JAKOBUS 2:8-13
JAKOBUS 2:8-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg. Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog 'n oortreder van die hele wet. Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vrymaak. Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.
JAKOBUS 2:8-13 Bybel vir almal (ABA)
Die hemelse Koning sê in sy wette in die Ou Testament: “ Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.” As julle dit doen, dan het julle 'n goeie ding gedoen. Maar as julle dink een persoon is belangriker as 'n ander persoon, dan doen julle sonde, en die wette wys dan dat julle nie gehoorsaam is nie. Wanneer 'n mens nie doen wat een van die wette van God sê nie, maar hy doen wat al die ander wette sê, dan is hy so skuldig soos iemand wat verkeerd gedoen het teen al die wette van God. Want God het gesê: “ Jy mag nie egbreuk pleeg nie.” Hy het ook gesê: “Jy mag nie iemand doodmaak nie.” As jy nie egbreuk pleeg nie, maar jy maak iemand dood, dan doen jy nie wat die wette sê nie. Wanneer julle praat of iets doen, dan moet julle altyd onthou dat God julle sal oordeel. God sal julle oordeel met die wette wat vir mense vrymaak. Want wanneer God oordeel, dan sal Hy nie jammer wees vir mense wat nie goed was vir ander mense nie. Maar as mense goed was vir ander mense, dan sal God nie vir hulle straf nie.
JAKOBUS 2:8-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
As julle ewenwel die koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself — dan doen julle goed. Maar as julle partydig is, doen julle sonde en word deur die wet as oortreders bestraf. Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy 'n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word. Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie; en die barmhartigheid roem teen die oordeel.
JAKOBUS 2:8-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As julle wel die koninklike wet vervul, volgens die Skrif, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” doen julle goed. As julle egter mense volgens hulle uiterlike beoordeel, doen julle sonde, en word julle deur die wet as oortreders aan die kaak gestel. Want wie die hele wet probeer onderhou, maar een wet oortree, is aan almal skuldig. Want Hy wat gesê het, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dus nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord pleeg, is jy 'n oortreder van die wet. Praat so, en tree so op, asof julle deur die wet van vryheid geoordeel gaan word. Die oordeel is immers sonder ontferming oor hulle wat nie ontferming betoon het nie. Ontferming triomfeer oor die oordeel.
JAKOBUS 2:8-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As julle die koninklike wet vervul volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself, doen julle goed. Maar as julle vir die persoon respek het, doen julle sonde en is julle as oortreders oortuig van die wet. Want elkeen wat die hele wet onderhou en tog in een opsig aanstoot neem, hy is aan almal skuldig. Want Hy wat gesê het: Moenie egbreuk pleeg nie, het ook gesê: Moenie doodslaan nie. En as jy geen egbreuk pleeg nie, maar as jy doodslaan, het jy 'n oortreder van die wet geword. So spreek julle en doen so, soos hulle wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word. Want hy sal sonder barmhartigheid geoordeel word wat geen barmhartigheid bewys het nie; en barmhartigheid is bly teen die oordeel.
JAKOBUS 2:8-13 Die Boodskap (DB)
As julle die wet van die Koning hou, naamlik: “Jy moet jou naaste so liefhê soos jouself,” tree julle op soos God dit wil hê. As julle egter party mense begin voortrek en beter behandel as ander omdat hulle menslik gesproke belangrik lyk, doen julle nie wat God van julle vra nie. Volgens die wet van die Koning is julle dan niks beter as tronkvoëls wat nie wil luister na sy wet nie. Dit help nie dat ’n mens die meeste van God se wette presies hou, maar jou aan een van hulle nie steur nie. Al is dit net daardie één wat jy nie wil doen nie, is dit so goed of jy die rug draai vir alles wat God van jou vra. Dieselfde God wat gesê het: “Moenie ’n verhouding met iemand anders buite jou huwelik aangaan nie,” het ook gesê: “Moenie iemand doodmaak nie.” Al bly jy hoe getrou aan jou huweliksmaat, maar jy maak iemand dood, het jy God se wet gebreek. Dan is jy ’n wetbreker. Praat en tree op soos mense wat baie ernstig is om presies te doen wat God van hulle vra. Julle weet mos dat God julle dade by die finale oordeel volgens sy wet gaan toets. Die wet help ’n mens om die grypende kloue van die kwaad te systap. Iemand wat ander mense sonder werklike liefde en gevoel behandel, sal dieselfde liefdeloosheid en gevoelloosheid by die finale oordeel ervaar. As iemand egter liefdevol en sensitief teenoor ander optree, beteken dit dat daar by die oordeel niks teen so ’n persoon gesê sal word nie.
JAKOBUS 2:8-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle doen inderdaad die regte ding as julle God se koninklike wet uitleef soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Maar as julle teen mense diskrimineer, doen julle sonde, want juis hierdie wet brandmerk julle dan as oortreders. Julle weet mos: iemand wat al die gebooie onderhou behalwe één, is net so skuldig as iemand wat ál die gebooie oortree. Want dieselfde God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dan nou aan jou huweliksmaat getrou is, maar tog moord pleeg, het jy mos al die gebooie oortree. Sorg dus dat jou woorde en dade wys dat jy iemand is wat weet dat jy beoordeel gaan word deur die wet wat vrymaak, die wet van liefde. Wie sonder ontferming optree, sal sonder ontferming geoordeel word. God se ontferming is sterker as sy oordeel.