Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

JAKOBUS 1:1-3 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

JAKOBUS 1:1-3 AFR83 (Afrikaans 1983)

Van Jakobus, 'n dienaar van God en die Here Jesus Christus. Aan die twaalf stamme wat oor die wêreld versprei is. Groete! My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.

JAKOBUS 1:1-3 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

JAKOBUS, 'n dienskneg van God en die Here Jesus Christus, aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing is: Groete! AG dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.

JAKOBUS 1:1-3 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Hierdie brief kom van Jakobus, ’n dienskneg van God en die Here Jesus Christus. Ek skryf aan die Joodse Christene wat oor die wêreld versprei is. Groete! My broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: Wanneer ’n mens se geloof ’n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard.

JAKOBUS 1:1-3 DB (Die Boodskap)

Van Jakobus. Iemand wat God en die Here Jesus Christus dien met alles wat hy het. Almal wat oor hierdie wêreld versprei is en aan God behoort, moet die brief lees. Dit is vir julle bedoel. My liewe mede-Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees. Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef.

JAKOBUS 1:1-3 ABA (Bybel vir almal)

Ek, Jakobus, is 'n dienaar van God en die Here Jesus Christus. Ek skryf hierdie brief vir die twaalf stamme van Israel wat oral in die hele wêreld woon. Ek groet julle! My vriende, daar gebeur partymaal met julle verskillende soorte slegte dinge wat vir julle toets. Die dinge wil vir julle laat ophou om God te dien. Julle moet baie bly wees wanneer dit gebeur, want julle weet dat wanneer hierdie dinge julle geloof so toets, dan help dit julle om aan te hou glo.

JAKOBUS 1:1-3 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Jakobus, 'n dienskneg van God en die Here Jesus •Christus, aan die twaalf stamme in die Diaspora: Gegroet! Beskou dit as 'n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring.

JAKOBUS 1:1-3 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Jakobus, 'n dienskneg van God en van die Here Jesus Christus, aan die twaalf stamme wat oor die wêreld verstrooi is, groet. My broers, ag dit louter vreugde wanneer julle in allerhande versoekings val; Julle weet dit, dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.