JESAJA 40:12-28
JESAJA 40:12-28 Bybel vir almal (ABA)
Wie het gesê hoeveel water daar moet wees en hoe groot die lug daarbo moet wees? Wie het gesê hoeveel grond daar moet wees en hoe hoog die berge en die heuwels moet wees? Wie mag vir die Here sê wat Hy moet dink, wie mag vir Hom sê wat die regte dinge is wat Hy moet doen? Vir wie het die Here gevra wat Hy moet doen? Wie het vir Hom geleer en vir Hom gesê wat die regte ding is om te doen? Wie het vir Hom geleer om alles te verstaan? Niemand. Al die volke beteken niks, ook die mense by die see beteken niks. Hulle is soos 'n druppel water uit 'n emmer, hulle is soos 'n bietjie stof op 'n weegskaal. Al die hout en al die wilde diere op die Libanon-berg is te min om vuur te maak en vir die Here 'n brand-offer te bring. Al die volke is soos niks voor die Here, by Hom is hulle minder as niks, hulle is nul. Dink julle iemand kan soos God wees? Wat kan julle langs Hom sit wat soos Hy sal wees? Dink julle 'n afgodsbeeld is soos die Here? Nee. 'n Beeld is iets wat 'n ambagsman maak en met goud oortrek en met silwerkettings vasmaak. Of 'n beeld is iets wat 'n ambagsman uit harde hout sny en vas laat staan sodat dit nie omval nie. Weet julle nie? Het julle nie gehoor nie? Het niemand dit vir julle vertel nie? Kan julle nie verstaan nie? Dit is God wat die aarde gemaak het! Sy troon is bokant die hemeldak, en die mense op die aarde lyk vir Hom soos sprinkane. Dit is God wat die hemeldak styftrek, soos 'n spinnekop se net of soos 'n tent. Hy maak belangrike mense onbelangrik, Hy laat mense wat regeer, soos niks word. Hulle is soos plante: Wanneer hulle nog klein is, dan laat God die warm wind oor hulle waai, en hulle word droog en die stormwind waai hulle weg soos kaf. Die heilige God vra: “Dink julle daar is iemand soos Ek? Is daar iemand wat soos Ek is? Kyk op. Wie het die sterre gemaak en wie het gesê hoeveel sterre daar moet wees? Wie het vir elke ster 'n naam gegee? Hulle is almal daar omdat Ek die God is wat kan doen wat Ek wil doen.” Nageslag van Jakob, mense van Israel, hoekom sê julle die Here sien nie wat met julle gebeur nie? Hoekom sê julle dit maak nie vir God saak wanneer mense slegte dinge aan julle doen nie? Weet julle nie, het julle nie gehoor nie? Die Here is God vir altyd, Hy het die hele wêreld gemaak. Hy word nie moeg nie en Hy rus nie, en niemand kan weet hoeveel die Here weet nie.
JESAJA 40:12-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WIE het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met 'n span die maat geneem, en in 'n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met 'n weegtoestel en die heuwels met 'n weegskaal? Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig? Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig? Kyk, die nasies is soos 'n druppel aan die emmer, en soos 'n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos 'n stoffie! En die Líbanon is nie genoeg as brandhout en sy wild nie genoeg as brandoffer nie. Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken. By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel? Die ambagsman giet 'n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt silwerkettings. Wie te arm is vir so 'n offergawe, kies 'n stuk hout wat nie vergaan nie; hy soek vir hom 'n kunsvaardige ambagsman om 'n beeld op te rig wat nie wankel nie. Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie? Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos 'n dun doek en sprei dit uit soos 'n tent om in te woon. Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid; skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars wortel hulle stam in die grond, of Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg soos 'n stoppel. By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige. Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie. WAAROM sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby? Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.
JESAJA 40:12-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet, met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal, met 'n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met 'n skaal die berge en die heuwels geweeg? Wie kan die Gees van die Here peil, wie kan sy raadgewer wees? Vir wie raadpleeg Hy dat dié Hom tot insig sou bring en Hom sou leer wat om te doen? Wie leer Hom en onderrig Hom dat Hy met insig kan optree? Die nasies is vir Hom soos 'n druppel aan 'n emmer, soos 'n stoffie op 'n skaal. As Hy die eilande op 'n skaal sit, is hulle soos stofdeeltjies. Al die hout op die Libanon is nie genoeg vir vuur op die altaar nie en al die wild nie genoeg vir 'n offer aan die Here nie. Al die nasies is soos niks teenoor Hom, hulle is vir Hom minder as niks, asof hulle nie bestaan nie. Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel? 'n Beeld word deur 'n ambagsman gegiet en deur 'n smid met goud oorgetrek en met silwerkettinkies versier. Wie te arm is vir so 'n offer aan sy god, kies hout wat nie vrot nie en soek vir hom 'n bedrewe ambagsman om vir hom 'n beeld te maak wat nie omval nie! Weet julle dan nie, het julle nie gehoor nie, is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie, het julle nie 'n begrip van hoe die aarde ontstaan het nie? God het sy troon bokant die hemelkoepel, die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane. Hy span die hemel oop soos 'n tentdoek, oop soos 'n tent vir die mense om onder te woon. Hy maak die vername mense tot niks, die heersers van die wêreld asof hulle nie bestaan nie. Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars het hulle wortelgeskiet, of Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor, die stormwind vat hulle weg soos stoppels. Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige. Kyk op na die hemel: wie het die sterre geskep? Hy wat die hemelse leër laat uittrek in hulle volle getal, dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het. Met sy groot krag, sy groot mag, sorg Hy dat geeneen van hulle ontbreek nie. Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby”? Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik.
JESAJA 40:12-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wie kan die waters in die holte van sy hand afmeet, die hemel met sy handspan peil, met 'n derde van 'n efa die stof van die aarde opvang, met 'n handskaal die berge weeg, die heuwels met 'n weegskaal? Wie kan die Gees van die HERE peil, wie is die mens wat aan Hom sy raadsbesluit bekend maak? Met wie beraadslaag Hy, en wie hou Hom op hoogte, wie onderrig Hom oor die verloop van 'n regsaak? Wie dra aan Hom kennis oor, en die pad van wyse beskikking, wie maak dit aan Hom bekend? Kyk, nasies is soos 'n druppel uit 'n leersak; hulle word beskou as net 'n lagie stof op 'n weegskaal. Kyk, eilande weeg Hy asof dit fyn stof is. Die Libanonbos se hout is nie genoeg om 'n vuur te maak, en sy wilde diere nie genoeg vir 'n •brandoffer nie. Al die nasies is soos niks voor Hom; deur Hom word hulle beskou as minder as iets niksseggends, minder as 'n nietigheid. Met wie wil julle God vergelyk? Watter afbeelding wil julle langs Hom stel? 'n Afgodsbeeld wat 'n vakman gegiet het, wat 'n smid met goud oorgetrek het, 'n smid met silwer beslaan het? As 'n wydingsgeskenk kies mens ebbehout, hout wat nie verrot nie. 'n Vaardige vakman soek hy vir hom om 'n afgodsbeeld te maak wat nie omkantel nie. Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie? Het julle nie begrip van die aarde se fondamente nie? Dit is Hy wat troon bo die ronde skyf van die aarde; die bewoners daarvan is soos koringkrieke. Dit is Hy wat die hemel oopspan soos 'n doek, dit oopsprei soos 'n tent, sodat mense daar kan woon. Dit is Hy wat maghebbers tot niks maak; die regeerders van die aarde maak Hy 'n nietigheid. Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars skiet hulle steggies wortel in die grond, of Hy het reeds op hulle geblaas, en hulle verdor; dan lig 'n stormwind hulle op soos strooi. “Met wie wil julle My vergelyk, sodat Ek net soos hulle sal wees?” vra die Heilige. Kyk boontoe en sien! Wie het hierdie dinge geskep? Dit is Hy wat die hemelse leër een vir een uitlei, hulle almal op die naam roep. Deur die toedoen van Hom wat groot vermoëns en geweldige krag het, ontbreek nie een nie. Waarom sê jy dan, Jakob, en beweer jy, Israel: “My lewenspad is verborge vir die HERE, my reg gaan by my God verby”? Weet jy dit nie? Het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie – ondeurgrondelik is sy insig.
JESAJA 40:12-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wie het die waters in die holte van sy hand gemeet en die hemel met 'n span afgemeet en die stof van die aarde met 'n maat ingeneem en die berge met 'n weegskaal en die heuwels op 'n weegskaal geweeg? Wie het die Gees van die HERE gerig, of het Hom geleer as hy sy raadgewer was? Met wie het hy raad gehou, en wie het hom onderrig en hom op die pad van oordeel geleer en hom kennis geleer en hom die weg van insig getoon? Kyk, die nasies is soos 'n druppel van 'n emmer en word gereken as die stof van die weegskaal; kyk, Hy neem die eilande op soos 'n klein ding. En die Líbanon is nie genoeg om te verbrand nie, en sy diere is nie genoeg vir 'n brandoffer nie. Al die nasies voor hom is soos niks; en hulle word hom minder as niks en nietigheid gereken. Met wie sal julle God dan vergelyk? of watter gelykenis sal julle met Hom vergelyk? Die werker smelt 'n gesnede beeld, en die goudsmid sprei dit oor met goud en giet silwer kettings. Hy wat so arm is dat hy geen spysoffer het nie, kies 'n boom wat nie verrot nie; hy soek vir hom 'n listige werker om 'n gesnede beeld voor te berei wat nie wankel nie. Het julle nie geweet nie? het julle nie gehoor nie? is dit julle nie van die begin af vertel nie? het julle nie van die fondamente van die aarde af verstaan nie? Dit is Hy wat op die kring van die aarde sit, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; wat die hemel uitsprei soos 'n voorhangsel en dit uitsprei soos 'n tent om in te woon; Dit maak die vorste tot niet; Hy maak die regters van die aarde tot nietigheid. Ja, hulle sal nie geplant word nie; ja, hulle sal nie gesaai word nie; ja, hulle stam sal nie wortel skiet in die aarde nie; en hy sal ook op hulle blaas, en hulle sal verdor, en die storm sal hulle wegneem soos stoppels. Met wie sal julle My dan vergelyk, of sal ek gelyk wees? sê die Heilige. Slaan julle oë op in die hoogte, en kyk, wie het hierdie dinge geskape, wat hulle leër volgens getal na vore bring; Hy noem hulle almal by name deur die grootheid van sy sterkte, omdat Hy sterk in krag is; nie een faal nie. Waarom sê jy, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is verborge vir die HERE, en my reg het by my God verbygegaan? Het jy nie geweet nie? Het jy nie gehoor dat die ewige God, die HERE, die Skepper van die eindes van die aarde, nie beswyk en nie moeg word nie? daar is geen ondersoek na sy verstand nie.
JESAJA 40:12-28 Die Boodskap (DB)
Wie kan met sy hand uitmeet hoeveel hande vol water daar in die see is? Wie kan meet hoe groot die blou lug daar bo is? Kan iemand sê hoeveel emmers vol stof daar op die aarde is? Kan iemand sê hoe swaar die berge weeg? Kan iemand sê wat die heuwels op ’n skaal sal weeg? Wie kan vir die Here vertel wat Hy moet doen? Wie is daar by wie die Here raad kan kom vra? By wie kan die Here kom kers opsteek as Hy nie verstaan nie? Wie kan vir die Here leer wat die regte pad is? Wie kan vir die Here leer hoe Hy dinge moet verstaan? Die nasies is vir die Here soos ’n druppel in ’n emmer. Hulle is so min soos ’n stoffie wat jy op ’n skaal probeer weeg. Die lande is vir Hom so lig soos ’n sandkorreltjie. Al die bome op die Libanonberg is nie eens genoeg om vir Hom een offer te bring nie. Al die diere op die Libanonberg is nie eens genoeg vir een offer vir die Here nie. Al die nasies tel niks teenoor die Here nie. Hulle is vir Hom soos lug wat leeg is. Met wie kan julle God vergelyk? Watter beeld kan julle gebruik om Hom te beskryf? Hy is mos nie soos ’n afgodsbeeld wat uit yster gegiet word en wat ’n kunstenaar dan met goud en silwer oortrek nie. Hy is ook nie soos ’n man se afgod wat ’n beeldhouer vir hom uit harde hout gemaak het wat op sy voete kan staan nie. Weet julle nie? Verstaan julle dan nie wat al van die begin van die wêreld af vir julle vertel is nie? Die Here bly doer bo in die lug. Die mense wat onder op die aarde bly, lyk van daar af so klein soos sprinkane. Hy span die blou lug uit soos ’n dak bo-oor ’n tent. Hy slaan dit op soos ’n tent om in te bly. Hy vat konings weg. Hy maak asof die regeerders van die wêreld nie eens bestaan nie. Hulle is soos ’n plant wat skaars geplant is en begin wortelskiet of God laat ’n wind daaroor waai wat dit uitdroog. Hulle waai in ’n storm weg, soos wind stukkies gras wegwaai. Die groot God vra: “Wie is daar met wie julle My kan vergelyk? Wie is daar wat net soos Ek is?” Kyk op na die sterre in die lug. Hy wat hulle gemaak het, laat hulle almal in die aand uitkom. Hy ken elkeen van hulle se naam. Met sy groot krag sorg Hy dat nie een van hulle wegraak nie. Jakob, waarom beweer jy dan dat die Here nie raaksien wat met jou gebeur nie? Waarom sê jy, Israel, dat Hy Hom nie daaraan steur dat jy verontreg word nie? Verstaan julle nie en begryp julle dan nie dat die Here vir ewig en altyd God is nie? Hy het die hele wêreld gemaak. Hy word nooit moeg nie. Hy word nooit uitgeput nie. Niemand kan Hom regtig verstaan nie.
JESAJA 40:12-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wie anders het die oseane in sy hand gehou? Wie het die hemel afgemeet met die breedte van sy hand? Wie het die grond van die aarde met ’n maatemmer gemeet, of het die berge en die heuwels met ’n skaal geweeg? Wie kan die Gees van die HERE advies gee? Wie weet genoeg om Hom raad te gee of Hom te leer? Het die HERE al ooit raad van ander nodig gehad? Het Hy nodig dat iemand Hom vertel wat die goeie is of wat die beste is? Al die nasies van die wêreld is vir Hom soos ’n druppel in ’n emmer, soos stof op ’n skaal. Hy tel die eilande op asof hulle geen gewig het nie. Die Libanon se hout is nie genoeg vir offers, en sy diere nie voldoende vir brandoffers nie. Die nasies van die wêreld is vir Hom soos niks. In sy oë is hulle waardeloos, asof hulle nie bestaan nie. Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld sal julle Hom kan vergelyk? Kan jy Hom vergelyk met die afgodsbeeld? Dis deur ’n vakman gemaak, ’n goudsmid het dit met goud oorgetrek en met silwerkettinkies versier. Wie te arm is vir so ’n offer aan sy god, kies hout wat nie vrot nie en soek vir hom ’n bedrewe ambagsman om vir hom ’n beeld te maak wat nie omval nie. Weet julle dan nie? Verstaan julle nie? Is dit dan nie in die begin aan julle vertel nie? Weet julle nie Wie die aarde gegrondves het nie? God sit op sy troon bokant die hemelkoepel. Die mense op aarde lyk vir Hom soos sprinkane. Hy sprei die hemel uit soos ’n gordyn, Hy sprei dit oop soos ’n tent om in te woon. Hy oordeel oor vername mense en verlaag regeerders van die wêreld asof hulle nie bestaan nie. Hulle is skaars geplant, skaars gesaai, het skaars wortelgeskiet, of Hy blaas oor hulle en hulle verwelk en ’n stormwind waai hulle weg net soos kaf. “Met wie sal julle My vergelyk? Wie is my gelyke?” vra die Heilige Een. Kyk op na die hemel. Wie het die sterre gemaak? Hy laat hulle soos ’n leërmag uitmarsjeer, die een ster na die ander, en roep elkeen by sy naam. Met sy groot krag en mag sorg Hy dat nie een wegraak of verdwaal nie. Israel, hoe kan jy dan sê: “Die HERE sien nie my moeilikheid raak nie”? Hoe kan jy beweer: “God weier om na my saak te luister”? Het jy nog nooit gehoor of verstaan nie? Weet jy nie dat die HERE van altyd af God is nie? Hy is die Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg of gedaan nie en niemand kan die dieptes van sy insig meet nie.