JEREMIA 19:1-9

JEREMIA 19:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het gesê: Gaan koop 'n kleipot en vat van die leiers van die volk en die priesters saam en gaan af na die Ben-Hinnomdal toe regoor die Potskerfpoort en kondig daar aan wat Ek vir jou sal sê. Jy moet sê: Hoor die woord van die Here, konings van Juda en inwoners van Jerusalem! So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek gaan oor hierdie plek 'n ramp bring wat elkeen wat daarvan hoor, se ore sal laat tuit. Julle het My verlaat en hierdie plek verontreinig deur hier vir ander gode offers te bring, gode waarvan julle, julle voorvaders en die konings van Juda nie voorheen geweet het nie. Julle het op dié plek baie onskuldige bloed vergiet, julle het vir Baäl hoogtes gebou en julle seuns as brandoffers vir Baäl verbrand, 'n ding wat Ek nie beveel het nie en nie oor gepraat het nie en wat nooit by My opgekom het nie. Daarom kom daar 'n tyd, sê die Here, dat dié plek nie meer Tofet of Ben-Hinnomdal genoem sal word nie, maar Moorddal. Op hierdie plek sal Ek 'n end maak aan die planne van Juda en Jerusalem. Ek sal hulle vyande hulle met die swaard laat afmaai, hulle oorlewer in die mag van mense deur wie hulle nie gespaar sal word nie, en Ek sal hulle lyke deur voëls en roofdiere laat opvreet. En hierdie stad maak Ek iets waaroor mense net met afgryse vervul kan word en kan fluit. Elkeen wat hier verbykom, sal van verbasing fluit oor alles wat die stad getref het. Jerusalem sal beleër word deur vyande wat nie sy inwoners sal spaar nie. Hulle posisie sal benard word: Ek sal hulle hulle eie kinders laat eet, en die mense sal mekaar eet.

JEREMIA 19:1-9 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het gesê: “Jy moet 'n kleipot gaan koop wat 'n pottebakker gemaak het en in 'n oond gebak het. Jy moet 'n paar leiers van die volk en leiers van die priesters saamneem en julle moet na die Ben-Hinnom-vallei gaan wat naby die Potskerf-poort is. Daar moet jy hard praat en sê wat Ek vir jou sal sê. Jy moet sê: ‘Konings van Juda en mense wat in Jerusalem woon, julle moet luister na wat die Here sê. Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Ek sal dit nou sleg laat gaan met die mense in hierdie plek. Elkeen wat hoor wat gebeur, sal dit nie kan glo nie.’ Dit sal gebeur omdat hulle weggegaan het van My. Hulle het hierdie plek ontwy en hulle het hier wierook-offers gebring vir ander gode, gode wat hulle en hulle voorvaders en die konings van Juda voorheen nie geken het nie. En hulle het hier baie onskuldige mense doodgemaak. Hulle het ook die offer-plekke van Baäl gebou om hulle seuns te verbrand. Dit was brand-offers vir Baäl. Ek het nie gesê hulle moet dit doen nie, Ek het nooit aan so iets gedink nie. Daarom sê Ek nou: Daar sal 'n tyd kom wanneer die mense nie meer hierdie plek sal noem ‘Tofet’ of ‘Ben-Hinnom-vallei’ nie, hulle sal dit ‘Moord-vallei’ noem. Die mense van Juda en Jerusalem het planne gemaak, Ek sal hulle planne hier breek soos 'n mens 'n kleipot breek. Ek sal hulle vyande bring om hulle met swaarde dood te maak, en Ek sal hulle dooie liggame hier laat lê sodat die voëls en die wilde diere dit kan vreet. Mense sal bang word wanneer hulle hierdie stad sien, en hulle sal fluit. Elkeen wat deur die stad loop, sal bewe en fluit omdat die vyande die stad so verwoes het. Ek sal vyande bring wat die mense van die stad wil doodmaak. Die vyande sal rondom die stad wees, en niemand sal uit die stad kan kom nie. Dan sal die mense van die stad hulle eie kinders en mekaar begin doodmaak en eet.

JEREMIA 19:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

SO sê die HERE: Gaan koop vir jou 'n pottebakkerskruik, saam met oudstes uit die volk en oudstes uit die priesters. En gaan uit na die dal van die seun van Hinnom wat voor die ingang van die Potskerwepoort lê, en roep daar uit die woorde wat Ek met jou sal spreek. En jy moet sê: Hoor die woord van die HERE, o konings van Juda en inwoners van Jerusalem! So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring onheil oor hierdie plek waarvan elkeen wat dit hoor, se ore sal tuit; omdat hulle My verlaat het en hierdie plek onherkenbaar gemaak het en vir ander gode, wat hulle nie geken het nie, daarin rook laat opgaan het — hulle en hulle vaders en die konings van Juda; en hulle het hierdie plek gevul met die bloed van onskuldiges. En hulle het die hoogtes van Baäl gebou om hulle seuns met vuur te verbrand as brandoffers aan Baäl — iets wat Ek nie beveel of uitgespreek het nie, of wat in my hart nie opgekom het nie. Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat hierdie plek nie meer sal genoem word Tofet en die dal van die seun van Hinnom nie, maar Moorddal. En Ek sal die plan van Juda en Jerusalem in hierdie plek uitskud, en Ek sal hulle voor hul vyande deur die swaard laat val en deur die hand van die wat hulle lewe soek; en Ek sal hulle lyke gee as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde. En Ek sal hierdie stad maak 'n voorwerp van verbasing en bespotting; elkeen wat daar verbytrek, sal hom verbaas en spot met al sy plae. En Ek sal hulle die vlees van hul seuns en die vlees van hul dogters laat eet, en hulle sal elkeen die vlees van sy naaste eet, in die beleëring en in die benoudheid waarmee hulle vyande en die wat hulle lewe soek, hulle benoud sal maak.

JEREMIA 19:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

So het die HERE vir my gesê: “Gaan koop 'n kruik by 'n pottebakker; van die oudstes van die volk en die oudstes van die priesters moet by wees. Gaan dan uit na die Ben-Hinnomdal by die ingang na die Potskerfpoort en verkondig daar die woorde wat Ek vir jou sê. Jy moet sê, ‘Hoor die woord van die HERE, konings van Juda en inwoners van Jerusalem! So sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Kyk, Ek gaan onheil bring oor hierdie plek, sodat elkeen wat dit hoor, se ore sal tuit. Want hulle het My verlaat, hierdie plek geskend en daarin offers verbrand vir ander gode wat hulle, hulle voorouers en die konings van Juda nie geken het nie. Hulle het hierdie plek gevul met die bloed van onskuldiges. Hulle het offerhoogtes vir Baäl gebou om hulle seuns as brandoffers vir Baäl te verbrand – iets wat Ek nie beveel of gesê het nie, en wat nie in my gedagtes opgekom het nie. Daarom, kyk, daar kom dae,” ’ is die uitspraak van die HERE, ‘ “dat hierdie plek nie meer Tofet en Ben-Hinnomdal genoem sal word nie, maar Moorddal. Ek sal Juda en Jerusalem se planne op hierdie plek verydel; Ek sal hulle deur die swaard voor hulle vyande laat val, en deur die hand van dié wat hulle lewens soek. Ek sal hulle lyke as voedsel gee vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde. Ek sal hierdie stad 'n skrikbeeld en die rede vir 'n gefluit maak. Elkeen wat by haar verbygaan, sal verslae wees en fluit oor al haar wonde. Ek sal hulle die vleis van hulle seuns en dogters laat eet; en hulle sal mekaar se vleis eet tydens die beleg en die teistering waarmee hulle vyande en die mense wat hulle lewens soek, hulle sal teister.” ’

JEREMIA 19:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

So sê die HERE: Gaan haal 'n erdepot van pottebakker en neem van die oudstes van die volk en van die oudstes van die priesters; En gaan uit na die dal van die seun van Hinnom wat by die ingang van die oostelike poort is, en verkondig daar die woorde wat Ek jou sal sê: En sê: Hoor die woord van die HERE, o konings van Juda en inwoners van Jerusalem! So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring onheil oor hierdie plek; wie dit hoor, sy ore sal tuit. Omdat hulle My verlaat het en hierdie plek vervreem en daarin rook laat opgaan het vir ander gode wat hulle en hulle vaders nie geken het nie, en ook die konings van Juda, en hierdie plek gevul het met die bloed van onskuldiges; Hulle het ook die hoogtes van Baäl gebou om hulle seuns met vuur te verbrand as brandoffers aan Baäl, wat Ek nie beveel of dit gespreek en nie in my gedagtes opgekom het nie. Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat hierdie plek nie meer Tofet en ook nie die dal van die seun van Hinnom genoem sal word nie, maar die dal van slagting. En Ek sal die raad van Juda en Jerusalem op hierdie plek tot niet maak; en Ek sal hulle deur die swaard laat val voor hulle vyande en deur die hand van die wat hulle lewe soek; en hulle lyke sal Ek gee as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde. En Ek sal hierdie stad 'n wildernis en 'n bespotting maak; elkeen wat daar verbygaan, sal verbaas wees en spot oor al sy plae. En Ek sal hulle die vleis van hulle seuns en die vleis van hulle dogters laat eet, en hulle sal elkeen die vleis van sy vriend eet in die beleëring en benoudheid waarmee hulle vyande en die wat hulle lewe soek, hulle sal knou.

JEREMIA 19:1-9 Die Boodskap (DB)

Die Here het vir my gesê: “Gaan koop ’n kleipot. Vra dan vir ’n paar van die senior leiers van die mense en van die senior godsdienstige leiers om saam met jou te gaan. Gaan by die uitgang met die naam Potskerfhek uit na die Hinnomvallei. Gaan sê daar vir hulle wat Ek sê. “Sê vir hulle: Konings van Juda en mense van Jerusalem, luister na wat Ek te sê het. Ek is sterker as alles en almal, Ek is die God van Israel! Ek gaan ’n groot ramp oor hierdie plek laat kom. As mense daarvan hoor, sal hulle ore tuit. Ek doen dit omdat die mense nie lojaal aan My was nie, maar hierdie plek vuil gemaak het met die goed wat hulle hier gedoen het. Hulle het hier wierook vir vreemde gode gebrand. So vreemd was hierdie gode dat niemand van hulle geweet het nie. Nie vandag se mense nie, ook nie hulle voorouers of die konings van Juda nie. Die ergste is dat hulle onskuldige mense hier doodgemaak het. Hulle het selfs plekke gebou waar hulle vir die god Baäl offers gebring het. Hulle het hulle eie kinders met vuur verbrand om in Baäl se goeie boekies te kom. Dit is nie iets wat Ek hulle sou beveel het om te doen nie. Om die waarheid te sê, dit het nie eens in my gedagtes opgekom om iets so verskriklik te beveel nie!” Die Here sê: “Maar neem kennis, die tyd kom wanneer die naam van hierdie plek nie meer Tofet of Hinnomvallei sal wees nie, maar dit sal Moordvallei genoem word. Ek sal Juda en Jerusalem se planne in die wiele ry. Ek sal toelaat dat julle vyande julle doodmaak. Ek sal dat die aasvoëls en die wilde diere julle lyke opvreet. Ek sal hierdie stad so erg laat verwoes dat mense na hulle asem sal snak. Mense wat daar verbyloop, sal geskok wees en fluit van verbasing oor wat hulle sien. Jerusalem sal deur vyande omsingel word wat die mense van die stad wil uitroei. Omdat kos skaars sal word, sal die ingehokte mense moed begin verloor en baie lelike dinge begin doen. Van die mense sal hulle eie kinders en vriende begin eet.”

JEREMIA 19:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het vir my gesê: “Gaan koop ’n kleipot. Vra dan sommige van die leiers van die volk en van die priesters om saam met jou te gaan. Gaan dan uit by die uitgang met die naam Potskerfhek na die vallei van die seun van Hinnom. Verkondig daar vir hulle die boodskap wat Ek vir jou gegee het. Sê vir hulle: ‘Konings van Juda en inwoners van Jerusalem, luister na die boodskap van die HERE! Die HERE, die Almagtige, die God van Israel, sê: Ek gaan ’n baie groot ramp oor hierdie plek laat kom. As mense daarvan hoor, sal hulle ore tuit. “‘Ek doen dit omdat hulle dislojaal was aan My. Hulle het hierdie vallei onrein gemaak deur wierook vir vreemde gode te brand. Hierdie gode was so onbekend, nie vandag se mense of hulle voorouers of die konings van Juda het hulle geken nie. Hulle het ook onskuldige mense hier doodgemaak. Hulle het hoogtes vir Baäl gebou. Hier het hulle hulle eie kinders as brandoffers aan Baäl geoffer. Dit is nie iets wat Ek hulle sou beveel het om te doen nie. Dit het nie eers in my gedagtes opgekom om so iets te beveel nie! Die HERE sê: Neem kennis, die tyd kom wanneer die naam van hierdie plek nie meer Tofet of Hinnomdal sal wees nie, maar Moorddal. Hier sal Ek Juda en Jerusalem se oorlogsplanne dwarsboom. Ek sal toelaat dat julle vyande julle met geweld doodmaak. Die vyand sal julle lyke vir aasvoëls en wilde diere los om te verslind. Ek sal hierdie stad só verwoes laat dat mense na hulle asems sal snak. Mense wat verbyloop, sal geskok wees en van verbasing fluit oor die slagting. Hulle vyande en die mense wat hulle wil doodmaak, sal hulle beleër tot al die kos op is. Dan sal die mense wat in die stad vasgekeer is, hulle seuns, dogters en vriende weens honger begin eet. Hulle sal tot wanhoop gedryf word.’