JAKOBUS 4:1-2
JAKOBUS 4:1-2 Bybel vir almal (ABA)
Julle weet goed hoekom julle twis en baklei met mekaar. Dit is omdat julle so baie slegte dinge wil hê vir julleself. Die dinge wat julle wil hê, baklei met mekaar in julle harte. Julle wil baie graag dinge hê, maar julle kry dit nie, en daarom vermoor julle mense en daarom is julle jaloers op mekaar. Wanneer julle nie die dinge kan kry wat julle graag wil hê nie, dan twis en baklei julle. En julle kry nie die dinge wat julle wil hê nie, omdat julle dit nie vir God vra nie.
JAKOBUS 4:1-2 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WAARVANDAAN kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie.
JAKOBUS 4:1-2 Afrikaans 1983 (AFR83)
Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.
JAKOBUS 4:1-2 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Waar kom al die oorloë en gevegte onder julle vandaan? Kom dit nie van julle begeertes, wat in julle ledemate oorlog voer nie? Julle begeer, maar julle besit niks nie; julle pleeg moord, en is vol jaloesie, en julle kan niks bereik nie. Julle veg en maak oorlog, en tog het julle niks, omdat julle nie bid nie.
JAKOBUS 4:1-2 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Waar kom oorloë en gevegte onder julle vandaan? kom hulle nie daarvandaan nie, selfs uit julle begeerlikhede wat in julle lede oorlog voer? Julle begeer en het nie; julle maak dood en begeer om te hê en kan nie verkry nie; julle veg en oorlog, maar julle het nie, omdat julle nie vra nie.
JAKOBUS 4:1-2 Die Boodskap (DB)
Vir wat stry en baklei julle so? Wat is verkeerd? Is dit nie omdat elkeen altyd net aan homself dink nie? Kom dit nie van daardie gevoel dat net wat vir jou lekker of belangrik is, saak maak nie? Dit is maar hoe ons as mense is. Julle wil gedurig allerhande dinge hê. As julle dit nie kry nie, is die duiwel los. Dan wil julle sommer moord pleeg. Julle gaan omtrent dood van jaloesie omdat iemand anders dit het. Op dié manier kan julle dit natuurlik nie kry nie. Om te baklei en mekaar te wil vernietig gaan julle niks in die sak bring nie. Julle het nie al daardie dinge nie, omdat julle dit op die verkeerde manier wil kry.
JAKOBUS 4:1-2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Waar kom die rusies en gevegte onder julle vandaan? Is dit nie julle sondige drange wat julle ledemate soos soldate gebruik om te veg nie? Julle wil dinge hê wat julle nie het nie, en pleeg dan moord om dit te kry. Julle is jaloers oor wat ander het, en as julle dit nie in die hande kan kry nie, veg en baklei julle om dit by hulle te vat. En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie.