JOHANNES 11:1-15

JOHANNES 11:1-15 Bybel vir almal (ABA)

Lasarus was siek. Hy het in Betanië gewoon. Betanië was 'n dorpie waar Lasarus se susters Maria en Marta ook gewoon het. Dit was Maria wat lekkerruik-olie op die Here se voete uitgegooi het en toe sy voete met haar hare afgedroog het. Haar broer Lasarus was siek. Die twee susters het iemand gestuur om vir Jesus te sê dat Lasarus siek is, Lasarus vir wie Jesus lief was. Toe Jesus hoor dat Lasarus siek is, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie vir Lasarus doodmaak nie. God sal sy siekte gebruik om te wys dat Hy God is. Dan sal die mense kan sien dat Ek, die Seun van God, ook God is.” Jesus was lief vir Marta en haar suster en vir Lasarus. Jesus het gehoor dat Lasarus siek is, maar Hy het nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan weer na Judea.” Sy dissipels het gesê: “ Rabbi, nie lank gelede nie wou die Jode U daar doodgooi met klippe. Hoekom wil U nou weer daarnatoe gaan?” Jesus het gesê: “'n Dag het twaalf ure. Wanneer 'n mens in die dag loop, dan val hy nie, want hy sien die lig van die son, die lig van hierdie wêreld. Maar wanneer iemand in die nag loop, dan val hy, want daar is nie lig nie.” Toe sê Jesus: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, dit is goed dat hy slaap. Dan sal hy gesond word.” Toe Jesus gesê het Lasarus slaap, het dit beteken Lasarus is dood. Die dissipels het gedink Jesus praat van slaap soos 'n mens in die nag slaap. Jesus het toe reguit vir hulle gesê: “Lasarus is dood. Ek is bly Ek was nie daar toe Lasarus gesterf het nie. Dit is goed vir julle, want wat Ek sal doen, sal julle help om te glo. Kom ons gaan nou na hom toe.”

JOHANNES 11:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die dorp waar Maria en haar suster Marta gewoon het. Maria was die vrou wat met reukolie die Here gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het. Dit was haar broer Lasarus wat siek was. Die susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.” Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad. Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. Eers daarna het Hy vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan terug na Judea toe.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?” Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf uur in 'n dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat hy nie die lig het nie.” Hierna het Hy vir hulle gesê: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.” Jesus het van Lasarus se dood gepraat, maar hulle het gedink Hy praat van die gewone slaap. Toe sê Jesus vir hulle reguit: “Lasarus is dood, en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.”

JOHANNES 11:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daar was 'n man met die naam Lasarus, wat siek was. Hy was van Betanië, die dorp van Maria en haar suster Martha. Dit was die Maria wat die Here met geurige olie gesalf en wat sy voete met haar hare afgedroog het, wie se broer Lasarus siek was. Die susters het toe iemand na Jesus gestuur om te sê: “Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek.” En toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte lei nie tot die dood nie, maar tot die verheerliking van God, sodat die •Seun van God daardeur verheerlik kan word. ” Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad. Toe Hy hoor van Lasarus se siekte, het Hy nog twee dae vertoef op die plek waar Hy was. Eers daarna sê Hy vir sy dissipels: “Kom ons gaan terug na Judea.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, onlangs nog het die Jode U probeer stenig, en U gaan weer daarheen?” En Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat die lig nie by hom is nie.” Nadat Hy dit gesê het, sê Hy vir hulle: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.” Maar Jesus het van sy dood gepraat, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van gewone slaap praat. Toe sê Jesus openlik vir hulle: “Lasarus het gesterf, en ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.”

JOHANNES 11:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En 'n sekere man was siek, met die naam van Lasarus, van Betanië, die stad van Maria en haar suster Marta. (Dit was daardie Maria wat die Here met salf gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het, wie se broer Lasarus siek was.) Daarom het sy susters na Hom gestuur en gesê: Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek. Toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood nie, maar tot eer van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word. En Jesus het Marta en haar suster en Lasarus liefgehad. Toe hy dan hoor dat hy siek was, het hy nog twee dae op dieselfde plek gebly waar hy was. Daarna sê Hy vir sy dissipels: Laat ons weer na Judéa gaan. Sy dissipels sê vir Hom: Meester, die Jode het onlangs probeer om U te stenig; en gaan jy weer daarheen? Jesus antwoord: Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand bedags wandel, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag wandel, struikel hy, omdat daar geen lig in hom is nie. Dit het Hy gesê: en daarna sê Hy vir hulle: Ons vriend Lasarus slaap; maar ek gaan, dat ek hom uit die slaap kan wakker maak. Toe sê sy dissipels: Here, as hy slaap, sal hy goed doen. Maar Jesus het van sy dood gepraat, maar hulle het gedink dat Hy gespreek het van rus in die slaap. Toe sê Jesus reguit vir hulle: Lasarus is dood. En ek is om julle ontwil bly dat ek nie daar was nie, sodat julle kan glo; laat ons tog na Hom toe gaan.

JOHANNES 11:1-15 Die Boodskap (DB)

In Betanië, so drie kilometer van Jerusalem af, het Lasarus met sy twee susters, Marta en Maria, gebly. Dit was dieselfde Maria wat die duur olie oor Jesus uitgegooi en toe Jesus se voete met haar hare afgedroog het. Jesus het baie van hulle almal gehou. Hy het ’n baie spesiale plekkie vir hulle gehad. Lasarus word toe baie siek. Sy susters het Jesus dadelik daarvan laat weet. Toe Jesus die nuus hoor, sê Hy: “Hierdie siekte beteken nie Lasarus se einde nie. Dit beteken wel dat mense sal kan sien hoe sterk God regtig is. En as mense dit sien, sal hulle sommer ook besef hoe belangrik die Seun van God is.” Daarom het Jesus besluit om eers twee dae later Betanië toe te gaan. Na ’n paar dae sê Hy vir sy volgelinge: “Kom, ons gaan na Lasarus-hulle toe.” Sy dissipels het dadelik vasgeskop, want dit was naby Jerusalem. “U kan dit nie doen nie! Het U so gou vergeet dat die Jode U nog ’n paar dae gelede met klippe wou doodgooi? Wat wil U nou weer daar gaan soek?” Jesus maak hulle toe stil. “Daar is twaalf ure lig per dag. En dit moet ’n mens gebruik. Terwyl dit lig is, kan jy sien wat jy doen. Jy sal nie oor goed loop en val of rondstrompel nie. Maar in die nag is dit heeltemal anders. As dit donker is, val jy oor alles. In die donker kan jy mos nie sien wat jy doen nie. Dus: terwyl die kans daar is, moet ’n mens doen wat gedoen moet word. Nou ja, om terug te kom na ons vriend Lasarus toe,” gaan Jesus verder, “hy slaap. Ek moet hom gaan wakker maak.” Dit was maar net ’n ander manier om te sê dat Lasarus dood was. Sy dissipels het gedink Jesus bedoel dat Lasarus regtig slaap. “Los vir Lasarus, Here. As hy slaap, kan hy mos self wakker word,” stel hulle voor. Toe praat Jesus sommer reguit met hulle: “Lasarus is nie meer met ons nie, hy’s dood. Maar dit is nie slegte nuus nie. Ek is bly Ek was nie daar toe dit gebeur het nie. En weet julle hoekom? As ons nou gaan, gaan dit vir julle baie beteken. Kom, laat ons loop.”

JOHANNES 11:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

’n Sekere man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die tuisdorpie van Maria en haar suster, Marta. Dit was Maria wat die Here met aromatiese olie gesalf het en toe sy voete met haar hare afgedroog het. Dit is haar broer Lasarus wat siek was. Die susters het toe iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek.” Jesus het die boodskap gehoor en gesê: “Hierdie siekte gaan nie op die dood uitloop nie, maar vind plaas om die heerlikheid van God sigbaar te maak sodat die Seun van God daardeur verheerlik word.” Jesus was lief vir Marta, haar suster en vir Lasarus. Toe Jesus gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy nog twee dae oorgebly op die plek waar Hy was. Eers hierna het Hy vir sy dissipels gesê: “Laat ons weer ’n keer Judea toe gaan.” Die dissipels sê toe vir Jesus: “Rabbi, laas wou die Jode daar U nog stenig, en U gaan wéér soontoe?” Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf werksure gedurende ’n dag nie? As iemand in die daglig rondloop, struikel hy nie omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. As iemand egter in die nag rondloop, struikel hy maklik omdat hy nie lig het nie.” Hierdie dinge het Jesus gesê, en daarna bygevoeg: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” Die dissipels het vir Jesus gesê: “Meneer, as hy slaap, sal hy mos gesond word.” Jesus het Lasarus se dood bedoel, maar hulle het gedink Hy praat van die natuurlike slaap. Toe sê Jesus reguit vir hulle: “Lasarus is dood, maar ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle kan glo. Laat ons dan na hom toe gaan.”