JAKOBUS 4:6-10
JAKOBUS 4:6-10 Bybel vir almal (ABA)
Maar God gee vir 'n mens nog meer genade. Daarom sê God in die Ou Testament: Wanneer mense dink dat hulle vir ander mense kan spot, dan spot God vir húlle. Wanneer mense weet dat hulle nie hulleself kan help nie, dan is God goed vir hulle. Julle moet gehoorsaam wees aan God, julle moet veg teen die duiwel, dan sal hy wegvlug van julle. Julle moet nader kom na God toe, dan sal Hy nader kom na julle toe. Julle is mense wat sonde doen, julle moet ophou om verkeerde dinge te doen. Julle is vals en julle doen nie wat julle sê nie, julle moet ophou om verkeerde dinge te dink. Julle moet besef dat dit baie sleg gaan met julle, julle moet huil en treur. Julle is nou vrolik, maar julle moet hartseer word. Julle is nou bly, maar julle moet ophou om bly te wees, en julle moet weet dat julle nie goed genoeg is nie. Julle moet vir die Here wys dat julle nie dink julle is belangrik nie. Dan sal Hy julle belangrik maak.
JAKOBUS 4:6-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid. Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.
JAKOBUS 4:6-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy: “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.” Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.
JAKOBUS 4:6-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar Hy gee groter genade – daarom sê Hy: “God staan die hoogmoediges teen, maar aan die nederiges gee Hy genade.” Onderwerp julle dus aan God. Weerstaan die Duiwel, dan sal hy van julle wegvlug. Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader. Reinig julle hande, sondaars, en suiwer julle harte, dubbelhartiges! Weeklaag en treur en huil! Laat julle lag in droefheid verander, en julle blydskap in somberheid. Verneder julle voor die Here, dan sal Hy julle verhoog.
JAKOBUS 4:6-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar Hy gee meer genade. Daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Onderwerp julle dan aan God. Weerstaan die duiwel, en hy sal van jou wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot jou nader. Reinig julle hande, sondaars; en reinig julle harte, julle dubbelhartige. Wees verdruk en treur en ween; laat julle lag in rou verander word en julle blydskap in beswaardheid. Verneder julle voor die oë van die Here, en Hy sal julle verhef.
JAKOBUS 4:6-10 Die Boodskap (DB)
God gee ook vir ons baie meer as wat ons nodig het om so te leef, sonder dat ons dit verdien. Ek verwys weer na wat die Skrif sê: “God wil niks met die mense te doen hê wat dink hulle kan op hulle eie sonder God regkom nie. Maar vir daardie mense wat weet hulle is niks sonder God nie, is God baie, baie goed - meer as wat hulle ooit verdien.” Wees gehoorsaam aan God en net aan Hom. Verklaar die duiwel vyand nommer een in jou lewe en gee hom nie ’n enkele kans nie. Hy sal dan van jou af padgee omdat hy niks kan regkry nie. Julle moet God se hand al hoe stywer vashou; dan sal Hy júlle hand ook al hoe stywer vashou. As julle verkeerde dinge doen, hou op daarmee. Hou op om aan die een kant God te wil dien en aan die ander kant nog met julle sondes aan te gaan. Gee net vir God plek in julle lewe. Wees hartseer oor alles wat julle verkeerd gedoen het. Moenie dink julle verkeerde lewe is sommer niks nie. Dit is iets waaroor julle baie sleg moet voel. Julle behoort daaroor te huil. Vee die glimlag van selftevredenheid van julle gesig af en wys hoe jammer julle oor julle sondes is. In plaas van die lag van vrolikheid moet daar die traan van skuld en rou wees. Buig baie laag voor die Here. Sê dat jy jou hele lewe net vir Hom wil leef. God sal jou optel, daar waar jy in oorgawe voor Hom buig, en jou op ’n ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat staan.
JAKOBUS 4:6-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God is egter besig om ons steeds meer genade te gee om aan Hom getrou te wees. Daarom sê die Skrif: “God weerstaan hoogmoedige mense, maar aan nederige mense gee Hy genade.” Wys dus dat julle van God afhanklik is deur na Hom te luister. Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug. Kom nader aan God, en Hy sal nader aan julle kom. Was julle hande van die sonde wat daaraan kleef, julle sondaars, maak julle harte skoon, julle tweegesigte wat nie kan besluit aan wie julle getrou wil wees nie. Trane moet wys julle is jammer oor die verkeerde goed wat julle aangevang het! Treur en huil! Julle gelag moet in droefheid verander, en julle blydskap in bedruktheid! Val voor die Here neer en wys dat julle van Hom afhanklik is, en Hy sal julle optel en aan julle aansien gee.