JAKOBUS 2:1-26

JAKOBUS 2:1-26 Bybel vir almal (ABA)

My vriende, julle glo in die Here Jesus Christus wat die Koning is. Daarom moet julle nie dink dat een mens belangriker is as 'n ander mens nie. Miskien kom daar in julle vergadering 'n man wat 'n goue ring aan sy vinger het en wat mooi klere dra. En miskien kom daar ook 'n arm man wat vuil en stukkende klere dra. As julle dink die man wat die mooi klere dra, is belangrik en julle sê vir hom: “Kom sit hier op die goeie sitplek,” maar julle sê vir die arm man: “Gaan staan daar agter” of “Sit hier by my voete,” dan dink julle dat die een persoon belangriker is as die ander persoon. Dan is julle soos regters wat verkeerd besluit omdat hulle verkeerd dink. My vriende, ek is baie lief vir julle, julle moet luister na my. Die mense van die wêreld dink miskien dat party mense arm is, maar júlle weet dat God arm mense gekies het om ryk te wees. Hulle is ryk omdat hulle in Hom glo en omdat Hy belowe het dat Hy die Koning sal wees van die mense wat lief is vir Hom. Maar dit is júlle wat arm mense verneder het. Julle het dit gedoen, maar julle weet goed dat dit die ryk mense is wat vir julle laat swaarkry en dat dit húlle is wat vir julle na die hof toe vat. En julle weet ook goed dat dit die ryk mense is wat die mooi Naam van God laster, God aan wie julle behoort. Die hemelse Koning sê in sy wette in die Ou Testament: “ Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.” As julle dit doen, dan het julle 'n goeie ding gedoen. Maar as julle dink een persoon is belangriker as 'n ander persoon, dan doen julle sonde, en die wette wys dan dat julle nie gehoorsaam is nie. Wanneer 'n mens nie doen wat een van die wette van God sê nie, maar hy doen wat al die ander wette sê, dan is hy so skuldig soos iemand wat verkeerd gedoen het teen al die wette van God. Want God het gesê: “ Jy mag nie egbreuk pleeg nie.” Hy het ook gesê: “Jy mag nie iemand doodmaak nie.” As jy nie egbreuk pleeg nie, maar jy maak iemand dood, dan doen jy nie wat die wette sê nie. Wanneer julle praat of iets doen, dan moet julle altyd onthou dat God julle sal oordeel. God sal julle oordeel met die wette wat vir mense vrymaak. Want wanneer God oordeel, dan sal Hy nie jammer wees vir mense wat nie goed was vir ander mense nie. Maar as mense goed was vir ander mense, dan sal God nie vir hulle straf nie. My vriende, dit help niks as julle sê dat julle in God glo, maar julle doen nie wat God wil hê nie. As julle so glo, dan sal dit julle nie red nie. 'n Ander gelowige het miskien nie klere nie en hy het nie elke dag genoeg kos om te eet nie, en een van julle sê miskien vir so 'n persoon: “Ek hoop dit gaan goed met jou, jy moet warm klere aantrek en genoeg eet.” Maar as julle nie vir daardie persoon gee wat hy nodig het nie, dan moet julle weet dat dit niks help nie. So gaan dit ook met mense wat sê dat hulle in God glo, maar hulle doen nie wat Hy wil hê nie. Om so te glo, beteken niks, daardie geloof is dood. Maar iemand sal miskien sê: “Een persoon glo in God en 'n ander persoon doen wat God wil hê.” Maar ek sê nee, dit is verkeerd. Wys vir my hoe jy kan glo en nie doen wat God sê nie, dan wys ek vir jou dat ek glo omdat ek doen wat God sê. Jy glo dat daar een God is, en dit is reg. Die duiwels glo dit ook en hulle is so bang dat hulle bewe. Dwase mens, almal weet dat dit niks help om te sê jy glo in God as jy nie doen wat Hy sê nie. Abraham, ons voorvader, het sy seun Isak na die altaar gebring om hom te offer. Julle weet dat God hom vrygespreek het omdat hy gedoen het wat God wil hê. Nou kan jy verstaan dat Abraham gesê het hy glo in God, want hy het gedoen wat God wil hê. Ja, hy het gedoen wat God wil hê, en dít het gewys dat hy heeltemal in God glo. So het ook gebeur wat in die Ou Testament geskryf is: “ Abraham het God geglo, en God het hom vrygespreek.” Daarom het God gesê Abraham is sy vriend. Julle moet verstaan dat God 'n mens vryspreek omdat daardie mens dóén wat God wil hê. God spreek hom vry, maar Hy doen dit nie net omdat die mens sê dat hy in God glo nie. Julle weet ook dat God vir Ragab, die prostituut, vrygespreek het omdat sy gedoen het wat Hy wou hê. Sy het die spioene genooi om in haar huis in te kom en sy het vir hulle gehelp om weg te gaan op 'n ander pad. 'n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is geloof ook dood wanneer 'n mens nie doen wat God wil hê nie.

JAKOBUS 2:1-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MY broeders, laat julle geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, nie wees met aanneming van die persoon nie. Want as daar in julle vergadering 'n man inkom met goue ringe aan die vingers, met 'n pragtige kleed aan, en daar kom ook 'n arm man in met vuil klere aan; en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit — het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie? Luister, my geliefde broeders — het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie? Maar julle het die arm man oneer aangedoen. Is dit nie juis die rykes wat julle oorweldig en julle voor die regbanke sleep nie? Is dit nie hulle wat die edele Naam belaster wat oor julle aangeroep is nie? As julle ewenwel die koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself — dan doen julle goed. Maar as julle partydig is, doen julle sonde en word deur die wet as oortreders bestraf. Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy 'n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word. Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie; en die barmhartigheid roem teen die oordeel. WAT baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? As daar nou 'n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie — wat baat dit? Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon. Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder. Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is? Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie? Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke? En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is 'n vriend van God genoem. Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie? En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met 'n ander pad weggestuur het nie? Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.

JAKOBUS 2:1-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. Sê nou daar kom in julle samekoms 'n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook 'n brandarm man in met ou klere aan, en sê nou julle maak 'n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,” het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie? Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie? As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg. Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog 'n oortreder van die hele wet. Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vrymaak. Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel. Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red? Sê nou daar is 'n broer of 'n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood. Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs. Jou dwaas, wil jy 'n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie? Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaardgegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is 'n vriend van God genoem. Julle sien dus dat 'n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie. Is Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy die verkenners weggesteek en hulle met 'n ander pad laat ontkom het nie? 'n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.

JAKOBUS 2:1-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

My broers, julle geloof in ons Here Jesus •Christus, die Here van die heerlikheid, moet so wees dat julle nie iemand na die uiterlike beoordeel nie. As daar 'n man met goue ringe en pragtige klere by julle samekoms aankom, en daar kom ook 'n arm man met vuil klere aan, en julle kyk na die een met die pragtige klere en sê, “Sit u hier op 'n goeie plek,” en vir die arm man sê julle, “Staan jy daar!” of, “Sit jy hier onder by my voetbank!” het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak, en regters met slegte oorwegings geword nie? Luister, my geliefde broers, het God nie die armes in die wêreld gekies om ryk in die geloof te wees nie? En om erfgename te wees van die koninkryk wat Hy beloof het aan hulle wat Hom liefhet nie? Maar julle het die arme oneer aangedoen. Is dit dan nie die rykes wat julle uitbuit, en is dit nie hulle wat julle voor die gereg sleep nie? Is dit nie hulle wat die goeie Naam belaster wat oor julle uitgeroep is nie? As julle wel die koninklike wet vervul, volgens die Skrif, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” doen julle goed. As julle egter mense volgens hulle uiterlike beoordeel, doen julle sonde, en word julle deur die wet as oortreders aan die kaak gestel. Want wie die hele wet probeer onderhou, maar een wet oortree, is aan almal skuldig. Want Hy wat gesê het, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dus nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord pleeg, is jy 'n oortreder van die wet. Praat so, en tree so op, asof julle deur die wet van vryheid geoordeel gaan word. Die oordeel is immers sonder ontferming oor hulle wat nie ontferming betoon het nie. Ontferming triomfeer oor die oordeel. Wat baat dit, my broers, as iemand sê dat hy geloof het, maar hy het nie dade nie? Dié geloof kan hom tog nie verlos nie? As 'n broer of 'n suster sonder klere en daaglikse kos is, en een van julle sê vir hulle, “Gaan in vrede, word warm en word versadig,” maar julle gee nie vir hulle wat die liggaam nodig het nie, wat help dit? So is geloof alleen, as dit nie op dade uitloop nie, dood. Maar as iemand sê, “Jy het geloof en ek het dade,” wys dan vir my jou geloof sonder dade, en ek sal jou uit my dade my geloof wys. Glo jy dat God Een is? Goed so. Ook die demone glo dit, en hulle bewe. Wil jy weet, o nietige mens, dat geloof sonder dade nutteloos is? Is Abraham, ons vader, nie op grond van sy dade regverdig verklaar, omdat hy sy seun Isak op die altaar geplaas het nie? Kan jy sien dat die geloof meegewerk het met sy dade, en dat vanuit die dade die geloof volkome geword het? En die Skrif is vervul wat sê: “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken, en hy is 'n vriend van God genoem. ” Julle sien dus dat 'n mens op grond van dade regverdig verklaar word, en nie deur geloof alleen nie. Is Ragab, die prostituut, nie ook net so op grond van dade regverdig verklaar, toe sy die boodskappers gasvry ontvang en met 'n ander pad weggestuur het nie? Want net soos die liggaam sonder asem dood is, só is die geloof sonder dade dood.

JAKOBUS 2:1-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

My broeders, moenie die geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, met respek vir die persoon hê nie. Want as daar 'n man met 'n goue ring na julle vergadering kom, in mooi kleed, en daar kom ook 'n arm man in met gemene klere; En julle moet ag gee op hom wat die vrolike klere dra, en sê vir hom: Sit hier op 'n goeie plek; en sê vir die armes: Staan daar of sit hier onder my voetbank. Is julle dan nie partydig in julleself en het regters van bose gedagtes geword nie? Luister, my geliefde broeders, het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies, ryk in geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie? Maar julle het die armes verag. Verdruk rykes jou nie en trek hulle jou nie voor die regterstoele nie? Laster hulle nie daardie waardige naam waarheen julle uitgeroep is nie? As julle die koninklike wet vervul volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself, doen julle goed. Maar as julle vir die persoon respek het, doen julle sonde en is julle as oortreders oortuig van die wet. Want elkeen wat die hele wet onderhou en tog in een opsig aanstoot neem, hy is aan almal skuldig. Want Hy wat gesê het: Moenie egbreuk pleeg nie, het ook gesê: Moenie doodslaan nie. En as jy geen egbreuk pleeg nie, maar as jy doodslaan, het jy 'n oortreder van die wet geword. So spreek julle en doen so, soos hulle wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word. Want hy sal sonder barmhartigheid geoordeel word wat geen barmhartigheid bewys het nie; en barmhartigheid is bly teen die oordeel. Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy geloof het en geen werke het nie? kan geloof hom red? As 'n broer of suster naak is en gebrek aan daaglikse voedsel, En een van julle sê vir hulle: Gaan weg in vrede, word julle warm en versadig; maar julle gee hulle nie die dinge wat vir die liggaam nodig is nie; wat baat dit? Net so is die geloof, as dit geen werke het nie, dood omdat dit alleen is. Ja, 'n mens kan sê: Jy het geloof, en ek het werke; toon my jou geloof sonder jou werke, en ek sal jou my geloof toon deur my werke. Jy glo dat daar een God is; jy doen goed: die duiwels glo ook en bewe. Maar sal jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder werke dood is? Was ons vader Abraham nie geregverdig deur werke toe hy sy seun Isak op die altaar geoffer het nie? Sien jy hoe geloof saamgewerk het met sy werke, en deur die werke die geloof volmaak geword het? En die Skrif is vervul wat sê: Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is die Vriend van God genoem. Julle sien dan dat die mens uit die werke geregverdig word en nie alleen uit die geloof nie. So ook is Ragab, die hoer, nie geregverdig uit werke toe sy die boodskappers ontvang het en hulle op 'n ander pad uitgestuur het nie? Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is die geloof sonder die werke ook dood.

JAKOBUS 2:1-26 Die Boodskap (DB)

Christene, niemand is of kan so belangrik wees soos ons Here Jesus Christus nie. Moenie nou sê julle is hierdie Here s’n en dan omdraai en gaan kruip voor mense met baie geld of status nie. Laat ek verduidelik wat ek bedoel. Veronderstel twee mans kom by julle aan terwyl julle kerk hou. Die een man het geld soos bossies. Dit kan jy sommer aan sy klere sien. Hy is ook een van die belangrikste mense in die dorp. Die ander man is egter arm. Sy klere is oud en stukkend. Niemand in die dorp steur hulle aan hom nie. Nou kom die twee saam daar by julle aan. Vir die ryk, belangrike man sê julle: “Kom sit hier op die beste en lekkerste plek.” Vir die arm, onbelangrike man sê julle: “Sit sommer hier op die grond of kry maar vir jou ’n ander plekkie.” Wat dink julle het julle dan gedoen? Het julle dan nie eintlik gesê dat party mense (oor wat hulle besit of wie hulle is) belangriker as ander is nie? Dis tog verkeerd! As julle party beter as ander behandel omdat hulle vir julle ryker of belangriker lyk, tree julle nie soos Jesus op nie. Dan doen julle presies wat ’n klomp slegte mense sou doen. Luister mooi na wat ek sê. Vir wie het God gekies om sy goeie vriende te wees? Vir wie het God sy kinders gemaak sodat alles wat aan Hom behoort ook hulle s’n kan word? Hy het dit alles mos beloof aan mense wat vir Hom lief is. Hy het dit aan diegene gedoen wat in die oë van mense onbelangrik lyk; mense op wie ander neersien. Maar julle behandel juis hierdie arm, onbelangrike mense sleg. Dink weer mooi daaroor na. Wie is die rykes voor wie julle so kruip? Is dit nie hulle wat nie omgee om op julle te trap en julle soos vloerlappe te behandel nie? Is dit nie dieselfde mense wat vir julle so maklik voor almal van allerhande lelike dinge beskuldig nie? Is dit nie ook hulle wat omdraai en Hom beledig wat vir julle so belangrik is nie? As julle die wet van die Koning hou, naamlik: “Jy moet jou naaste so liefhê soos jouself,” tree julle op soos God dit wil hê. As julle egter party mense begin voortrek en beter behandel as ander omdat hulle menslik gesproke belangrik lyk, doen julle nie wat God van julle vra nie. Volgens die wet van die Koning is julle dan niks beter as tronkvoëls wat nie wil luister na sy wet nie. Dit help nie dat ’n mens die meeste van God se wette presies hou, maar jou aan een van hulle nie steur nie. Al is dit net daardie één wat jy nie wil doen nie, is dit so goed of jy die rug draai vir alles wat God van jou vra. Dieselfde God wat gesê het: “Moenie ’n verhouding met iemand anders buite jou huwelik aangaan nie,” het ook gesê: “Moenie iemand doodmaak nie.” Al bly jy hoe getrou aan jou huweliksmaat, maar jy maak iemand dood, het jy God se wet gebreek. Dan is jy ’n wetbreker. Praat en tree op soos mense wat baie ernstig is om presies te doen wat God van hulle vra. Julle weet mos dat God julle dade by die finale oordeel volgens sy wet gaan toets. Die wet help ’n mens om die grypende kloue van die kwaad te systap. Iemand wat ander mense sonder werklike liefde en gevoel behandel, sal dieselfde liefdeloosheid en gevoelloosheid by die finale oordeel ervaar. As iemand egter liefdevol en sensitief teenoor ander optree, beteken dit dat daar by die oordeel niks teen so ’n persoon gesê sal word nie. Liewe broers en susters, dink julle dit gaan help as iemand oral rondvertel dat hy glo, maar glad nie soos ’n gelowige optree nie? Die blote gepratery oor geloof is tog nie genoeg om so ’n mens se saak met God reg te maak nie. Luister na die volgende storie en dan sal julle verstaan wat ek bedoel. Sê nou daar is in die gemeente ’n mede-Christen, man of vrou, wat nie klere het om aan te trek of kos het om te eet nie. Een van julle sê vir die arme man of vrou: “Ek sien dit gaan sleg met jou, maar ek wens regtig dat dit sommer gou beter sal gaan. Ek hoop jy kry iets om aan te trek en kos om te eet.” Nadat hy dit gesê het, draai hy net daar om en doen nie ’n steek verder om te help met wat die arme man of vrou nodig het nie. Wat het al hierdie woorde nou miskien gehelp? Net mooi niks nie. So is dit ook met jou verhouding met God. Om te sê jy is vriende met God, maar jy doen niks vir Hom nie, sê eintlik dat die vriendskap tussen jou en God morsdood is. Iemand sou kon sê: “Jy het ’n geloofsverhouding met God, maar ek doen weer wat God vra.” Maar sê dit presies dieselfde? Dink daaroor na. Kan jy vir my bewys dat jy in die regte verhouding met God staan sonder dat jy enigiets vir Hom doen? Ek twyfel. Maar, ek is in alle geval seker dat ek vir jou sal kan bewys dat met alles wat ek vir God doen, ek in ’n goeie verhouding met Hom staan. Jy is oortuig daarvan dat daar net een God is. Dit is ook so. Maar dié soort geloof red ’n mens nie noodwendig nie - die duiwels is ook oortuig dat God bestaan en al wat dit aan hulle doen, is dat hulle aan die bewe raak wanneer hulle dit besef. Ai, hoe onnosel is die persoon wat nie wil besef dat geloof in God sonder dat daar ook vir Hom geleef word, nutteloos is nie. Neem nou maar vir Abraham, ons geestelike vader. Hy het bo alle twyfel bewys dat sy verhouding met God reg is toe hy sy seun Isak op die altaar wou offer soos God van hom gevra het. Hy het nie net gepraat nie, maar gedoen ook. By hom kan ons mooi sien hoe die verhouding met God en die gehoorsame lewe vir God eintlik saamwerk. Dit is soos twee kante van dieselfde munt. Eers as iemand vir God lewe, is sy verhouding met God soos dit behoort te wees. Die Bybel sê mos: “Abraham het in God geglo. Juis daarom het God besluit dat Abraham se verhouding met Hom reg is.” Die bewys daarvan was toe Abraham vir Isak gaan offer het. Hy is van toe af ’n vriend van God genoem. Julle sien dus hoe belangrik dit is om te doen wat God vra. As dit om die regte verhouding met Hom gaan, is dit nie genoeg om slegs te weet dat God daar is en Hom te aanvaar nie. Dink nou maar aan Ragab. Sy was mos daardie straatvrou van Jerigo. Was dit nie juis haar optrede - toe sy die spioene van Israel versorg en in ’n veilige rigting weggestuur het - wat gewys het dat haar verhouding met die Here reg is nie? ’n Liggaam sonder lewe daarin is dood. Geloof, sonder dat die persoon ook die wil van die Here doen, is net so dood.

JAKOBUS 2:1-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

My broers en susters, hoe kan julle beweer julle glo in ons Here Jesus Christus aan wie die heerlikheid behoort, terwyl julle sommer so op die uiterlike af tussen mense diskrimineer? Gestel daar kom iemand in julle samekoms in met duur juwele en baie mooi klere aan, en daar kom terselfdertyd ook iemand in wat brandarm is en verslete klere aanhet. As julle dan ’n ophef maak van die persoon met die deftige klere, en julle sê vir hom: “U moet asseblief hier gemaklik kom sit,” maar vir die arm man sê julle: “Jy kan maar daar anderkant gaan sit,” of: “Kom sit hier op die vloer,” sal julle nie toegee dat julle diskrimineer en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie? Luister, my geliefde broers en susters! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof nie? Is dit nie húlle wat die erfgename is van die koninkryk wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? En tog beledig julle die arm persoon! Is dit nie juis die rykes wat julle onderdruk nie, en is dit nie húlle wat julle voor die hof sleep nie? Is dit nie juis hulle wat Christus, wie se Naam julle as Christene dra, belaster nie? Julle doen inderdaad die regte ding as julle God se koninklike wet uitleef soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Maar as julle teen mense diskrimineer, doen julle sonde, want juis hierdie wet brandmerk julle dan as oortreders. Julle weet mos: iemand wat al die gebooie onderhou behalwe één, is net so skuldig as iemand wat ál die gebooie oortree. Want dieselfde God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dan nou aan jou huweliksmaat getrou is, maar tog moord pleeg, het jy mos al die gebooie oortree. Sorg dus dat jou woorde en dade wys dat jy iemand is wat weet dat jy beoordeel gaan word deur die wet wat vrymaak, die wet van liefde. Wie sonder ontferming optree, sal sonder ontferming geoordeel word. God se ontferming is sterker as sy oordeel. My broers en susters, wat help dit as ’n mens sê jy het geloof, maar jou lewe wys dit nie? Só ’n geloof kan jou nie verlos nie. Sê nou jy sien ’n Christenbroer of -suster wat kos en klere nodig het, en jy sê: “Ek hoop dit gaan goed met jou; sorg dat jy warm aantrek en genoeg eet,” maar jy gee nie vir daardie persoon kos of klere nie. Wat help dit dan? Dis duidelik: Om net te sê jy glo, is nie genoeg nie. Geloof wat nie dade word nie, is eintlik glad nie geloof nie – sulke geloof is dood en help niks. Maar iemand sou kon redeneer: “Party mense het geloof, en ander het dade.” Ek sê: “Wys my jou geloof wat sonder dade is. Maar juis uit my dade sal ek jou my geloof wys.” Jy glo dat daar net een God is. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder, so bang is hulle! Jou dwaas! Soek jy ’n bewys dat geloof sonder dade dood is? Ons voorvader Abraham se geloof het dade geword: Hy het sy seun Isak op die altaar gelê en God het hom vrygespreek. Jy sien dus dat sy geloof gepaardgegaan het met sy dade, en die geloof uit die dade volmaak geword het. Dit het dus presies gebeur soos dit in die Skrif staan: “Abraham het tot geloof in God gekom, en God het hom vrygespreek.” Hy is selfs “vriend van God” genoem. Julle sien dus dat ’n mens óók op grond van sy dade vrygespreek word en nie net op grond van sy geloof nie. Ragab die prostituut is nog ’n voorbeeld. God het haar vrygespreek op grond van haar dade toe sy die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat wegkom het. ’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is ’n lyk. So is geloof wat nie dade word nie, ook dood.