JEREMIA 3:6-10 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
JEREMIA 3:6-10 AFR83 (Afrikaans 1983)
Dit was tydens die regering van koning Josia. Die Here het vir my gesê: Het jy gesien wat die ontroue Israel gedoen het? Sy het op elke hoë berg en onder elke groen boom gaan ontug pleeg! Ek het gedink: nadat sy al hierdie dinge gedoen het, sal sy na My toe terugkom, maar sy het nie teruggekom nie. En haar ontroue suster Juda het dit alles aanskou. Toe Ek die trouelose Israel oor al haar ontrou verstoot en die skeibrief aan haar gegee het, het Ek gesien dat haar ontroue suster Juda nie afgeskrik is nie. Ook sy het gaan ontug pleeg. Dit was vir Israel niks om haarself en die land te verontreinig nie, sy het owerspel gepleeg met afgodsbeelde van klip en hout. En asof dit nie genoeg was nie, het haar ontroue suster Juda na My toe teruggekom, maar nie met volle oorgawe nie; dit was vals, sê die Here.
JEREMIA 3:6-10 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN die HERE het vir my gesê in die dae van koning Josía: Het jy gesien wat die afkerige, Israel, gedoen het? Sy het op elke hoë berg en tot onder elke groen boom gegaan en daar gehoereer. En Ek het gesê, nadat sy dit alles gedoen het: Keer na My terug! Maar sy het nie teruggekeer nie. En dit het die ontroue, haar suster Juda, gesien. En Ek het gesien toe Ek uit oorsaak van die owerspel van die afkerige, Israel, haar verstoot en haar haar skeibrief gegee het, dat die ontroue, haar suster Juda, nie bevrees was nie, maar gegaan en ook self gehoereer het. En vanweë haar ligsinnige hoerery het sy die land ontheilig, ja, sy het owerspel bedrywe met klip en hout. Maar ook ondanks dit alles het die ontroue, haar suster Juda, haar nie met haar hele hart tot My bekeer nie, maar valslik, spreek die HERE.
JEREMIA 3:6-10 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
In die tyd toe Josia koning was, het die HERE vir my gesê: “Het jy gesien wat Israel gedoen het? Soos ’n sedelose vrou het Israel op elke hoogte en onder elke groen boom ander gode aanbid. Ek het gedink dat as Israel klaar rondgeloop het, sy weer na My toe sou terugkom, maar dit het nie gebeur nie. “Israel se ontroue suster Juda het alles sien gebeur. Sy het gesien dat Ek vir Israel, wat so ontrou was, geskei het. Maar dit het Juda nie banggemaak nie. Israel het soos ’n onsedelike vrou ander gode begin dien. Sy was ongeërg oor haar onsedelikheid. Sy het die land met haar owerspel besmet, want sy het afgode van hout en klip gedien. Maar ten spyte van alles het die ontroue suster Juda net halfhartig na My toe teruggekom. Sy het gemaak of sy jammer is,” sê die HERE.
JEREMIA 3:6-10 DB (Die Boodskap)
In die tyd toe Josia koning in Juda was, het die Here vir my gesê: “Het jy gesien wat die noordelike koninkryk, Israel, gedoen het? Soos ’n persoon wat ontrou is aan sy huweliksmaat het Israel ander gode begin dien. Op elke hoogte en onder elke groen boom het hulle eer aan hierdie gode gebring. Ek het gedink dat as Israel klaar rondgeloop het, sy weer aan My lojaal sou wees. Dit het nie gebeur nie. Israel se ontroue suster Juda het alles gesien wat gebeur het. Sy het gesien dat Ek vir Israel, wat so ontrou was, ’n skeibrief gegee en haar weggestuur het. Maar dit het geen indruk op Juda gemaak nie. Sy het ook in haar ontrou ander gode begin dien. Israel het niks ernstig opgeneem nie. Dit het haar nie gepla dat haar ontrouheid die land ’n slegte naam gegee het nie. Sy het doodgewoon haar eie kop gevolg en voor vreemde gode neergebuig. Die ergste is dat dit gode was wat met die hand uit hout gesny en uit klip gekap is. Maar na alles wat met Israel gebeur het, het die ontroue suster Juda net halfhartig na My toe teruggekom. Sy was vals en het net gemaak of sy jammer is,” sê die Here.
JEREMIA 3:6-10 ABA (Bybel vir almal)
Dit was die tyd toe Josia koning was. Die Here het vir my gesê: “Het jy gesien wat die mense van Israel gedoen het? Hulle het My verraai. Hulle het afgode gaan dien op elke hoë berg en onder elke groen boom. Ek het gedink hulle sal na My toe terugkom nadat hulle al hierdie dinge gedoen het, maar hulle het nie teruggekom nie. Die ontrou mense van Juda het dit gesien, en hulle het ook afgode gaan dien. Ek het die mense van Israel wat My verraai het, weggejaag soos 'n man vir sy vrou 'n skeibrief gee en haar wegjaag wanneer sy egbreuk gepleeg het. Maar Ek het gesien die ontrou mense van Juda word nie bang nie. Hulle het ook afgode gaan dien. Dit was vir die mense van Israel maklik om afgode te dien. Hulle het die land ontwy en hulle het My gelos om afgode van hout en klip te dien. Toe Ek die mense van Israel weggejaag het, het die ontrou mense van Juda gesê hulle kom terug na My toe, maar hulle het dit nie regtig gedoen nie.” Dit het die Here gesê.
JEREMIA 3:6-10 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
In die dae van koning Josia het die HERE vir my gesê: “Het jy gesien wat die afvallige, Israel, gedoen het? Sy gaan na elke hoë heuwel, en gaan onder elke skaduryke boom in, en daar hoereer sy. Ek het gedink: Nadat sy al hierdie dinge gedoen het, sal sy na My terugkeer. Maar sy het nie teruggekeer nie. En die verraderlike, haar suster Juda, het dit gesien. Sy het gesien dat Ek haar suster, die afvallige, Israel, weggestuur het omdat sy egbreuk gepleeg het. Ek het haar skeibrief vir haar gegee. Maar die verraderlike, haar suster Juda, is nie daardeur afgeskrik nie. Ook sy het gegaan en gehoereer. En omdat haar hoerery so ligtelik opgeneem is, het sy die land besoedel. Sy het met klip en hout egbreuk gepleeg. Selfs nieteenstaande dit alles het die verraderlike, haar suster Juda, nie met haar hele hart na My teruggekeer nie, maar met 'n geveins,” is die uitspraak van die HERE.
JEREMIA 3:6-10 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Die HERE het ook vir my gesê in die dae van koning Josía: Het jy gesien wat die afkerige Israel gedoen het? sy het op elke hoë berg en onder elke groen boom geklim, en daar het gehoereer. En ek het gesê nadat sy al hierdie dinge gedoen het: Bekeer u na my. Maar sy het nie teruggekeer nie. En haar verraderlike suster Juda het dit gesien. En ek het gesien toe Ek vanweë al die oorsake waardeur die afkerige Israel owerspel gepleeg het, haar verstoot en haar 'n skeibrief gegee het; maar haar verraderlike suster Juda was nie bang nie, maar het gegaan en ook gehoereer. En dit het gebeur deur die ligtheid van haar hoerery, dat sy die land verontreinig het en egbreuk gepleeg het met klippe en met stokke. Maar oor dit alles het haar verraderlike suster Juda haar nie met haar hele hart tot My bekeer nie, maar bedrieglik, spreek die HERE.