JESAJA 21:1-5
JESAJA 21:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Die Here was kwaad en Hy het gepraat teen die land in die woestyn. Die vyande kom uit die woestyn soos stormwinde wat alles wegwaai in die Suid-land. Die vyande kom van daardie land, en almal is bang vir die mense van die land. Ek het gesien daar gaan 'n vreeslike ding gebeur. Ek het gesien mense verraai vir Babel en hulle verwoes die land. Kom, mense van Elam en Medië, julle moet kom, en julle moet die stad aanval van al die kante. Die Here wil hê die swaarkry moet ophou. Wanneer ek hoor en sien wat sal gebeur, dan kry ek pyne soos 'n vrou wat 'n baba kry, ek buig krom en ek skrik. Ek weet nie wat om te doen nie, ek word baie bang. Ek was altyd bly wanneer dit aand word, maar nou is ek bang wanneer die donker kom. Ek sien die bediendes dek die tafel en gooi die matte oop, en die amptenare van Babel eet en drink. En dan roep iemand en hy sê: “Staan op, amptenare, smeer julle skilde met olyf-olie.”
JESAJA 21:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
GODSPRAAK oor die woestyn van die see. Soos stormwinde in die Suidland deurtrek, kom dit uit die woestyn, uit 'n vreeslike land! 'n Harde gesig is my te kenne gegee: Die ontroue handel troueloos, en die verwoester verwoes. Trek op, Elam! Beleër, Medië! Aan alle gesug maak Ek 'n einde. Daarom is my heupe vol siddering, weë het my aangegryp soos die weë van een wat baar; ek buig my krom, sodat ek nie hoor nie; ek is verskrik, sodat ek nie sien nie. My hart duisel, angs oorval my; dit maak vir my die skemeraand wat ek liefhet, tot 'n verskrikking. Hulle maak die tafel gereed, hulle sprei die tapyt, hulle eet, drink ... Staan op, o vorste, salf die skild!
JESAJA 21:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Uitspraak van die Here teen Babel: Soos warrelwinde deur die Suidland trek, so kom daar iemand uit die woestyn, uit die land waarvoor almal bang is. 'n Harde oordeel is aan my geopenbaar: die verraaier pleeg verraad, die verwoester saai verwoesting. Elam, jy moet oorlog maak! Medië, jy moet begin veg! Die Here maak 'n einde aan al die lyding. Skrik oorweldig my, angs oorval my soos dié van 'n vrou wat 'n kind in die wêreld bring. Ek is verskrik oor wat ek gehoor het, ek is bang oor wat ek gesien het. My verstand staan stil, angs oorweldig my, die rustigste deel van die dag is nou vir my 'n verskrikking. 'n Tafel word gedek, die eetgerei is reggesit, hulle begin eet en drink! Dan kom die bevel: “Leiers, wees gereed! Smeer die skilde met olie!”
JESAJA 21:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Profesie oor die woestyn by die see. Soos stormwindvlae in die Negev kom hy uit die woestyn, uit 'n vreesaanjaende land. 'n Onverbiddelike openbaring is my meegedeel: “Die verraaier pleeg verraad, die verwoester verwoes. Ruk op, Elam! Medië, beleër! Aan al die gesug maak Ek 'n einde.” Daarom is my heupe aan die sidder en oorval krampe my soos die krampe van 'n vrou wat geboorte gee. Ek krimp ineen oor wat ek hoor, ek is angsbevange oor wat ek sien. My hart is verbyster; ontsetting het my oorval. Die skemeraand, kosbaar vir my, het vir my angs gebring. Dek die tafel, pak die kussings reg, eet, drink – staan op, bevelvoerders! Smeer die skilde met olie!
JESAJA 21:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die las van die woestyn van die see. Soos warrelwinde in die suide deurtrek; so kom dit uit die woestyn, uit 'n vreeslike land. 'n Swaar gesig is aan my verkondig; die ontroue handel dryf verraderlik, en die ontroue bederf. Trek op, o Elam, beleër, o Medië! al sy gesug het ek laat ophou. Daarom is my lendene vol pyn: weë het my aangegryp soos die weë van 'n vrou wat baar; Ek was verslae toe ek dit sien. My hart het gehyg, vrees het my verskrik; die nag van my welbehae het vir my verander in vrees. Berei die tafel voor, waak in die wagtoring, eet, drink; staan op, o vorste, en salf die skild.
JESAJA 21:1-5 Die Boodskap (DB)
Die Here se boodskap om Babel se straf aan te kondig: Soos warrelwinde wat oor die Negevwoestyn aangewaai kom, so kom daar invallers van die woestyn se kant af uit ’n land waarvoor almal bang is. Ek het ’n skrikwekkende visioen gesien, ’n visioen van verwoesting en verraad. Elam, julle moet aanval! Medië, julle moet die stede beleër! Die Here gaan ’n einde maak aan al die swaarkry wat Babel veroorsaak het. Die goed wat ek gesien het, is so angswekkend dat my hele liggaam inmekaartrek soos ’n vrou wat besig is om te kraam. My kop draai en my keel trek toe van vrees. My rustige slaap is iets van die verlede, ek lê in die nag wakker en bewe van angs. Kyk na Babel, hulle dek sowaar nog tafels om fees te vier en gooi matte op die vloer waarop die feesgangers kan sit. Offisiere, kry eerder julle wapens slaggereed vir die oorlog!
JESAJA 21:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hierdie boodskap het na my gekom oor Babel: Rampe storm uit die woestyn op jou af soos dwarrelwinde wat deur die Negevwoestyn waai. Ek sien ’n skrikwekkende visioen: Ek sien dat jy geplunder en verwoes is. Gaan aan, mense van Elam en Medië, neem deel aan die beleg. Babilon sal val, en die gekla van die nasies wat deur haar verslaaf is, sal ophou. My lyf pyn soos dié van ’n vrou wat besig is om geboorte aan ’n kind te gee. Ek is platgeslaan deur wat ek hoor, en verskrik deur wat ek sien. My hart steier, ek is bang. Ek wens dat ek kan slaap, maar ek is te bang. Hulle maak reg vir ’n groot fees. Hulle gooi matte uit vir mense om op te sit. Almal eet en drink. Gou! Gryp julle skilde en maak reg vir die geveg! Julle word aangeval!