JOHANNES 19:1-42 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
JOHANNES 19:1-42 AFR83 (Afrikaans 1983)
Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gesel. Die soldate het 'n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom 'n pers mantel aangetrek en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap. Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.” Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!” Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!” “Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.” Die Jode sê toe vir hom: “Ons het 'n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.” Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?” Jesus het hom egter nie geantwoord nie. Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?” En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.” Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie 'n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.” Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!” Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!” Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?” Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie 'n koning nie; ons het net die keiser.” Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem. Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel. Pilatus het ook 'n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.” Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.” Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat 'n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.” Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê: “Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot.” Dit is wat die soldate gedoen het. By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem. Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” Daar het 'n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe 'n spons vol suur wyn op 'n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas. Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was 'n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. Maar een van die soldate het met 'n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom. Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” En verder sê die Skrif op 'n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.” Hierna het Josef van Arimatea, wat 'n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. Nikodemus, wat 'n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en 'n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê. By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar 'n tuin en in die tuin 'n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.
JOHANNES 19:1-42 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
TOE neem Pilatus dan vir Jesus en laat Hom gésel. En die soldate het 'n kroon van dorings gevleg en dit op sy hoof gesit, en 'n purper kleed om Hom gewerp en gesê: Wees gegroet, Koning van die Jode! En hulle het Hom in die aangesig geslaan. Pilatus gaan toe weer buitentoe en sê vir hulle: Kyk, ek bring Hom vir julle uit buitentoe, sodat julle kan weet dat ek in Hom geen skuld vind nie. En Jesus het uitgekom buitentoe en die doringkroon en die purperkleed gedra. En Pilatus sê vir hulle: Dáár is die mens! En toe die owerpriesters en die dienaars Hom sien, skreeu hulle en sê: Kruisig, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Neem julle Hom en kruisig Hom, want ek vind geen skuld in Hom nie. Die Jode antwoord hom: Ons het 'n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het. En toe Pilatus hierdie woord hoor, het hy nog meer bevrees geword en weer in die paleis ingegaan en vir Jesus gesê: Van waar is U? Maar Jesus het hom geen antwoord gegee nie. En Pilatus sê vir Hom: Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie? Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde. Hierop het Pilatus probeer om Hom los te laat, maar die Jode het geskreeu en gesê: As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, kom in verset teen die keiser. En toe Pilatus hierdie woord hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en op die regterstoel gaan sit in die plek wat Plaveisel genoem word, en in Hebreeus Gábbata. En dit was die voorbereiding vir die pasga en omtrent die sesde uur. Toe sê hy vir die Jode: Dáár is julle Koning! Maar hulle skreeu: Neem weg, neem weg, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie. Toe het hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei. EN Hy het sy kruis gedra en uitgegaan na die sogenaamde Hoofskedelplek, in Hebreeus Gólgota, waar hulle Hom gekruisig het en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, en Jesus in die middel. En Pilatus het ook 'n opskrif geskrywe en dit op die kruis gesit; en daar was geskrywe: JESUS, DIE NASARÉNER, DIE KONING VAN DIE JODE. Hierdie opskrif dan het baie van die Jode gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was; en dit was geskrywe in Hebreeus en Grieks en Latyn. En die owerpriesters van die Jode het vir Pilatus gesê: Moenie skrywe: Die Koning van die Jode nie; maar dat Hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode. Pilatus het geantwoord: Wat ek geskryf het, het ek geskrywe. En toe die soldate Jesus gekruisig het, neem hulle sy klere en maak vier dele, vir elke soldaat 'n deel, en die onderkleed; maar die onderkleed was sonder naat, van bo af in een stuk gewewe. En hulle het vir mekaar gesê: Laat ons dit nie skeur nie, maar laat ons die lot daaroor werp, wie s'n dit sal wees — sodat die Skrif vervul sou word wat sê: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad het hulle die lot gewerp. Dit het die soldate dan gedoen. En by die kruis van Jesus het gestaan sy moeder en sy moeder se suster, Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdaléna. En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem. Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was — sodat die Skrif vervul sou word — het Jesus gesê: Ek het dors! En daar het 'n kan vol asyn gestaan; en hulle het 'n spons met asyn gevul en op 'n hisopstingel gesit en aan sy mond gebring. En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee. En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was — want die dag van daardie sabbat was groot — het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word. Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en van die ander een wat saam met Hom gekruisig was; maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie. Maar een van die soldate het met 'n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom. En hy wat dit gesien het, het dit getuig, en sy getuienis is waaragtig; en hy weet dat hy die waarheid spreek, sodat julle kan glo. Want hierdie dinge het gebeur, dat die Skrif vervul sou word: Geen been van Hom sal gebreek word nie. En weer sê 'n ander Skrif: Hulle sal sien in wie hulle gesteek het. EN ná hierdie dinge het Josef van Arimathéa, wat 'n dissipel van Jesus was, maar in die geheim, uit vrees vir die Jode, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. En Pilatus het dit toegelaat. Hy het toe gegaan en die liggaam van Jesus weggeneem. En Nikodémus, wat die eerste maal in die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom met 'n mengsel van mirre en alewee van omtrent honderd pond gewig. En hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit in doeke toegedraai saam met die speserye, soos die gewoonte van die Jode is om te begrawe. En daar was op die plek waar Hy gekruisig is, 'n tuin, en in die tuin 'n nuwe graf waar nog nooit iemand in neergelê was nie. Daar het hulle Jesus toe neergelê weens die voorbereiding van die Jode, omdat die graf naby was.
JOHANNES 19:1-42 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Toe het Pilatus Jesus geneem en Hom laat gésel. En die soldate het ’n kroon van dorings gevleg en dit op Jesus se kop gesit. Hulle het ook vir Hom ’n pers kleed aangetrek, op Hom afgestorm en gesê: “Gegroet, Koning van die Jode!” Hulle het Hom aanhoudend met die vuis geslaan. Pilatus het weer ’n keer buitentoe gegaan en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe sodat julle kan besef dat ek hom onskuldig bevind.” Daarop het Jesus buitentoe gekom, met die kroon van dorings op sy kop en die pers mantel aan. Pilatus sê vir hulle: “Dáár is die mens!” Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, het hulle nog harder geskree: “Kruisig hom! Kruisig hom!” “Neem júlle hom en kruisig hom, want ek vind geen skuld in hom nie,” sê Pilatus daarop aan hulle. Die Jode het hom geantwoord: “Ons beskik oor ’n wet en daarvolgens moet hy sterf omdat hy homself as die Seun van God voorgehou het.” Toe Pilatus hierdie opmerking hoor, het hy nog banger geword, sy hoofkwartier binnegestap en weer vir Jesus gesê: “Waarvandaan kom jy?” Maar Jesus het hom nie geantwoord nie. Daarop reageer Pilatus toe: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die bevoegdheid het om jou vry te laat, en ook die bevoegdheid om jou te laat kruisig nie?” Jesus het hom geantwoord: “U sou geen bevoegdheid oor My hê as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, nog groter skuld.” Na aanleiding hiervan het Pilatus Jesus probeer vrylaat, maar die Jode het dit uitgeskreeu: “As u hom bevry, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as ’n koning voorhou, is in konflik met die keiser!” Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en self op die regterstoel gaan sit by ’n plek wat Klipterras genoem word, in Aramees “Gabbata”. Dit het saamgeval met die voorbereiding van die Paasfees, ongeveer twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Dáár is julle koning!” Hulle het net geskree: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!” Pilatus sê vir hulle: “Moet ek julle kóning kruisig?” Die priesterhoofde het geantwoord: “Ons het nie ’n koning nie, ons het slegs die keiser.” Pilatus het Jesus toe oorgegee om gekruisig te word. Daarop het hulle Jesus weggelei. Jesus het self die kruis gedra en uitgegaan na wat genoem is Kopbeenplek, in Aramees “Golgota”. Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom ook twee ander, aan weerskante van Jesus, met Hom in die middel. Pilatus het ’n kennisgewing geskryf en dit aan die bokant van die kruis aangebring. Daarop het gestaan: “Jesus van Nasaret, die koning van die Jode.” Baie van die Jode het hierdie kennisgewing gelees omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad geleë was. Die kennisgewing was in Aramees, Latyn en Grieks. Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skryf: ‘Die koning van die Jode’ nie, maar dat Hy gesê het: ‘Ek is die koning van die Jode.’” Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.” Die soldate het, toe hulle Jesus gekruisig het, sy bo-klere geneem en daarvan vier dele gemaak, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook die drarok geneem. Dit was ’n naatlose kleed, van bo tot onder aaneen geweef. Hulle het toe vir mekaar gesê: “Moenie dit skeur nie, laat ons liewer daaroor loot en só bepaal wie s’n dit sal wees.” Dit is gedoen sodat die Skrif vervul kan word: “Hulle het my bo-klere onder mekaar verdeel en oor my onderkleed het hulle die lot gewerp.” Tot sover dan wat die soldate gedoen het. Naby die kruis van Jesus het sy ma, sy ma se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy ma sien, en die lieflingdissipel wat by sy ma staan, sê Hy vir haar: “Vrou, dáár is u seun.” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, dáár is jou ma.” Van daardie uur af het die dissipel Jesus se ma by hom aan huis geneem. Hierna het Jesus, terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”’n Kruik vol suur wyn het daar gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptak gesit en dit teen sy mond gehou. Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê: “Dit is nou afgehandel!” Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas. Aangesien dit die voorbereiding vir die Sabbat was, wou die Jode nie hê dat die liggame op die Sabbat aan die kruis moes bly hang nie, want daardie spesifieke Sabbat was ’n belangrike een. Hulle het Pilatus toe gaan vra dat die kruiselinge se bene gebreek en die liggame verwyder moes word. Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig was. Toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy alreeds gesterf het, het hulle nie sy bene gebreek nie. Een van die soldate het egter sy spies in Jesus se sy gesteek en daar het dadelik bloed en water uitgevloei. Hy wat dit aanskou het, vertel dit gesaghebbend, en sy getuienis is waar. Hy weet ook dat hy die waarheid praat sodat ook julle tot geloof moet kom. Want hierdie dinge het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” Verder sê die Skrif: “Hulle sal Hom aanskou vir wie hulle deurboor het.” Hierna het Josef wat van Arimatea afkomstig was – omdat hy vir die Joodse leiers bang was, was hy ’n geheime dissipel van Jesus – Pilatus gaan vra of hy die liggaam van Jesus kon kry. Pilatus het dit toegestaan. Josef het toe die liggaam gaan haal. Nikodemus, wat Jesus die eerste keer gedurende die nag besoek het, het ook gekom en ’n mengsel van ongeveer 50 liter mirre en aalwyn gebring. Hulle het toe Jesus se liggaam geneem en dit in linnedoeke saam met die speserye toegevou soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir ’n begrafnis voor te berei. Op die plek waar Jesus gekruisig is, was ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf waarin nog niemand begrawe was nie. Met die oog op die Joodse dag van voorbereiding, en omdat die graf naby was, het hulle Jesus daar neergelê.
JOHANNES 19:1-42 DB (Die Boodskap)
Pilatus sê toe vir sy soldate om Jesus met die sweep met stukkies yster in oor sy rug te slaan. Die soldate het nie op hulle laat wag nie. Hulle het sommer ook takkies gevat wat skerp dorings aan gehad het, ’n kroon daarmee gevleg en dit op sy kop gedruk. Hulle het ook ’n pers mantel oor Hom gegooi sodat Hy kamma soos ’n koning aangetrek was. Hulle het Hom begin spot. Hulle het kastig eerbiedig nader na Hom toe gekom en Hom dan ewe ernstig soos ’n koning gegroet. En dan het hulle Hom weer geklap. Intussen het Pilatus weer buite met die Jode gaan gesels. “Ek gaan Jesus buitetoe bring, hier na julle toe. Ek wil hê julle moet besef dat Jesus myns insiens onskuldig is.” Juis toe kom Jesus uitgestap. Hy het nog die kroon van dorings opgehad en die pers mantel gedra. Pilatus kondig toe aan: “Kyk, hier is die man.” “Kruisig hom!” gil die leiers van die priesters en die polisie toe hulle Hom sien. “Nou toe, vat julle hom en kruisig hom. Ek gaan dit nie doen nie, want ek dink nie hy is skuldig nie,” was Pilatus se reaksie. Die Jode reageer toe: “Volgens ons wet verdien hy nie om een oomblik langer te leef nie. Hy moet dood, want hy het mos kom maak of hy die Seun van God is.” Dit het Pilatus nogal laat skrik. Hy is dadelik weer die vesting in. (Jesus is intussen binnetoe gevat.) “Waar kom jy vandaan?” loop hy Jesus sommer trompop. Jesus het net stilgebly. “Vir wat praat jy nie met my nie?” sê Pilatus. “Het jy miskien vergeet dat ek jou hier vry kan laat uitstap as ek wil? Of as ek wil, kan ek jou hier buite aan ’n kruis laat ophang tot jy dood is.” Jesus sê toe: “Jy sou niks aan My kon doen as God dit nie so wou gehad het nie. Daarom het die een wat gesorg het dat Ek nou hier geboei staan, ’n baie groter flater in die oë van God gemaak as wat jy het.” Pilatus het toe allerhande planne begin maak om Jesus los te laat. Die Jode het agtergekom wat besig was om te gebeur. Hulle skree toe: “As jy dit waag om Jesus los te laat, bewys jy dat jy ook teen die keiser gedraai het. Dink net daaraan: hierdie man wil homself as koning op die troon sit. Daarmee wil hy die keiser aan die ander kant van die troon afstoot.” Hierdie woorde was vir Pilatus te veel. Hy gaan sit toe op sy stoel waarop hy gewoon-lik sy finale hofuitspraak gemaak het. Die mense het dit “die kliptrap” genoem. (In Hebreeus is dit Gabbata.) Pilatus het Jesus ook laat kom. Dit was omtrent twaalfuur op die dag waarop die Jode alles reggemaak het vir die paasfees. Pilatus kondig toe plegtig aan: “Kyk, hier staan julle koning.” Toe skree die Jode eers: “Weg met hom! Weg met hom! Kruis toe!” Pilatus vra hulle toe: “Bedoel julle dit regtig? Moet ek regtig julle koning aan ’n kruis laat hang tot hy dood is?” Die leiers onder die priesters sê toe: “Hierdie man is g’n ons koning nie. Ons het net een koning: die keiser van Rome.” Pilatus het die Jode hulle sin gegee. Hy het hulle toegelaat om Jesus te gaan kruisig. So het dit dan gebeur dat hulle met Jesus kon doen wat hulle so lankal beplan het. Jesus het van die vesting van Pilatus af gestap met die kruis oor sy skouer. Hy, met die klomp mense, is na die “Plek van die Kopbeen” toe (in Hebreeus het die mense van Golgota gepraat). Daar het hulle Hom aan die kruis opgehang om dood te gaan. Saam met Hom het hulle nog twee gekruisig, een aan elke kant, met Hom in die middel. Pilatus het ook ’n nota geskryf en dit aan Jesus se kruis laat vasmaak. Dit het gesê waarom Jesus gekruisig is. Hy het geskryf: “Jesus, uit Nasaret. Die koning van die Jode.” Pilatus het die nota in drie tale laat skryf: Hebreeus, Latyn en Grieks. Die kruise het vlak by die stad gestaan. Baie Jode het daar verbygestap en gelees wat Pilatus se nota gesê het. Die leiers van die priesters was baie ontevrede daaroor. Hulle is reguit na Pilatus toe. “Moet asseblief nie skryf ‘koning van die Jode’ nie. Dis nie reg nie. Skryf liewer: ‘Hierdie man het beweer: Ek is die koning van die Jode.’” Pilatus het voet by stuk gehou: “Wat ek geskryf het, is finaal. Dit bly net so.” Die soldate wat Jesus gekruisig het, vat toe Jesus se klere. Hulle pak dit in vier hopies; ’n hopie vir elkeen wat gehelp het. Die kledingstuk wat Jesus gedra het, was uit een stuk materiaal gemaak. Dit was nie stukke lappe wat aanmekaargewerk was nie. Die soldate bespreek toe die saak: “Dit sal darem ’n groot skade wees om hierdie kledingstuk in stukke te skeur. Kan ons nie liewer lootjies trek nie?” So gesê, so gedaan! Sonder dat hulle dit besef het, het hulle maar net gedoen wat die Skrif lankal gesê het hulle sou doen: “Hulle het my klere onder mekaar uitgedeel. Vir my kledingstuk het hulle lootjies getrek.” Dit is presies wat hulle gedoen het. Die soldate was nie die enigste mense by die kruis nie. Jesus se ma en sy tannie Maria (wat met Klopas getroud was) en Maria Magdalena was ook daar. Toe Jesus sy ma daar sien staan saam met sy volgeling vir wie Hy ’n baie spesiale plek gehad het, sê Hy: “Ma, laat hy van nou af jou seun wees.” Hy kyk toe vir sy volgeling: “My vriend, laat sy van nou af jou ma wees.” Van toe af het Maria by hom gaan bly en hy het haar versorg. Jesus was nou tevrede dat Hy alles gedoen het wat Hy moes doen. Hy sê toe: “Ek is dors.” (Die Skrif het mos gesê dat Hy so sou sê.) Naby die kruis het iemand se bottel suur wyn gelê. Die mense vat toe die wyn en gooi daarvan oor ’n spons. Met ’n takkie wat hulle van ’n hisopplant afgebreek het, lig hulle die spons toe tot by Jesus se mond. Jesus het sy lippe en mond daarmee natgemaak. Hy sê toe: “Nou het Ek alles gedoen wat Ek moes doen.” Sy kop het vooroor geval en Hy het sy laaste asem uitgeblaas. Dit het op die Vrydag gebeur. Mense was besig om alles reg te kry vir die paasfees. Dit was vir hulle ’n baie belangrike dag, want daardie jaar het die fees en die sabbat saamgeval. Die Jode se godsdienstige reëls het dit verbied dat Jode op die sabbat nog aan ’n kruis mag hang. Hulle is toe na Pilatus toe en het hom gevra om die mense wat aan die kruis gehang het se bene te breek. Die skok sou help dat hulle gouer doodgaan. Dan kon hulle hulle van die kruis afhaal voor die sabbat begin. Pilatus het gesê hulle kon dit laat doen. Die soldate het toe die bene gebreek van die twee mans wat saam met Jesus daar gehang het. Toe hulle by Jesus kom, sien hulle dat Hy klaar dood was. Dit was toe nie nodig om sy bene te breek nie. Om seker te maak dat Jesus dood was, steek een van die soldate Jesus in sy sy met ’n spies. Daar het bloed en water uit die wond geloop. Dit is nie sommer stories dié nie. Dit het regtig gebeur. Daardie man het dit met sy eie oë gesien. Hy praat die waarheid en sal nie lieg nie. Julle kan maar glo wat hy vertel. Die Skrif het mos lankal gesê dit sou gebeur. Luister net: “Hulle sal nie ’n enkele been van Hom breek nie,” staan daar op een plek, en op ’n ander plek: “Hulle sal kyk na die Een wat hulle met die spies gesteek het.” Josef wat uit Arimatea gekom het, was ook ’n volgeling van Jesus. Hy het dit egter probeer stilhou, want hy was bang dat die Jode hom iets sou aandoen as hulle dit uitvind. Toe alles verby was, is hy na Pilatus toe. Hy vra Pilatus toe reguit of hy maar Jesus se liggaam kon gaan begrawe. (As niemand die lyke gevat het nie, het die soldate dit gewoonlik sommer eenkant in ’n vlak graf gegooi.) Pilatus het vir Josef gesê hy kon dit maar doen. Hy het toe Jesus se liggaam van die kruis afgehaal en weggevat. Nikodemus het ook bygekom. (Dit was mos hy wat destyds in die nag na Jesus toe gekom het.) Hy het ’n klomp mirre en aalwyn by hom gehad om Jesus se liggaam vir die graf reg te kry. Altesaam het dit so 33 kilogram geweeg. Hulle het Jesus se liggaam mooi in linne toegedraai. Die linne was deurweek van die mirre en aalwyn. Dit is wat die Jode destyds gedoen het as hulle iemand begrawe het. Jesus se kruis het in ’n tuin gestaan. In die tuin was daar ook ’n graf wat pas klaar uit die rots gekap was. Dit het soos ’n kamer gelyk. Hulle het Jesus net daar begrawe. Hy was die eerste een wat in dié grafkamer begrawe is. Dit was gerieflik en naby, want die tyd was min. Hulle moes ook nog alles vir die Jode se fees gaan regkry voor die son gesak en die sabbat begin het.
JOHANNES 19:1-42 ABA (Bybel vir almal)
Toe het Pilatus vir die soldate gesê hulle moet vir Jesus met 'n sweep slaan. Die soldate het 'n kroon van dorings gevleg en hulle het dit op Jesus se kop gesit. Hulle het vir Jesus pers klere aangetrek. Toe het hulle weer en weer na Hom toe geloop en gesê: “Ons groet jou, Koning van die Jode!” Elke maal het hulle Hom geklap. Pilatus het weer buitetoe gegaan. Hy het vir die Jode gesê: “Kyk, ek sal nou vir Jesus buitetoe laat kom na julle toe, sodat julle kan weet ek dink Jesus het niks verkeerd gedoen nie.” Toe het Jesus buitetoe gekom. Die doringkroon was nog op sy kop en Hy het nog die pers klere aangehad. Pilatus het vir die Jode gesê: “Kyk hoe lyk die man nou!” Toe die priesterleiers en hulle wagte vir Jesus sien, skree hulle vir Pilatus: “Jy moet hom kruisig! Jy moet hom kruisig!” Pilatus het vir hulle gesê: “Nee, vat júlle hom en gaan kruisig hom. Ek dink hy het niks verkeerd gedoen nie.” Die Jode het vir Pilatus gesê: “Ons het wette en ons wette sê ons moet vir Jesus doodmaak, want hy het gesê hy is die Seun van God.” Toe Pilatus hoor wat die Jode sê, het hy nóg banger geword. Pilatus het weer ingegaan in sy huis. Hy het vir Jesus gesê: “Jy moet vir my sê van waar jy kom.” Maar Jesus het nie vir Pilatus geantwoord nie. Toe sê Pilatus vir Jesus: “Hoekom praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek kan besluit of jy vry sal wees en of die soldate jou sal kruisig nie?” Jesus het vir Pilatus gesê: “Nee, jy kan dit nie self besluit nie. God het besluit jy mag sê wat met My moet gebeur. Daarom doen die mense wat My na jou toe gebring het, groter sonde as jy.” Toe Pilatus hoor wat Jesus sê, het hy probeer om vir Jesus te laat gaan, maar die Jode het hard geskree: “As jy vir Jesus laat gaan, dan is jy nie die keiser se vriend nie. Jesus het gesê hy is 'n koning. Daarom is hy 'n vyand van die keiser.” Toe Pilatus hoor wat die Jode sê, het hy vir Jesus buitetoe laat bring. Pilatus het op die regterstoel gaan sit. Die plek waar die regterstoel gestaan het, se naam was die Klipstoep. Die Hebreeuse naam van die plek is Gabbata. Dit was die dag voor die Paasfees, die dag waarop die Jode alles gereedgemaak het vir die Paasfees. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Pilatus het vir die Jode gesê: “Kyk, hier is julle koning!” Hulle het hard geskree: “Jy moet vir Jesus wegvat! Jy moet hom wegvat! Jy moet hom laat kruisig!” Pilatus het vir hulle gevra: “Moet ek vir Jesus, julle koning, laat kruisig?” Die priesterleiers het vir Pilatus gesê: “Jesus is nie ons koning nie! Ons het net een koning, en dit is die keiser!” Toe het Pilatus gesê die priesterleiers mag vir Jesus vat en Hom laat kruisig. Die soldate het vir Jesus weggevat om Hom te kruisig. Jesus het self sy kruis gedra en Hy het uit die stad gegaan, na die Kopbeenplek. Die Hebreeuse naam van die plek is Golgota. Daar het die soldate vir Jesus gekruisig. Hulle het twee ander mans saam met Hom gekruisig, een links langs Jesus en een regs langs Hom. Pilatus het op 'n plank bo-aan die kruis laat skryf: “Hier hang Jesus van Nasaret, die koning van die Jode.” Baie Jode het gelees wat daar geskryf was, want die plek waar die soldate vir Jesus gekruisig het, was naby die stad. Die woorde op die plank was in Hebreeus, Latyn en Grieks. Die Joodse priesterleiers het toe vir Pilatus gaan sê: “Jy moenie skryf: ‘Jesus, die koning van die Jode’ nie. Jy moet skryf: ‘Jesus het gesê hy is die koning van die Jode.’ ” Pilatus het vir hulle gesê: “Ek het dit geskryf en ek sal dit nie verander nie.” Nadat die soldate vir Jesus gekruisig het, het hulle sy klere gevat. Hulle het sy bo-klere in vier dele gedeel, en elke soldaat het 'n deel gekry. Jesus se onderkleed was alles een stuk materiaal, dit het nie 'n naat gehad nie. Die soldate het vir mekaar gesê: “Ons moenie die onderkleed stukkend skeur nie. Dit sal beter wees as ons lootjies trek om te sien wie dit moet kry.” Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat in die Ou Testament geskryf is. Daar is geskryf: Hulle het my klere tussen hulle gedeel. Hulle het lootjies getrek oor my klere. Dit is wat die soldate gedoen het. Jesus se ma het naby sy kruis gestaan. Haar suster was ook daar, ook Maria vrou van Klopas, en Maria Magdalena. Jesus het gesien sy ma staan daar en ook die dissipel vir wie Hy lief was. Toe sê Jesus vir sy ma: “Mevrou, daardie dissipel is nou jou seun.” En Hy sê vir daardie dissipel: “Daardie vrou is nou jou ma.” Van toe af het daardie dissipel vir Jesus se ma by hom laat woon. Jesus het geweet al sy werk op aarde was nou klaar. Daarom het Hy gesê: “ Ek is dors.” Hy het dit gesê sodat dit waar kan word wat in die Ou Testament geskryf is. Daar het 'n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het 'n spons vol suur wyn gemaak en hulle het dit op 'n hisop-tak gesit. Hulle het dit teen Jesus se mond gedruk. Jesus het die wyn gedrink en gesê: “Nou het Ek my werk klaar gedoen!” Hy het sy kop vorentoe gebuig en Hy het gesterf. Dit was die dag toe die Jode alles gereedgemaak het vir die Sabbatdag, 'n baie belangrike Sabbatdag. Die Jode wou nie hê Jesus en die ander twee mans se liggame moet op die Sabbatdag aan die kruise hang nie. Daarom het die Jode vir Pilatus gevra dat sy soldate eers hulle bene moet breek voordat die soldate die liggame van die kruise afhaal. Die soldate het gegaan en hulle het die eerste man se bene gebreek. Toe het hulle ook die bene gebreek van die ander man wat saam met Jesus gekruisig is. Toe die soldate by Jesus kom, sien hulle Jesus is klaar dood. Daarom het hulle nie sy bene gebreek nie, maar een van die soldate het 'n spies in Jesus se sy gesteek en dadelik het daar bloed en water uitgekom. Die man wat dit alles sien gebeur het, het dit vertel. Wat hy vertel het, is die waarheid. Hy weet dat hy die waarheid praat. Hy doen dit sodat julle kan glo. Dit alles het gebeur sodat dit waar kon word wat in die Ou Testament geskryf is: “ Die mense sal nie sy bene breek nie.” Op 'n ander plek in die Ou Testament is geskryf: “ Hulle sal Hom sien, Hy is die Een, hulle het Hom met 'n spies gesteek.” Josef van die stad Arimatea was 'n dissipel van Jesus, maar dit was 'n geheim, want hy was bang vir die Jode. Nadat Jesus gesterf het, het Josef vir Pilatus gevra of hy Jesus se liggaam mag wegneem. Pilatus het gesê hy mag dit doen. Toe het Josef gegaan en hy het Jesus se liggaam gaan afhaal van die kruis. Nikodemus, wat voorheen in die nag na Jesus toe gekom het, het ook kom help. Hy het 'n groot klomp mirre en aalwyn gemeng en hy het dit saamgebring. Josef van Arimatea en Nikodemus het Jesus se liggaam geneem en hulle het dit met lappe toegedraai saam met die mirre en aalwyn. Die Jode het dit altyd gedoen voordat hulle iemand begrawe het. Op die plek waar die soldate vir Jesus gekruisig het, was daar 'n tuin. In die tuin was daar 'n nuwe graf. Die mense het nog nooit iemand in daardie graf begrawe nie. Josef van Arimatea en Nikodemus het Jesus se liggaam in daardie graf gaan sit, want die graf was daar naby en dit was die dag voor die Sabbatdag, die dag wanneer die Jode alles moes gereedmaak vir die Sabbatdag.
JOHANNES 19:1-42 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Toe het •Pilatus Jesus geneem en Hom laat gesel. Die soldate het 'n kroon van doringtakkies gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het ook 'n purperrooi mantel vir Hom omgehang en na Hom gegaan en aangehou sê: “Gegroet, koning van die Jode!” En hulle het Hom herhaaldelik geklap. Pilatus het weer uitgekom na buite en vir hulle gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle na buite, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.” Jesus het uitgekom na buite, met die doringkroon op sy kop en met die purperrooi mantel om. Pilatus sê toe vir hulle: “Kyk, die mens!” Toe die leierpriesters en die tempelwagte Hom sien, het hulle geskreeu: “Kruisig, kruisig!” Pilatus het vir hulle gesê: “Vat julle hom en kruisig hom, want ek vind geen skuld in hom nie.” Die Jode antwoord hom toe: “Ons het 'n wet, en volgens dié wet moet hy sterf, omdat hy homself •Seun van God gemaak het. ” Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy nog meer beangs geword. Hy het die pretorium weer binnegegaan en vir Jesus gesê: “Van waar is u?” Jesus het hom egter nie 'n antwoord gegee nie. Pilatus sê toe vir Hom: “Praat u nie met my nie? Weet u nie dat ek volmag het om u vry te laat, maar ook volmag om u te laat kruisig nie?” Jesus het hom geantwoord: “U sou geen volmag oor My gehad het as dit nie van bo aan u gegee is nie. Daarom is hy wat My aan u oorgelewer het, aan 'n groter sonde skuldig.” Van dié oomblik af het Pilatus aanhoudend probeer om Hom vry te laat, maar die Jode het geskreeu: “As u hierdie man vrylaat, is u nie 'n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself koning maak, verset hom teen die keiser.” Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy Jesus na buite gebring, en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipplaveisel genoem word – in Hebreeus Gabbata . Dit was die Voorbereidingsdag vir die Pasga, ongeveer die sesde uur. Toe sê Pilatus vir die Jode: “Kyk, daar is julle koning!” Hulle het egter geskreeu: “Weg, weg met hom! Kruisig hom!” Pilatus sê vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?” Die leierpriesters het geantwoord: “Ons het nie 'n koning nie, slegs die keiser.” Toe lewer hy Hom aan hulle uit om gekruisig te word. En hulle het Jesus weggelei. Jesus het self die kruis gedra, en het uitgegaan na die sogenaamde ‘Kopbeenplek’, in Hebreeus Golgota genoem. Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel. •Pilatus het ook 'n kennisgewing laat skryf en dit aan die kruis vasgeheg. Daarop het geskryf gestaan: “Jesus, die Nasarener, die koning van die Jode.” Baie van die Jode het hierdie kennisgewing gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad geleë was. Dit was geskryf in Hebreeus, Latyn en Grieks. Die leierpriesters van die Jode sê toe vir Pilatus: “Moenie skryf, ‘Die koning van die Jode’ nie, maar dat daardie man gesê het, ‘Ek is koning van die Jode.’ ” Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.” Toe die soldate Jesus gekruisig het, het hulle sy bokleed geneem en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat 'n deel, en so ook sy onderkleed. Maar die onderkleed was naatloos, van bo tot onder aaneen geweef. Hulle sê toe vir mekaar, “Laat ons dit nie skeur nie, maar loot wie dit moet kry,” sodat die Skrif vervul sou word wat sê: “Hulle het my boklere onder mekaar gedeel en oor my klere het hulle die lot gewerp.” Dit is wat die soldate toe gedoen het. By die kruis van Jesus het sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en ook Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was, wat by haar staan, sê Hy vir sy moeder: “Vrou, kyk, daar is u seun!” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, daar is jou moeder!” En van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem. Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles reeds volbring is, en sodat die Skrif vervul sou word, gesê: “Ek is dors.” Daar het 'n kruik vol suur wyn gestaan. Hulle sit toe 'n spons vol suur wyn op 'n marjoleintak en bring dit na sy mond. Toe Jesus die suur wyn geneem het, sê Hy: “Dit is volbring!” En Hy het sy kop vooroor gebuig en sy gees oorgegee. Aangesien dit die Voorbereidingsdag was, en sodat die liggame nie aan die kruis sou bly op die Sabbat nie – want daardie Sabbat was 'n belangrike dag – het die Jode vir •Pilatus gevra dat die bene gebreek en die liggame verwyder moet word. Die soldate het toe gekom en die eerste een se bene gebreek, en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig is. Maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy reeds dood was, het hulle nie sy bene gebreek nie. Een van die soldate het egter met 'n spies in Jesus se sy gesteek, en onmiddellik het daar bloed en water uitgekom. Hy wat dit gesien het, het daarvan getuig, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat ook julle tot geloof kan kom. Want hierdie dinge het plaasgevind sodat die Skrif vervul sou word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” En 'n ander Skrifdeel sê weer: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.” Hierna het Josef van Arimatea, wat uit vrees vir die Jode in die geheim 'n dissipel van Jesus was, •Pilatus gaan vra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. Pilatus het dit toegestaan. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. Nikodemus, wat voorheen gedurende die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom en 'n mengsel van ongeveer 'n honderd litra mirre en adelhout gebring. Hulle het toe Jesus se liggaam geneem en dit saam met geurige speserye in linnedoeke toegedraai, soos dit die Jode se gebruik is by 'n begrafnis. By die plek waar Hy gekruisig is, was daar 'n tuin, en in die tuin 'n nuwe graf waarin niemand nog ooit neergelê is nie. Daar het hulle Jesus toe neergelê, omdat dit die Voorbereidingsdag van die Jode was, en aangesien die graf daar naby was.
JOHANNES 19:1-42 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Pilatus het toe vir Jesus geneem en Hom gegésel. En die soldate het 'n doringkroon gevleg en dit op sy hoof gesit, en hulle het hom 'n purper kleed aangetrek, en gesê: Wees gegroet, Koning van die Jode! en hulle het hom met hul hande geslaan. Pilatus het dan weer uitgegaan en vir hulle gesê: Kyk, ek bring hom na julle uit, sodat julle kan weet dat ek geen skuld by hom vind nie. Toe het Jesus uitgekom, met die doringkroon en die purper kleed gedra. En Pilatus sê vir hulle: Daar is die man! Toe die owerpriesters en die dienaars Hom dan sien, het hulle uitgeroep en gesê: Kruisig Hom, kruisig Hom. Pilatus sê vir hulle: Neem Hom en kruisig Hom, want ek vind geen skuld in Hom nie. Die Jode antwoord hom: Ons het 'n wet, en volgens ons wet behoort hy sterwe, omdat hy homself die Seun van God gemaak het. Toe Pilatus dan hierdie woord hoor, het hy nog banger geword; En hy het weer in die regslokaal gegaan en vir Jesus gesê: Waar is U vandaan? Maar Jesus het hom geen antwoord gegee nie. Toe sê Pilatus vir Hom: Spreek jy nie met my nie? Weet jy nie dat Ek mag het om jou te kruisig en mag het om jou vry te laat nie? Jesus antwoord: Jy sou hoegenaamd geen mag teen My kon hê as dit jou nie van bo gegee was nie; daarom het hy wat My aan jou oorgegee het, die groter sonde. En van nou af het Pilatus probeer om hom vry te laat, maar die Jode het uitgeroep en gesê: As jy hierdie man laat gaan, is jy nie die keiser se vriend nie; Toe Pilatus dan hierdie woord hoor, het hy Jesus na vore gebring en op die regterstoel gaan sit op 'n plek wat die plaveisel genoem word, maar in die Hebreeus Gabbata. En dit was die voorbereiding van die pasga en omtrent die sesde uur, en hy sê vir die Jode: Hier is julle Koning! Maar hulle het uitgeroep: Weg met Hom, weg met Hom, kruisig Hom. Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie. Toe het Hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei. En hy het sy kruis gedra en uitgegaan na 'n plek wat die plek van 'n skedel genoem word, wat in die Hebreeus Golgota genoem word. Waar hulle Hom gekruisig het, en twee ander saam met Hom, aan weerskante een, en Jesus in die middel. En Pilatus het 'n titel geskryf en dit aan die kruis gesit. En die skrif was: JESUS VAN NASARET, DIE KONING VAN DIE JODE. Hierdie titel het toe baie van die Jode gelees, want die plek waar Jesus gekruisig is, was naby die stad, en dit was geskryf in Hebreeus en Grieks en Latyn. Toe sê die owerpriesters van die Jode vir Pilatus: Skryf nie: Die Koning van die Jode nie; maar dat hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode. Pilatus antwoord: Wat ek geskryf het, het ek geskryf. Toe die soldate Jesus gekruisig het, het hulle sy klere geneem en vier dele gemaak, vir elke soldaat 'n deel; en ook sy mantel: nou was die mantel sonder naat, van bo af deurgaans geweef. Hulle het toe onder mekaar gesê: Laat ons dit nie skeur nie, maar die lot werp oor wie dit moet wees, sodat die Skrif vervul sou word wat sê: Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en oor my gewaad het hulle die lot gewerp. Hierdie dinge het die soldate dan gedoen. En daar staan by die kruis van Jesus sy moeder en sy moeder se suster, Maria, die vrou van Kleofas, en Maria Magdalena. Toe Jesus dan sy moeder sien staan en die dissipel wat Hy liefgehad het, sê Hy vir sy moeder: Vrou, daar is jou seun! Toe sê Hy vir die dissipel: Hier is jou moeder! En van daardie uur af het daardie dissipel haar na sy eie huis geneem. Hierna, omdat Jesus geweet het dat alles nou volbring was, sodat die Skrif vervul sou word, sê Jesus: Ek het dors. En daar het 'n houer vol asyn gestaan, en hulle het 'n spons met asyn gevul en dit op hisop gesit en dit aan sy mond gesit. Toe Jesus dan die asyn ontvang het, sê Hy: Dit is volbring; Die Jode het dan, omdat dit die voorbereiding was, dat die liggame nie op die sabbatdag aan die kruis sou bly nie, (want daardie sabbatdag was 'n hoë dag), Pilatus gesmeek dat hulle bene gebreek moes word en hulle geneem moes word weg. Toe kom die soldate en breek die bene van die eerste en van die ander wat saam met Hom gekruisig is. Maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy reeds dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie. Maar een van die soldate het met 'n spies sy sy deurboor, en dadelik het bloed en water daar uitgekom. En hy wat dit gesien het, het getuig, en sy getuienis is waar; en hy weet dat hy die waarheid sê, sodat julle kan glo. Want hierdie dinge het gebeur, dat die Skrif vervul sou word: Geen been van Hom sal gebreek word nie. En weer sê 'n ander Skrif: Hulle sal Hom aansien vir wie hulle deurboor het. En hierna het Josef van Arimathéa, wat 'n dissipel van Jesus was, maar in die geheim uit vrees vir die Jode, Pilatus gesmeek dat hy die liggaam van Jesus moes wegneem; en Pilatus het hom verlof gegee. Hy het toe gekom en die liggaam van Jesus geneem. En Nikodemus het ook gekom, wat eers in die nag na Jesus gekom het en 'n mengsel van mirre en aalwyn gebring het, omtrent 'n honderd pond gewig. Toe het hulle die liggaam van Jesus geneem en dit in linneklere toegedraai met die speserye, soos die Jode se manier is om te begrawe. En op die plek waar Hy gekruisig is, was daar 'n tuin; en in die tuin 'n nuwe graf waarin nog nooit 'n mens gelê is nie. Daar het hulle Jesus dan neergelê vanweë die voorbereidingsdag van die Jode; want die graf was naby.