JAKOBUS 1:5-8 - Compare All Versions
JAKOBUS 1:5-8 ABA (Bybel vir almal)
As daar by julle iemand is wat nie wysheid het nie, dan moet hy vir God vra om vir hom wysheid te gee, en God sal dit gee. Want God gee baie graag, Hy praat nie kwaai met mense wat tot Hom bid nie. Wanneer mense bid, dan moet hulle glo dat God sal gee wat hulle vra, hulle moenie twyfel nie. Want 'n mens wat twyfel, is soos die see se branders, die wind waai die branders heen en weer. Iemand wat twyfel, moenie dink dat die Here vir hom iets sal gee nie, so 'n mens weet nie wat hy moet besluit nie, hy weet nooit wat hy moet doen nie, hy is nie seker nie.
JAKOBUS 1:5-8 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie — so 'n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.
JAKOBUS 1:5-8 AFR83 (Afrikaans 1983)
As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So 'n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.
JAKOBUS 1:5-8 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word. Want so 'n mens moenie dink dat hy enigiets van die Here sal ontvang nie. Hy is 'n dubbelhartige mens, onstandvastig in alles wat hy doen.
JAKOBUS 1:5-8 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word. Maar laat hy in geloof bid, sonder om te wankel. Want hy wat wankel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedryf en voortgesweep word. Want laat daardie man nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. 'n Dubbelsinnige man is onbestendig in al sy weë.
JAKOBUS 1:5-8 DB (Die Boodskap)
As julle egter in ’n situasie kom waar julle twyfel oor wat die regte ding is om te doen, gaan vra vir God. Hy sal nie snaaks van julle dink of julle verwyt omdat julle onseker is hoe om vir Hom te leef nie. Hy sal julle eerder help met alles wat julle nodig het. Gaan vra; Hy sal gee. Maar een ding moet julle dan nie doen nie. Moenie twyfel dat God julle regtig sal help nie. Verwag en weet vir seker dat Hy sal help. Mense wat twyfel of God regtig na hulle sal luister, is soos golwe op die see. Die wind waai daardie golf heen en weer. Die een oomblik sien jy dit en die volgende oomblik is dit weg.Dit is ’n goeie voorbeeld van iets wat g’n koers of sekerheid het nie. Dié voorbeeld pas by iemand wat gedurig twyfel of die Here hom regtig gaan help. Vir so iemand sal die Here nie veel beteken nie, want nes hy gebid het dat die Here hom moet help, swaai hy om en sê dat dit nie kan of sal gebeur nie. En wat help dit?
JAKOBUS 1:5-8 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Vra vir God as dit nie vir jou duidelik is wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie. Maar, as ’n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ’n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie.