JAKOBUS 1:23-25
JAKOBUS 1:23-25 Bybel vir almal (ABA)
Want wanneer iemand luister na God se boodskap en hy doen nie wat God sê nie, dan is hy soos 'n mens wat in 'n spieël na sy eie gesig kyk. Wanneer hy homself in die spieël gesien het en hy gaan weg, dan vergeet hy dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand is gelukkig wanneer hy goed luister na die wette van God, die wette wat heeltemal reg is en wat 'n mens vry kan maak. As so iemand aanhou luister, dan vergeet hy nie wat hy gehoor het nie, nee, hy doen dit. En so 'n mens sal regtig gelukkig wees omdat hy doen wat die wette van God sê.
JAKOBUS 1:23-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want as iemand 'n hoorder van die woord is en nie 'n dader nie, dié is soos 'n man wat sy natuurlike gesig in 'n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie 'n vergeetagtige hoorder is nie, maar 'n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen.
JAKOBUS 1:23-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in 'n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat 'n mens vrymaak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.
JAKOBUS 1:23-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want wie 'n hoorder van die woord is en nie 'n doener nie, is soos iemand wat sy eie gesig in 'n spieël sien. Hy sien homself, gaan weg en vergeet onmiddellik hoe hy gelyk het. Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie 'n vergeetagtige hoorder is nie, maar 'n doener.
JAKOBUS 1:23-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want as iemand 'n hoorder van die woord is en nie 'n dader nie, is hy soos 'n man wat sy natuurlike gesig in 'n glas aanskou. Want hy sien homself en gaan sy gang en vergeet dadelik watter soort mens hy was. Maar elkeen wat insien na die volmaakte wet van vryheid en daarin bly, hy is nie 'n vergeetagtige hoorder nie, maar 'n dader van die werk, hierdie man sal geseën word in sy daad.
JAKOBUS 1:23-25 Die Boodskap (DB)
Iemand wat net na God se woord luister sonder om te doen wat dit vra, is soos ’n man wat na homself in ’n spieël kyk. Hy sien daar hoe deurmekaar sy hare is. Hy draai dan om en stap weg sonder om sy hare te kam, omdat hy dadelik vergeet hoe deurmekaar sy hare is. Hoe anders is dit nie met iemand wat moeite doen om alles van God se wil te leer nie. Deur na die wil van God te luister word jy mos vry van al die slegte dinge wat jou lewe so deurmekaar kan krap. Iemand wat so ernstig in God se wil belangstel en dit wat hy daar hoor ook gaan doen, het die ware geluk en sin van die lewe ontdek.
JAKOBUS 1:23-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle sal saamstem: As jy altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is dit so goed of jy kyk na jou gesig in die spieël sonder om iets aan jou voorkoms te doen. Jy bekyk jouself, gee pad, en vergeet wat jy gesien het. As jy jou egter verdiep in God se volmaakte wet – dié wet wat ’n mens vrymaak – en jy dóén wat die wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen.