HEBREËRS 9:1-10

HEBREËRS 9:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Die eerste verbond het ook reëls gehad wat sê hoe die mense vir God moet dien, en dit het ook 'n gewyde tent hier op aarde gehad waar die mense vir God kon dien. Die Israeliete het die tempel-tent gebou. In die eerste kamer was die lampstaander en die tafel met die offer-brood. Hulle het die eerste kamer genoem die “ gewyde kamer.” Agter die tweede gordyn was die tweede kamer wat hulle die “ hoog-gewyde plek” genoem het. In hierdie kamer was die goue wierook-altaar en die verbondskis wat hulle heeltemal oorgetrek het met goud. In die kis was die goue kruik waarin daar manna was, en die kierie van Aäron waaraan daar takkies en blare gegroei het, en die twee plat klippe van die verbond waarop die tien gebooie was. Op die kis was die gerubs wat wys dat God daar is. Die skaduwee van die gerubs se vlerke was oor die deksel van die kis, die plek waar God die mense se sondes versoen het. Daar is nie nou tyd om te praat oor elkeen van al hierdie dinge in die tempel-tent nie. Die Israeliete het al hierdie dinge so gereedgemaak. Die priesters het altyd in die eerste tent ingegaan om daar die werk van priesters te doen. Maar in die tweede tent het net die hoëpriester ingegaan, een maal elke jaar. Hy het altyd bloed saamgeneem wanneer hy daar ingegaan het, die bloed wat hy ge-offer het vir sy eie sondes en vir die sondes wat die volk gedoen het toe hulle nie geweet het dat dit sonde is nie. So wys die Heilige Gees dat die pad na die regte hoog-gewyde plek in die hemel nie oop is terwyl die eerste kamer nog daar is nie. Hierdie eerste kamer is 'n voorbeeld van die tyd wanneer mense presente en offers bring, maar die presente en offers kan nie die mense wat vir God dien, help om heeltemal te weet wat is reg en wat is verkeerd nie. Daardie offers was net oor reëls wat sê wat 'n mens moet doen en wat jy nie moet doen nie, dinge wat ander mense kan sien. Dit was reëls oor dinge wat mense geëet of gedrink het en oor hoe hulle mense moes was om hulle rein te maak. Maar hierdie reëls bly net daar totdat die tyd kom wanneer God alles reg en nuut sal maak.

HEBREËRS 9:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die eerste verbond het voorskrifte vir die erediens gehad, en ook 'n aardse heiligdom. Die verbondstent is opgerig, en in die voorste gedeelte daarvan, wat die Heilige genoem word, het die kandelaar en die tafel met die offerbrode gestaan. Agter die tweede voorhangsel was die gedeelte wat die Allerheiligste genoem word. Daarin was die goue wierookaltaar en die verbondsark, wat in sy geheel met goud oorgetrek was. In die ark was die goue kruik met manna, die kierie van Aäron wat gebot het, asook die plat klippe met die wet van die verbond daarop geskrywe. Bo-op die ark het die gerubs wat die heerlikheid van God voorstel, hulle vleuels oor die versoendeksel uitgestrek. Op die besonderhede kan ons nie nou verder ingaan nie. Met die dinge só ingerig, het die priesters gereeld die voorste gedeelte van die verbondstent binnegegaan om die dienste te verrig. Maar in die agterste gedeelte het alleen die hoëpriester ingegaan, en dit net een keer in die jaar, en dan nie sonder bloed nie, om vir homself te offer en vir die sondes wat die volk onwetend gedoen het. Hiermee maak die Heilige Gees duidelik dat die pad na die Allerheiligste toe nie oop is so lank as die voorste gedeelte van die verbondstent bestaan nie. Dit alles wys vooruit na die huidige tyd waarin offergawes en diereoffers gebring word wat nie vir dié een wat dit bring, 'n volkome skoon gewete kan gee nie. Dit het net betrekking op voedsel, drank en 'n verskeidenheid reinigingsgebruike. Dit is voorskrifte wat slegs die uiterlike raak en wat opgelê is tot die tyd dat God 'n beter orde sou instel.

HEBREËRS 9:1-10 Die Boodskap (DB)

Met die eerste ooreenkoms was daar ’n heilige plek op aarde en ook baie reëls oor hoe ’n mens God moes aanbid. ’n Spesiale plek met twee kamers is reggemaak. Die eerste kamer is die “Heilige deel” genoem. Daar het hulle ’n lamp en die tafel met die heilige brood gesit. Tussen die eerste en die tweede kamer het daar ’n gordyn gehang wat die twee van mekaar geskei het. Die tweede kamer is die “Heiligste deel” genoem. In die kamer het die goue altaar gestaan waarop kruie gebrand is wat lekker ruik, asook die kis wat met goud oorgetrek was. Dit is die “ark” genoem. Die ark het die mense aan hulle ooreenkoms met God herinner. In die ark was daar ’n goue potjie met manna in, Aäron se kierie wat geblom het en die twee plat klipplate waarop die wet van die ooreenkoms tussen God en sy mense geskryf was. Bo-op die ark het ’n beeld van twee hemelwesens gestaan wat gerubs genoem is. Hulle het hulle vlerke uitgestrek oor die deksel van die ark. Hulle het die wonderlike grootheid van God voorgestel. Maar ek kan nie nou al dié dinge in besonderhede bespreek nie. Nou weet ons ten minste hoe die Heilige plek gelyk het. Die priesters het gereeld in die eerste kamer (die Heilige deel) ingegaan. Daar het hulle alles gedoen wat hulle moes. Net die hoëpriester kon in die tweede kamer (die Heiligste deel) ingaan, niemand anders nie. Hy kon dit ook net een maal ’n jaar doen. Dan het hy bloed saamgevat om te offer sodat sy eie sonde deur God vergewe kon word, asook al die verkeerde dinge wat God se mense gedoen het, al het hulle dit nie eens besef nie. Die Heilige Gees het hierdie dinge vir ons laat neerskryf sodat ons kan besef dat die pad na die Heiligste deel vir gewone mense soos ons nog toe was solank daar nog ’n ander vertrek, die Heilige deel, ook was. Ons kan nogal baie hieruit leer: mense het wel allerhande geskenke en offers na die Heilige plek toe gebring, maar hulle kon nie heeltemal seker wees dat hulle saak met God dan honderd persent reg was nie. Hulle was vreeslik ernstig oor wat hulle mag eet en drink en wat nie en het allerhande dinge gedoen om hulle darem aanvaarbaar vir God te probeer hou. Hierdie soort dinge raak nie regtig die hart van die godsdiens nie en daarom, vandat Christus alles nuut kom maak het, is hierdie dinge ook nie meer nodig nie.

HEBREËRS 9:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die eerste verbond het voorskrifte vir die erediens en ’n aardse heiligdom gehad. Wat die aardse heiligdom betref: die verbondstent het twee vertrekke bevat. In die eerste een, dié een wat die Heilige genoem word, het die kandelaar en die tafel met die offerbrode gestaan. Aan die agterkant van die Heilige was daar ’n tweede gordyn, en daaragter was die tweede vertrek wat bekend gestaan het as die Allerheiligste. Daardie vertrek het die goue reukofferaltaar bevat en die ark van die verbond wat heeltemal met goud beklee was. Binne-in die ark was die goue kruik met manna, Aäron se kierie wat gebot het, en die kliptablette van die verbond waarop die Tien Gebooie gegraveer was. Bo-op die ark het die glansende gerubs die deksel van die ark – die plek van versoening – met hulle vlerke oorskadu. Ek kan egter nie nou op die besonderhede ingaan nie. Wat die erediensbepalings betref: Met alles so ingerig, het die priesters gereeld in die voorste vertrek van die verbondstent ingegaan om hulle dienste te verrig. Maar in die agterste vertrek, die Allerheiligste, kon net die hoofpriester ingaan en dit net een keer per jaar – boonop altyd met bloed wat hy aan God moes offer vir sy eie sondes sowel as vir die sondes wat die volk in hulle onkunde begaan het. Deur hierdie bepalings wys die Heilige Gees daarop dat die Allerheiligste nog nie vir almal oop was solank die voorste gedeelte van die verbondstent nog sy plek gehad het nie. Die tekortkomings van die ou erediens bevat vir ons vandag ’n les deurdat gawes en offers gebring is wat nie vir die een wat dit bring ’n volkome skoon gewete kon gee nie en net te doen gehad het met kos en drank en allerlei reinigingsgebruike – dinge wat net die uiterlike raak en wat net sou geld totdat God alles sou regstel.