JAKOBUS 5:1-6
JAKOBUS 5:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Ryk mense, julle moet luister, julle moet huil en skree oor die slegte dinge wat met julle sal gebeur. Julle het baie goed bymekaargemaak, maar dit het vrot geword, en die motte het julle klere gevreet. Julle goud en silwer het geroes, en die roes sal wys watter slegte dinge julle gedoen het. Roes vreet goud en silwer, en die vuur van die Here se straf sal ook vir julle brand, want julle het mooi en duur goed bymekaargemaak in hierdie laaste dae voordat die Here kom. Kyk wat het julle gedoen! Julle het nie die mense betaal wat koring afgesny het op julle lande nie. Die geld wat húlle moes gekry het, beskuldig nou vir júlle. Ja, die Here wat oor alles regeer, hoor altyd wanneer die mense wat die koring afgesny het, skree en vra dat Hy hulle moet help. Hier op die aarde het julle duur goed gekoop en julle het die lewe geniet. Julle het vet geword toe die tyd al naby was, die tyd wanneer die Here almal sal straf wat verkeerd gedoen het. Julle het gesê onskuldige mense is skuldig. Hulle kon julle nie keer nie en hulle kon hulleself nie verdedig nie, maar julle het hulle vermoor.
JAKOBUS 5:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
KOM nou, julle rykes, ween en huil oor die ellendes wat oor julle kom. Julle rykdom is bedorwe, en julle klere is deur die motte verniel. Julle goud en silwer is verroes, en hulle roes sal tot 'n getuienis teen julle wees en sal soos 'n vuur julle vlees verteer. Julle het skatte vergader in die laaste dae. Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot in die ore van die Here van die leërskare. Julle het op die aarde 'n weelderige en losbandige lewe gelei; julle het jul harte vet gevoer soos op 'n slagdag. Veroordeel, vermoor het julle die regverdige; hy versit hom nie teen julle nie.
JAKOBUS 5:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
En nou, julle rykaards, kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom. Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word, julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos 'n vuur. Julle maak skatte bymekaar, en dit terwyl dit die laaste dae is. Ja, julle hou die loon agter van die werkers wat julle lande afgeoes het. Dit skreeu ten hemel; die geroep van dié wat geoes het, het tot by die Here die Almagtige gekom. Hier op aarde lewe julle in weelde en oordaad; julle smul na hartelus, en dit terwyl die slagdag reeds daar is. Julle veroordeel en vermoor die onskuldige en hy bied geen teenstand nie.
JAKOBUS 5:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Kom nou, julle rykes, huil en weeklaag oor die rampe wat julle gaan tref! Julle rykdom het vergaan, en julle klere is motgevreet. Julle goud en silwer is verroes, en die roes sal teen julle getuig, en julle liggame soos vuur verteer. Julle het in die laaste dae skatte opgegaar. Kyk, die loon wat julle weerhou het van die arbeiders wat julle lande geoes het, roep dit uit, en die geroep van diegene wat oes, het die ore van die HERE, Heerser oor alle magte, bereik. Julle het op aarde weelderig en losbandig gelewe. Julle het julle harte vet gevoer vir die slagdag. Julle het die •regverdige veroordeel en vermoor; hy kan hom nie teen julle verweer nie.
JAKOBUS 5:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Gaan nou, julle rykes, huil en huil oor julle ellende wat oor julle sal kom. Jou rykdom is bedorwe, en jou klere is verhard. Jou goud en silwer is vergaan; en hulle roes sal 'n getuie teen jou wees en jou vlees soos vuur eet. Julle het skatte bymekaargemaak vir die laaste dae. Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgemaai het, wat van julle teruggehou word deur bedrog, roep; Julle het in plesier gelewe op die aarde, en julle was losbandig; julle het julle harte gevoed soos op 'n dag van slagting. Julle het die regverdiges veroordeel en gedood; en Hy weerstaan jou nie.
JAKOBUS 5:1-6 Die Boodskap (DB)
Staan ’n bietjie nader en luister hierna, julle wat dink geld maak julle so belangrik. Vreeslike dinge wat julle baie seer gaan maak, wag vir julle. Dan sal julle net met julle kop in julle hande kan sit en huil. Die baie geld en status wat julle so belangrik laat voel, is besig om voor julle oë te vergaan. Die motte vreet julle klere op en julle geld verloor waarde. Dinge wat vir julle soveel werd is, word oud en gaan stukkend. Soos al die dinge wat julle so belangrik laat voel, stukkend gaan en opgeëet word, so word die sin van julle lewe weggevreet. Dit is soos ’n veldbrand wat julle lewe stukkie vir stukkie wegbrand. Geld is al waarmee julle julle besig hou en waaroor julle gesels; intussen is die wederkoms van die Here naby. Onthou julle die werksmense wat op julle lande gewerk het? Onthou julle hoe julle hulle nie gegee het wat hulle eintlik verdien het nie? En hulle kon niks daaraan doen nie, want hulle was magteloos. Sulke dinge kan ’n mens nie stil hou nie. Dit is of dié geld wat julle vir julleself gehou het, self aan die skree gaan omdat julle so oneerlik is. Die Here, wat sterker as almal is, hoor duidelik hoe daardie werkers magteloos kla. Julle wat ryk is, het meer as wat julle nodig het. Julle het so baie dat julle eintlik daarmee mors. Julle koop goed wat julle glad nie nodig het nie. Terwyl ander mense doodgaan van die honger is julle besig om julleself vet te voer. Julle behandel mense wat julle niks gedoen het nie en wat onskuldig is, asof hulle vuilgoed is en maak hulle baie seer.
JAKOBUS 5:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kom nou, julle ryk mense, huil en treur oor al die swaar wat vir julle voorlê. Julle rykdom sal definitief vergaan en julle klere deur motte gevreet word. Julle goud en silwer sal beslis oproes. Hierdie einste roes sal soos vuur julle vleis wegvreet. Só sal die goud en silwer wat julle opgegaar het, op die oordeelsdag teen julle getuig. Kyk, die betaling van die arbeiders wat julle lande afgeoes het en wat julle van hulle teruggehou het, skree teen julle. En die krete van dié wat geoes het, het die ore van die Here die Almagtige bereik. Hier op aarde het julle luuks en in weelde geleef, en na hartelus elke behoefte bevredig. Julle harte is mooi vetgemaak, net reg vir die slagdag. Julle het goeie mense veroordeel en vermoor, en hulle kon hulle nie teen julle verdedig nie.