JAKOBUS 4:2-3
JAKOBUS 4:2-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.
JAKOBUS 4:2-3 Bybel vir almal (ABA)
Julle wil baie graag dinge hê, maar julle kry dit nie, en daarom vermoor julle mense en daarom is julle jaloers op mekaar. Wanneer julle nie die dinge kan kry wat julle graag wil hê nie, dan twis en baklei julle. En julle kry nie die dinge wat julle wil hê nie, omdat julle dit nie vir God vra nie. En wanneer julle iets vir God vra, dan kry julle dit nie, omdat julle verkeerd vra. Julle vra dinge sodat julle dit kan mors saam met al die ander lekker dinge wat julle graag wil doen.
JAKOBUS 4:2-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.
JAKOBUS 4:2-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Julle begeer, maar julle besit niks nie; julle pleeg moord, en is vol jaloesie, en julle kan niks bereik nie. Julle veg en maak oorlog, en tog het julle niks, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra, sodat julle dit in julle wellus kan deurbring.
JAKOBUS 4:2-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Julle begeer en het nie; julle maak dood en begeer om te hê en kan nie verkry nie; julle veg en oorlog, maar julle het nie, omdat julle nie vra nie. Julle bid en ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, sodat julle dit kan verteer op julle begeerlikhede.
JAKOBUS 4:2-3 Die Boodskap (DB)
Julle wil gedurig allerhande dinge hê. As julle dit nie kry nie, is die duiwel los. Dan wil julle sommer moord pleeg. Julle gaan omtrent dood van jaloesie omdat iemand anders dit het. Op dié manier kan julle dit natuurlik nie kry nie. Om te baklei en mekaar te wil vernietig gaan julle niks in die sak bring nie. Julle het nie al daardie dinge nie, omdat julle dit op die verkeerde manier wil kry. Hoekom vra julle nie ’n slag opreg vir God nie? Julle sê dalk: “Ja, ons bid tog, maar God gee nie vir ons wat ons vra nie.” Daar is ’n goeie rede voor: julle motiewe is verkeerd. Julle vra die goed van God sodat julle dit soos stout kinders net vir julleself kan hê. Dit gaan net om julleself en om niemand anders nie.
JAKOBUS 4:2-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle wil dinge hê wat julle nie het nie, en pleeg dan moord om dit te kry. Julle is jaloers oor wat ander het, en as julle dit nie in die hande kan kry nie, veg en baklei julle om dit by hulle te vat. En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie. En selfs wanneer julle vra, kry julle dit nie omdat julle motiewe verkeerd is – julle wil goed hê net om dit self te geniet.