HEBREËRS 9:12-15
HEBREËRS 9:12-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en 'n ewige verlossing tot stand gebring. Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van 'n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer. Daarom is Hy ook die Middelaar van 'n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.
HEBREËRS 9:12-15 Bybel vir almal (ABA)
Christus het net een maal en vir altyd in die hoog-gewyde kamer ingegaan en Hy sal nooit weer daar moet ingaan nie. Hy het daar ingegaan, maar nie soos die hoëpriester met die bloed van bokke en kalwers nie. Hy het gesterf en Hy het sy eie bloed daar ingeneem, en so het Hy ons vir altyd gered. Die priesters het op onrein mense die bloed gespat van bokke en bulle en die as van 'n vers-kalf wat heeltemal verbrand het en wat hulle in water gegooi het. Wanneer die priesters dit gedoen het, dan het dit die onrein mense gereinig en dan was hulle rein. Dan kon hulle weer in die tempel kom en vir God dien. Christus het 'n offer vir God geword, die Heilige Gees wat altyd lewe, het Hom gehelp om 'n offer te wees wat heeltemal gesond is. Daarom sal die bloed van Christus ons reinig, baie beter as die offers van bokke en bulle, en dan sal ons ophou om dinge te doen wat ons geestelik dood laat word, en ons sal heeltemal weet wat is reg en wat is verkeerd. Dan sal ons vir God kan dien, God wat lewe. Christus het gesterf om mense vry te maak, God het hulle nie gestraf oor die dinge wat hulle verkeerd gedoen het in die tyd van die ou verbond nie. Daarom is Hy die Middelaar van die nuwe verbond. God het mense gekies, en Christus het die nuwe verbond gebring sodat daardie mense vir altyd alles kan kry wat Hy vir hulle belowe het.
HEBREËRS 9:12-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en 'n ewige verlossing teweeggebring. Want as die bloed van stiere en bokke en die as van 'n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien. En daarom is Hy Middelaar van 'n nuwe testament, sodat, terwyl daar 'n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.
HEBREËRS 9:12-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het ook nie met die bloed van bokramme en bulkalwers nie, maar eens en vir altyd, met sy eie bloed, die heiligdom binnegegaan, en 'n ewige verlossing bewerkstellig. Want as die bloed van bokramme en bulle, en die as van 'n jong vers, die verontreinigdes deur besprinkeling wy, met die oog op die reiniging van die liggaam, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees as vlekkelose offer aan God geoffer het, ons gewete reinig van dooie werke, sodat ons die lewende God kan dien? Aangesien daar 'n dood was, as losprys vir die oortredings, ten tyde van die eerste testament, is Hy juis daarom Middelaar van 'n nuwe testament, sodat dié wat geroep is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.
HEBREËRS 9:12-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ook nie deur die bloed van bokke en kalwers nie, maar deur sy eie bloed het Hy een maal in die heiligdom ingegaan, nadat Hy vir ons die ewige verlossing verkry het. Want as die bloed van bulle en bokke en die as van 'n vers wat die onreines besprinkel, heilig maak tot die reiniging van die vlees; Hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God vlekkeloos geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien? En daarom is hy die middelaar van die nuwe testament, sodat die wat geroep is, deur die dood, vir die verlossing van die oortredinge wat onder die eerste testament was, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.
HEBREËRS 9:12-15 Die Boodskap (DB)
Hy het nie in die hemelse Heiligste deel ingegaan omdat Hy die bloed van diere by Hom gehad het nie, maar sy eie bloed. Hy het net een maal in die Heiligste deel met sy bloed as offer ingegaan en so het Hy dit vir mense moontlik gemaak om altyd by God te wees. Onder die reëls van die ou ooreenkoms is die bloed van bokke of beeste of die as van ’n bul wat op die offeraltaar verbrand is, op iemand gestrooi. So is daar ontslae geraak van al die verkeerde dinge wat die persoon vir God onaanvaarbaar gemaak het. Dink net hoeveel duisend keer meer aanvaarbaar sal die bloed van Christus ons dan vir God maak. Die Heilige Gees het Jesus gelei om Homself aan God te offer al het Hy niks verkeerds gedoen nie. So bevry Hy ons van die bekommernis wat ons het oor al die verkeerde dinge wat ons gedoen het en waarvoor ons eintlik net die dood verdien. Nou kan ons die lewende God voluit dien. Hy is die Een wat die nuwe ooreenkoms tussen God en sy mense kom maak het. Nou kan almal vir wie God na Hom toe geroep het, alles by Hom kry wat Hy belowe het, want hulle is nou sy kinders. Daarvoor het Jesus self gesorg. Hy het alles gegee wat God gevra het om die verkeerde dinge te vergewe wat die mense gedoen het. Dit geld selfs vir die mense onder die ou ooreenkoms.
HEBREËRS 9:12-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Eens en vir altyd het Hy met bloed in die Allerheiligste ingegaan, maar nie met die bloed van bokke en kalwers nie, nee, Hy het met sy eie bloed daar ingegaan en vir ons ’n ewige verlossing bewerk. Onder die ou stelsel kon die bloed van bokke en bulle en die as van ’n vers, wanneer dit oor mense gesprinkel word, hulle liggame van rituele besoedeling reinig. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die werking van die ewige Gees as ’n volkome offer aan God geoffer het, ons gewetens skoon was van die las van dade wat tot die dood lei sodat ons die lewende God kan dien! Daarom is Hy ook die Middelaar van die nuwe verbond tussen God en ons sodat almal wat geroep is, die ewige erfdeel kan ontvang wat God vir hulle beloof het. Want Christus het gesterf om hulle te verlos van die straf op die oortredings wat onder die eerste verbond begaan is.