JOHANNES 16:1-4
JOHANNES 16:1-4 Bybel vir almal (ABA)
“Ek het dit alles vir julle gesê sodat julle nie moet ophou glo nie. Die mense sal julle wegjaag uit die sinagoges. Daar sal 'n tyd kom wanneer die mense julle sal doodmaak en dan sal hulle dink hulle dien God. Hulle sal dit doen, want hulle ken nie die Vader nie en ook nie vir My nie. Ek sê dit alles vir julle, want wanneer die tyd kom en hulle doen dit, dan wil Ek hê julle moet onthou Ek het gesê dit sal gebeur.” Jesus het ook vir die dissipels gesê: “Ek het nie al hierdie dinge in die begin vir julle gesê nie, want Ek was by julle.
JOHANNES 16:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
HIERDIE dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle nie mag struikel nie. Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom 'n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy 'n diens aan God bewys. En dit sal hulle aan julle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie. Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer die uur kom, julle kan onthou dat Ek julle dit gesê het. Maar Ek het julle dit nie van die begin af gesê nie, omdat Ek saam met julle was.
JOHANNES 16:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Hierdie dinge sê Ek vir julle sodat julle nie afvallig word nie. Die mense sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom selfs 'n tyd dat elkeen wat een van julle doodmaak, sal dink dat hy 'n diens aan God bewys. En dit sal hulle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie. Maar Ek sê dit nou vir julle, sodat wanneer die tyd daarvoor aanbreek, julle daaraan moet dink dat Ek dit vir julle gesê het. Ek het dit egter nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was.”
JOHANNES 16:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Hierdie dinge het Ek vir julle gesê sodat julle nie sal struikel nie. Hulle sal julle uit die •sinagoges ban. Daar kom 'n tyd dat elkeen wat vir julle doodmaak, sal dink dat hy 'n diens aan God bewys. En hulle sal dit doen, omdat hulle die Vader nie ken nie, en My ook nie. Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer hulle tyd aanbreek, julle kan onthou dat Ek dit vir julle gesê het.” “Ek het hierdie dinge nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was.
JOHANNES 16:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, dat julle nie aanstoot mag neem nie. Hulle sal julle uit die sinagoges verdryf; ja, die tyd kom dat elkeen wat julle doodmaak, sal dink dat hy God dien. En hierdie dinge sal hulle aan julle doen, omdat hulle die Vader en My nie geken het nie. Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer die tyd kom, julle kan onthou dat Ek julle daarvan vertel het. En hierdie dinge het Ek van die begin nie vir julle gesê nie, omdat Ek by julle was.
JOHANNES 16:1-4 Die Boodskap (DB)
“Ek vertel hierdie dinge vir julle sodat julle reg kan wees vir die moeilike tye wat kom. Praat van gevaarlike tye - die Jode sal julle uit hulle byeenkomste jaag en julle verbied om weer daar te kom. En dit is nie al nie! In ’n stadium sal hulle julle selfs doodmaak en dan mekaar gelukwens met die groot guns wat hulle vir God gedoen het. Hulle sal hulle met sulke dinge besig hou omdat hulle nie weet wie Ek is nie en nog minder wie my Vader is. Wees gewaarsku. Moenie julle onkant laat vang wanneer hierdie dinge gebeur nie, want julle weet nou daarvan. Kry julle reg. Ek vertel julle nou eers daarvan, want dit was nie nodig om dit vroeër vir julle te sê nie. Ek was mos die hele tyd by julle.”
JOHANNES 16:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Ek het hierdie dinge nou vir julle uitgespel sodat julle nie struikel nie. Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom ’n tyd dat elkeen wat vir julle doodmaak, sal dink hy bewys ’n besondere guns aan God. Hulle sal hierdie dinge doen omdat hulle nie My of die Vader geken het nie. Ek het dit nou vir julle gesê sodat, wanneer hulle uur ook al slaan, julle moet onthou dat Ek dit vir julle gesê het. Ek het dit egter nie van die heel begin af vir julle gesê nie omdat Ek nog heeltyd saam met julle was.”