JOHANNES 15:5-12
JOHANNES 15:5-12 Bybel vir almal (ABA)
Ek is die wingerdstok. Julle is die lote. As julle by My bly en as Ek by julle bly, dan sal julle baie vrugte dra. As Ek nie by julle is nie, dan kan julle niks doen nie. As mense nie by My bly nie, dan sal met hulle gebeur wat met lote gebeur wat nie vrugte dra nie. Die mense gooi daardie lote weg, en dit word droog. Later vat hulle dit en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. Julle moet by My bly, en die dinge wat Ek vir julle sê, moet in julle harte bly. Dan kan julle vir My vra wat julle wil hê en Ek sal dit vir julle gee. As julle baie vrugte dra, en as julle my dissipels is, dan sal die mense weet my Vader is God. “Die Vader is lief vir My. So is Ek ook lief vir julle. Julle moet vashou aan my liefde, my liefde moet vir julle baie belangrik wees. Ek het vasgehou aan my Vader se liefde, want Ek het gedoen wat Hy gesê het. Julle moet dieselfde doen. As julle wil doen wat Ek sê, dan moet julle vashou aan my liefde. Ek sê dit vir julle, want Ek wil hê julle moet so bly wees soos Ek. Dan sal julle regtig baie bly wees. Ek het vir julle gewys hoe lief Ek vir julle is. Nou gee Ek vir julle 'n wet: Julle moet ook so lief wees vir mekaar.
JOHANNES 15:5-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry. Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees. Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly. Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word. Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het.
JOHANNES 15:5-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.” “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly. “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.
JOHANNES 15:5-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand nie in My bly nie, word hy soos 'n loot buite uitgegooi, en verdroog. Hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur. Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees.” “Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly dan in my liefde. As julle my gebooie onderhou, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader gehoorsaam het en in sy liefde bly. Dit het Ek vir julle gesê, sodat my blydskap in julle kan wees, en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my gebod: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het.
JOHANNES 15:5-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek is die wingerdstok, julle is die lote; wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos 'n loot en verdroog; en mense maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en hulle word verbrand. As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra wat julle wil, en julle sal dit kry. Hierin word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra; so sal julle my dissipels wees. Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad: bly in my liefde. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly; net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar het en in sy liefde bly. Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê soos Ek julle liefgehad het.
JOHANNES 15:5-12 Die Boodskap (DB)
“Stel julle dit goed voor: Ek is soos die druiwestok; julle is soos die takkies. Sonder die druiwestok beteken die takkies tog niks nie. Net so beteken julle ook niks sonder My nie. Leef elke oomblik van die dag in afhanklikheid van My. Ek sal dan elke oomblik by julle ook wees. So sal julle vir God ’n vrugbare lewe kan lei. Iemand wat op sy eie, sonder My, wil leef, sal uitvind dat hy dit nie kan doen nie. Hy sal soos ’n los, afgesnyde takkie in die vuur gegooi word. Saam met die ander takkies soos hy sal hulle daar tot as verbrand. “Maar julle, as julle altyd naby aan My bly soos ’n takkie wat aan ’n druiwestok vasgegroei is en getrou doen wat Ek vra, is daar vir julle regtig goeie nuus. “Julle kan maar in gebed vra wat julle nodig het om goeie, vrugbare takkies te wees, want julle sal dit kry. “En wat van my Vader, die boer? Wel, as my invloed net al meer in julle lewe gesien kan word, sal Hy tevrede wees.” “As julle My getrou volg, sal die wêreld God werklik raaksien vir wie Hy is. “Ek het julle net so lief soos die Vader My liefhet. Wikkel julle elke oomblik van die dag in hierdie liefde van My toe. Julle vra: Hoe kry ’n mens dit reg? As julle doen wat Ek vra en dit goed doen, wys julle hoe julle my liefde vir julle waardeer en geniet. Ek doen dit self. Ek doen wat my Vader vra omdat Ek sy liefde vir My so waardeer. “Weet julle hoekom sê Ek al hierdie dinge vir julle? Ek wil hê julle moet dieselfde vreugde en genot hê as Ek. Daar moet geen einde aan wees nie. Die geheim daarvoor is dit: Ek wil hê dat julle mekaar moet liefhê, net soos Ek julle liefhet. En hierdie liefde is nie net iets oppervlakkigs nie.
JOHANNES 15:5-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. Wie nie aan My verbind bly nie, word weggegooi soos ’n loot en verdroog. Hulle maak gewoonlik sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur en dit verbrand. As julle aan My verbind bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. Dit is juis hierin dat my Vader verheerlik word, dat julle baie vrugte oplewer en my dissipels is. “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet aan my liefde verbonde bly. As julle my opdragte gehoorsaam, sal julle aan my liefde verbonde bly, net soos Ek ook die opdragte van my Vader gehoorsaam het en aan sy liefde verbonde gebly het. Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het.