JAKOBUS 1:19-27

JAKOBUS 1:19-27 Die Boodskap (DB)

Liewe mede-Christene, plak hierdie woorde op waar julle dit elke dag kan sien: julle moet ander mense ’n kans gee om te sê wat hulle op die hart het. Luister rustig na hulle sonder om hulle te wil doodpraat. Wanneer dit jou kans is, gee jou mening. Moet jou net nie vererg nie, want wat gaan dit nou help? As jy jou humeur verloor, kan jy mos nie meer daarop ingestel wees om te doen wat God wil nie. Raak daarom ontslae van elke stukkie gemors en vuilheid wat jou geestelike lewe mag toegroei of bederf. Wees liewer gehoorsaam aan die boodskap van God wat julle goed ken. Daardie boodskap hou julle soos ’n padkaart op die regte pad en daardie pad sal julle vir altyd by God uitbring. Doen wat God vir jou sê. Daar wag ’n groot verrassing op jou as jy maar net daarna sit en luister en niks daaraan doen nie. Jy dink dalk jy is mooi godsdienstig, maar eintlik is jy besig om jouself lelik te kul. Iemand wat net na God se woord luister sonder om te doen wat dit vra, is soos ’n man wat na homself in ’n spieël kyk. Hy sien daar hoe deurmekaar sy hare is. Hy draai dan om en stap weg sonder om sy hare te kam, omdat hy dadelik vergeet hoe deurmekaar sy hare is. Hoe anders is dit nie met iemand wat moeite doen om alles van God se wil te leer nie. Deur na die wil van God te luister word jy mos vry van al die slegte dinge wat jou lewe so deurmekaar kan krap. Iemand wat so ernstig in God se wil belangstel en dit wat hy daar hoor ook gaan doen, het die ware geluk en sin van die lewe ontdek. Kom ons dink aan ’n voorbeeld. Iemand wat meen hy is ’n godsdienstige mens, maar wat lelik praat, baklei en skinder soos hy wil, slaan die bal baie ver mis. Hy is allesbehalwe ’n godsdienstige mens. Al die ander dinge wat hy doen om godsdienstig te probeer wees, is verniet. Laat ek vir julle sê watse soort godsdiens God ons Vader as eg en eerlik sien: as jy bereid is om dié mense te help wat nie vir hulleself kan sorg nie, maar in die nood is, is jy besig met die regte godsdiens. Maar dan moet jy ook sorg dat jou eie lewe skoon bly van al die verkeerde dinge wat ’n mens in hierdie wêreld kan doen.

JAKOBUS 1:19-27 Bybel vir almal (ABA)

My vriende, ek is baie lief vir julle. Julle moet onthou: Elke mens moet altyd gereed wees om te luister na God se boodskap, maar hy moenie haastig wees om te praat nie, hy moet eers dink voordat hy praat. Hy moet ook nie haastig wees om kwaad te word nie. Want wanneer 'n mens kwaad word, dan doen hy nie die dinge wat God wil hê nie. Daarom moet julle heeltemal ophou om verkeerde en slegte dinge te doen. Julle moet nederig wees en julle moet luister na die goeie boodskap wat God in julle harte gegee het. Dit is die boodskap wat vir julle kan red. Julle moet doen wat God vir julle sê. As julle luister na sy boodskap, maar julle doen nie wat Hy sê nie, dan bedrieg julle julleself. Want wanneer iemand luister na God se boodskap en hy doen nie wat God sê nie, dan is hy soos 'n mens wat in 'n spieël na sy eie gesig kyk. Wanneer hy homself in die spieël gesien het en hy gaan weg, dan vergeet hy dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand is gelukkig wanneer hy goed luister na die wette van God, die wette wat heeltemal reg is en wat 'n mens vry kan maak. As so iemand aanhou luister, dan vergeet hy nie wat hy gehoor het nie, nee, hy doen dit. En so 'n mens sal regtig gelukkig wees omdat hy doen wat die wette van God sê. As iemand dink dat hy vir God dien maar hy dink nie voordat hy praat nie, dan bedrieg hy homself, en dan beteken sy godsdiens niks. Die regte en die rein manier om vir God die Vader te dien, is dit: Jy moet sorg vir weeskinders en vir weduwees wat swaarkry. En 'n mens moenie dat hierdie sondige wêreld jou onrein laat word sodat jy slegte dinge doen nie.

JAKOBUS 1:19-27

JAKOBUS 1:19-27 AFR83JAKOBUS 1:19-27 AFR83