JESAJA 53:10-12
JESAJA 53:10-12 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het besluit dat die dienaar moet seerkry en siek word. Die Here het gesê hy is 'n skuld-offer. Daarom sal hy lank lewe en 'n nageslag hê. Die Here sal sy dienaar gebruik om te doen wat die Here wil doen.” Die Here sê: “My dienaar het baie swaar gekry, maar hy sal lewe en tevrede wees dat hy My ken. My dienaar is nie skuldig nie, hy is regverdig, en hy sal belangrike mense regverdig maak, want hy sal die straf kry vir alles wat hulle verkeerd gedoen het. Daarom sal Ek vir hom 'n plek gee by die belangrike mense. Hy sal saam met die leiers besluit hoeveel goed elkeen moet kry ná die oorlog. Ek sal dit doen omdat hy tevrede was om te sterf toe almal gedink het dat hy een van die opstandige mense is. Hy het die straf gekry vir die sonde van die belangrike mense, en hy het gebid vir die mense wat opstandig was.”
JESAJA 53:10-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel 'n skuldoffer aangebied het, sal Hy 'n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees. Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra. Daarom sal Ek Hom 'n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.
JESAJA 53:10-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy 'n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik. Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en hy sal die Here ken. My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra. Daarom gee Ek hom 'n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir oortreders gebid het.
JESAJA 53:10-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar die HERE het verkies om hom te verbrysel; Hy het hom siek gemaak. As sy lewe dien as 'n skuldoffer, sal hy 'n nageslag sien en lank leef. Wat die HERE wil hê, sal deur sy hand suksesvol wees. Ná die swaarkry wat hy beleef het, sal hy sien; hy sal versadig wees aan sy kennis. “My dienskneg sal hom as 'n regverdige betoon aan baie, en hulle sondeskuld – hy sal dit op hom laai. Daarom sal Ek aan hom 'n deel gee onder baie; en met magtiges sal hy buit verdeel, omdat hy sy lewe blootgestel het aan die dood, en by oortreders gereken is. Hy het egter die sonde van baie gedra; vir oortreders het hy ingetree.
JESAJA 53:10-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar dit het die HERE behaag om hom te verbrysel; hy het hom bedroef; as jy sy siel 'n sondeoffer bring, sal hy sy nageslag sien, hy sal sy dae verleng, en die welbehae van die HERE sal voorspoedig wees in sy hand. Hy sal die moeitevolle arbeid van sy siel sien en versadig word; deur sy kennis sal my regverdige kneg baie regverdig maak; want Hy sal hulle ongeregtighede dra. Daarom sal Ek hom 'n deel verdeel met die grotes, en hy sal die buit verdeel met die sterkes; omdat Hy sy siel in die dood uitgestort het, en Hy is saam met die oortreders getel; en hy het die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid.
JESAJA 53:10-12 Die Boodskap (DB)
Die Here wou gehad het dat hy in ons plek geslaan moes word en in ons plek seerkry. Omdat hy homself aangebied het om ander se straf te dra, sal daar vir hom ’n nageslag wees. Sy naam sal nog lank bly lewe. Hy het gedoen wat die Here gedoen wou hê. Nadat hy so swaargekry het, sal hy sien wat daarvan gekom het. Hy sal tevrede wees met wat hy gedoen het. My dienaar was aan My gehoorsaam. Hy sal baie ander ook gehoorsaam aan My maak. Hy sal die straf op hulle sonde wegvat. Ek sal vir hom ’n plek gee tussen die belangrikes. Hy sal deel hê aan hulle eer. Hy was bereid om sy lewe op te offer. Hy het hom gewillig saam met die misdadigers laat tel. Hy was bereid om in te staan vir baie mense se sondes. Hy het vir die oortreders gepleit.
JESAJA 53:10-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar dit was die HERE se wil om hom te vermorsel en te laat ly. Al het die HERE sy lewe ’n skuldoffer gemaak, sal hy ’n groot nageslag kry en nog lank lewe. Die HERE se plan sal as gevolg van Hom ontvou. Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en tevrede wees. En deur alles wat hy beleef het, sal my regverdige dienaar dit moontlik maak vir baie om ook regverdig te word, want hy dra al hulle sondes. Daarom eer Ek hom as iemand wat groot en magtig is. Want hy was bereid om doodgemaak te word en as misdadiger beskou te word. Hy het die sondes van baie gedra, en vir sondaars gebid.