JOHANNES 15:9-13
JOHANNES 15:9-13 Bybel vir almal (ABA)
“Die Vader is lief vir My. So is Ek ook lief vir julle. Julle moet vashou aan my liefde, my liefde moet vir julle baie belangrik wees. Ek het vasgehou aan my Vader se liefde, want Ek het gedoen wat Hy gesê het. Julle moet dieselfde doen. As julle wil doen wat Ek sê, dan moet julle vashou aan my liefde. Ek sê dit vir julle, want Ek wil hê julle moet so bly wees soos Ek. Dan sal julle regtig baie bly wees. Ek het vir julle gewys hoe lief Ek vir julle is. Nou gee Ek vir julle 'n wet: Julle moet ook so lief wees vir mekaar. Die beste bewys van liefde is wanneer iemand vir sy vriende sterf sodat sy vriende kan lewe.
JOHANNES 15:9-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly. Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word. Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.
JOHANNES 15:9-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly. “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.
JOHANNES 15:9-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly dan in my liefde. As julle my gebooie onderhou, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader gehoorsaam het en in sy liefde bly. Dit het Ek vir julle gesê, sodat my blydskap in julle kan wees, en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my gebod: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende.
JOHANNES 15:9-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad: bly in my liefde. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly; net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar het en in sy liefde bly. Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê soos Ek julle liefgehad het. Niemand het groter liefde as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende aflê.
JOHANNES 15:9-13 Die Boodskap (DB)
“As julle My getrou volg, sal die wêreld God werklik raaksien vir wie Hy is. “Ek het julle net so lief soos die Vader My liefhet. Wikkel julle elke oomblik van die dag in hierdie liefde van My toe. Julle vra: Hoe kry ’n mens dit reg? As julle doen wat Ek vra en dit goed doen, wys julle hoe julle my liefde vir julle waardeer en geniet. Ek doen dit self. Ek doen wat my Vader vra omdat Ek sy liefde vir My so waardeer. “Weet julle hoekom sê Ek al hierdie dinge vir julle? Ek wil hê julle moet dieselfde vreugde en genot hê as Ek. Daar moet geen einde aan wees nie. Die geheim daarvoor is dit: Ek wil hê dat julle mekaar moet liefhê, net soos Ek julle liefhet. En hierdie liefde is nie net iets oppervlakkigs nie. As jy regtig jou liefde wil ‘toets’, toets dit hieraan: liefde beteken om bereid te wees om doodgemaak te word ter wille van jou vriende, net omdat hulle jou vriende is.
JOHANNES 15:9-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet aan my liefde verbonde bly. As julle my opdragte gehoorsaam, sal julle aan my liefde verbonde bly, net soos Ek ook die opdragte van my Vader gehoorsaam het en aan sy liefde verbonde gebly het. Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het. Niemand het ’n groter liefde as hierdie nie: dat iemand sy lewe opoffer ter wille van sy vriende.