie eintlik wil luister nie. Om die waarheid te sê, behoort julle eintlik self al mense te gewees het wat ander van die dieper dinge van die godsdiens kon vertel. Maar kyk net na julle: ’n mens moet julle weer van die begin af al die basiese dinge oor God en sy boodskap leer. Op geestelike gebied is julle soos regte babatjies wat net melk drink en geen vaste kos kan eet nie. En iemand wat dit doen, is nog ’n babatjie in die geloof. Hy weet nog nie eens mooi wat die verskil tussen reg en verkeerd is nie. Vaste kos is bedoel vir grootmense, ook op geestelike vlak. Hulle het al in die lewe geleer om te weet wat goed en wat sleg is.
HEBREËRS 5:11-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Aangaande Jesus ons Hoofpriester het ons nog baie om vir julle te sê. Dis egter moeilik om dit aan julle te verduidelik omdat julle so traag is om te leer. As ’n mens dink aan hoe lank julle reeds gelowiges is, moes julle eintlik al self onderrig in die geloof gegee het. En nou het ’n mens werklikwaar weer nodig om julle die mees elementêre aspekte van die woord van God te leer! Julle is soos babatjies wat nog net melk kan drink en nie vaste kos kan inneem nie. Mense wat nog van melk leef, kan nie werklik saampraat oor die suiwer leer nie. Hulle is dan nog maar net kinders. Vaste kos is bedoel vir grootmense – vir hulle wat in die skool van die lewe ingeoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.