JESAJA 40:9-10 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
JESAJA 40:9-10 AFR83 (Afrikaans 1983)
Klim op 'n hoë berg en roep hard, Sion, jy wat die goeie tyding moet bring; roep hard, Jerusalem, jy wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: “Julle God is hier!” Die Here God kom, Hy is die Magtige, Hy regeer. Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het, dié wat aan Hom behoort, is by Hom.
JESAJA 40:9-10 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
O Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op 'n hoë berg! O Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God! Kyk, die Here HERE sal kom as 'n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig.
JESAJA 40:9-10 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Boodskapper van goeie nuus, roep vir die tempelberg van die bergpieke af! Boodskapper van goeie tyding, roep hard vir Jerusalem! Moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: “Hier is jou God!” Die oppermagtige HERE kom met heerlike krag en regeer met mag. Kyk, Hy bring sy beloning saam. Dit is by Hom.
JESAJA 40:9-10 DB (Die Boodskap)
Sion, gaan klim op ’n hoë berg. Bring die goeie nuus. Jerusalem, skreeu die wonderlike boodskap uit met alles wat jy het. Moenie bang wees nie. Skreeu so hard as jy kan. Sê vir die dorpe in Juda: “Kyk, die Here gaan kom!” Die Here kom met krag. Hy sal regeer met mag. Hy kom gee sy beloning. Hy kom gee ook sy straf.
JESAJA 40:9-10 ABA (Bybel vir almal)
Mense van Jerusalem, mense van Sion, julle moet die boodskappers wees wat die goeie nuus bring. Julle moet hoog op 'n berg klim en hard skree. Julle moenie bang wees nie, julle moet vir die stede van Juda sê: “Hier kom julle God! Kyk, die Here kom, Hy is die Sterk God, Hy kan doen wat Hy wil doen. Kyk, Hy bring sy mense saam, sy volk is by Hom.
JESAJA 40:9-10 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Klim op 'n hoë berg, Sion, boodskapper van vreugde! Verhef jou stem met krag, Jerusalem, boodskapper van vreugde! Verhef dit, moenie bang wees nie! Sê vir die dorpe van Juda: “Hier is julle God!” Kyk, my Heer, die HERE – met krag kom Hy, en sy arm oefen vir Hom heerskappy uit. Kyk, sy vergoeding is by Hom, sy beloning is voor Hom.
JESAJA 40:9-10 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
O Sion, wat goeie boodskap bring, klim op die hoë berg; O Jerusalem, wat goeie boodskap bring, verhef u stem met krag; hef dit op, wees nie bevrees nie; sê vir die stede van Juda: Hier is julle God! Kyk, die HERE HERE sal met sterk hand kom, en sy arm sal vir hom heers; kyk, sy loon is by hom, en sy werk voor hom.